Keil koorsblare jou op?

Koorsblare kom veral op die lippe en omliggende vel voor en begin met ’n jeukerige sensasie, gevolg deur ’n rooi kol en ’n blasie wat mettertyd ’n geel kors vorm. (Foto: iStock)

Benewens die koue dae wat die winter bring, sukkel baie mense in dié tyd van die jaar ook met koorsblare. Uiterste temperature (hitte óf koue), spanning en ’n immuunstelsel wat onder druk is, is snellers wat koorsblare kan aanvuur.

Koorsblare word veroorsaak deur die herpesvirus en kom selfs by kinders voor. Omdat dit ’n virale infeksie is wat in die senuweeselle is, help antibiotika nie. ’n Mens kry verskeie soorte herpesvirusse, soos Herpes 1 wat mondkoorsblare veroorsaak, Herpes 2 wat genitale herpes veroorsaak, en Herpes Zoster wat waterpokkies en gordelroos veroorsaak.

Koorsblare kom veral op die lippe en omliggende vel voor en begin met ’n jeukerige sensasie, gevolg deur ’n rooi kol en ’n blasie wat mettertyd ’n geel kors vorm. Koorsblare is hoogs aansteeklik en ofskoon die simptome binne sewe tot twaalf dae sonder spesifieke behandeling verdwyn, bly die virus sluimerend en kan dit later weer kop uitsteek.

Algemene oorsake

  • Spanning en moegheid
  • Hormoonskommelings tydens menstruasie
  • Oormatige blootstelling aan sonlig
  • ’n Verswakte immuunstelsel
  • Ander bakteriële of virusinfeksies.

Probeer ’n natuurlike oor-die-toonbank-produk wat propolis bevat om koorsblare te behandel. (Foto: iStock)

Behandeling

  • Sit ys op wanneer die jeukerige sensasie begin en smeer ’n room aan wat asiklovir bevat.
  • Maak die area skoon en gebruik ’n antiseptiese room of petroleumjellie om te keer dat die kors bars en die infeksie vererger.
  • Antivirale medikasie sal ook wondere verrig.
  • Gebruik ’n goeie sonskerm, ook op jou lippe.
  • Gebruik vitamien C- of sinktablette of oorweeg ’n vitamien B12- of B-kompleks-inspuiting.

Die natuurlike manier

Probeer ’n natuurlike oor-die-toonbank-produk wat propolis bevat. Propolis word deur heuningbye vervaardig uit natuurlike stowwe wat deur bome en plante afgeskei word. Dit word deur bye as ’n soort gom en seëlaar gebruik wat die korwe steriel hou. Kliniese studies het bewys dat dit die letsel tot vier dae vinniger gesond kan maak en die pyn aansienlik verminder.

Wat van gewone mondsere?

Mondsere word afteuse stomatitis genoem. Dit kom gewoonlik aan die binnekant van die mond voor en is wit of geel, met ’n rooi ring om die seer. Dit is nie aansteeklik nie. Behandel met ’n antiseptiese mondspoelmiddel soos chloorheksidien. ’n Plaaslikeverdowingsalf sal die gevoeligheid verlig.

  • Raadpleeg jou dokter of apteker as die simptome nie opklaar nie of vererger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieterbusa ·

Koorsblare het my elke jaar beetgekry van kleins af. So paar jaar gelede het ek begin een Zink pilletjie drink elke oggend. Geen meer koorsblare. Dit werk vir my.

Marie ·

Ivermektien help ook teen koorsblare. Smeer net ‘n druppel aan. Dit is ‘n antivirale middel.

Wonder ·

Ek het ook n paar jaar gelede gesukkel met die koorsblaar, kan nie onthou waar ek die raad gekry het nie, maar ek het elke dag n koppie rossyntjies geeet vir n week lank en tot vandag toe het ek nie weer n koorsblaar gekry nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.