Malaria maak steeds amok onder miljoene  

(Foto: iStock)

Ofskoon groot vordering gemaak word met die voorkoming en behandeling van malaria, eis dié lewensgevaarlike siekte, wat veroorsaak word deur parasiete wat meestal deur ’n besmette Anopheles-wyfiemuskiet oorgedra word, steeds honderdduisende lewens per jaar.

Vier soorte malariaparasiete besmet mense: Plasmodium falciparum, P. vivax, P. ovale en P. malariae. Daarbenewens besmet P. knowlesi makake (’n aapsoort) in Suidoos-Asië, wat malaria veroorsaak wat van diere na die mens oorgedra word (“soönotiese” malaria).

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie was daar in 2020 na raming 241 miljoen gevalle van malaria wêreldwyd. Die geskatte aantal malariasterftes het in 2020 op 627 000 te staan gekom, met 95% van malariagevalle en 96% van -sterftes wat in Afrika voorgekom het. Kinders jonger as vyf was verantwoordelik vir sowat 80% van alle malariasterftes in dié streek. Die Afrikalande met die hoogste voorkoms van malaria is Nigerië (31,9%), die Demokratiese Republiek van die Kongo (13,2%), Tanzanië (4,1%) en Mosambiek (3,8%).

Volgens die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid word malaria hoofsaaklik langs die grensgebiede oorgedra. Sommige dele van Suid-Afrika se nege provinsies (Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal) is endemies vir malaria, en 10% van die bevolking (ongeveer 4,9 miljoen mense) loop die risiko om dié siekte op te doen. Die oordrag van malaria in Suid-Afrika is seisoenaal, met malariagevalle wat in Oktober begin toeneem, in Januarie en Februarie ’n hoogtepunt bereik, en teen Mei weer afneem.

Hoewel dit algemene kennis is dat ’n mens voorkomende medisyne moet neem voordat jy ’n hoërisikogebied besoek, het malariaparasiete mettertyd ’n weerstand ontwikkel teen die algemene middels wat gebruik word om dié siekte te behandel.

Wêreldmalariadag word sedert 2007 jaarliks op 25 April gevier om die aandag te vestig op die pogings wat aangewend word om malaria te bekamp, en mense aan te moedig om enersyds die nodige stappe te doen om hulself te beskerm en andersyds bewus te wees van die tekens en simptome.

Tekens en simptome

(Foto: iStock)

Sommige mense wat malaria het ervaar sogenaamde malaria-aanvalle. ’n “Aanval” begin met rillings en kouekoors, gevolg deur ’n hoë koors, sweet en dan weer ’n terugkeer na normale temperatuur. Tekens en simptome begin gewoonlik tien dae tot ’n paar weke nadat ’n persoon deur ’n besmette muskiet gebyt is. Sommige soorte malariaparasiete kan egter tot ’n jaar lank dormant in die liggaam lê. Algemene simptome sluit in:

  • Koors
  • koue rillings
  • ’n algemene gevoel van ongemak
  • hoofpyn
  • naarheid en braking
  • diarree
  • maagpyn
  • spier- of gewrigspyn
  • moegheid
  • vinnige asemhaling
  • vinnige hartklop
  • hoes.

Muskietoordragsiklus

  • ’n Muskiet word besmet deur ’n persoon wat malaria het te byt.
  • As jy deur dié muskiet gebyt word, word die malariaparasiet aan jou oorgedra.
  • Sodra die parasiet jou liggaam binnekom, dring dit die lewer binne waar dit tot ’n jaar lank dormant kan lê.
  • Wanneer die parasiet volwassenheid bereik, verlaat dit die lewer, beland in die bloedstroom en besmet jou rooibloedselle. Dít is wanneer die meeste mense malaria-simptome begin ontwikkel.
  • As ’n onbesmette muskiet jou op hierdie punt van die siklus byt, sal dit met die parasiet besmet raak en dit weer na ander versprei.

Omdat die parasiete wat malaria veroorsaak die rooibloedselle binnedring, kan mense ook malaria opdoen deur blootstelling aan besmette bloed, insluitend:

  • Van ma na ongebore kind;
  • deur ’n bloedoortapping; en
  • deur besmette spuitnaalde.

Malariakomplikasies

Wend insekweerder teen muskiete op jou vel en klere aan. (Foto: iStock)

Malaria kan dodelik wees, veral wanneer dit deur die Plasmodium-spesie veroorsaak word wat algemeen in Afrika voorkom. Sommige variëteite van die malariaparasiet, wat gewoonlik ligter vorme van die siekte veroorsaak, kan vir jare voortduur en terugvalle veroorsaak.

Malariasterftes hou dikwels verband met een of meer ernstige komplikasie, insluitend:

  • Serebrale malaria. As besmette bloedselle klein bloedvate na jou brein blokkeer, kan swelling van die brein of breinskade voorkom. Serebrale malaria kan aanvalle en selfs ’n koma veroorsaak.
  • Asemhalingsprobleme. Opgehoopte vloeistof in die longe (ook genoem pulmonêre edeem) bemoeilik asemhaling.
  • Orgaanversaking. Malaria kan die niere of lewer beskadig of die milt laat skeur. Enige van hierdie toestande kan lewensgevaarlik wees.
  • Bloedarmoede. Malaria kan daartoe lei dat daar nie genoeg rooibloedselle is om suurstof na die liggaam se weefsels te vervoer nie.
  • Lae bloedsuiker. Ernstige vorme van malaria kan lae bloedsuiker (hipoglisemie) veroorsaak, net soos kinien – ’n algemene medikasie wat gebruik word om malaria te bekamp. Baie lae bloedsuiker kan lei tot ’n koma of die dood.

Tref voorsorg

Slaap onder ’n muskietnet, veral dié wat met insekdoders soos permetrien behandel is. (Foto: iStock)

As jy in ’n gebied woon of na ’n gebied reis waar malaria algemeen voorkom, doen stappe om muskietbyte te vermy. Muskiete is die aktiefste tussen skemer en dagbreek. Tref die volgende voorsorgmaatreëls:

  • Bedek jou vel. Dra langmouhemde en -broeke. Steek jou hemp in jou broek in.
  • Wend insekweerder op jou vel en klere aan. Moenie ’n sproeimiddel direk op jou gesig gebruik nie. Spuitmiddels wat permetrien bevat, is veilig om op klere aan te wend.
  • Slaap onder ’n muskietnet, veral dié wat met insekdoders soos permetrien behandel is.
  • Neem medikasie soos deur jou dokter voorgeskryf. Oor die algemeen is die middels wat geneem word om malaria te voorkom dieselfde as dié wat gebruik word om die siekte mee te behandel. Die soort medisyne hang af van waar en hoe lank jy reis, asook ander medikasie wat jy neem.

Bykomende bronne: cdc.gov; who.int; webmd.com; medicalnewstoday.com; mayoclinic.org; my.clevelandclinic.org; health.gov.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Geen vaksien vir malaria nie?? wel vir verkoue en griep. Wag tot Hondsdolheid n probleem word, die beproefde vaksien word nie meer vrylik aangemoedig of ge ent nie.

Rayman ·

Die probleem is alles tel onder covid tellings, malaria het presies diesefde simptome as covid dan as jy siek is en hulle toets jou dan het jy covid en dan gaan jy dood want jy kry nie die regte behandeling vir malaria nie want jy het mos covid, net om hulle syfers op tejaag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.