Mites en feite oor jou gesondheid

Wanneer jy jou kneukels knak, veroorsaak dit artritis. Eiers gee jou hartsiektes en koffie keer dat jy groei. Klink dít bekend? Oor die jare het soveel gesondheidsmites kop uitgesteek dat dit moeilik geraak het om feit van fiksie te onderskei. Gesonde verstand, ʼn skeutjie skeptisisme en inligting wat op betroubare navorsing gegrond is, kan jou egter help om agter die kap van die byl te kom. Hier’s hulp!

Tien mites en feite:

Drink minstens agt glase water per dag. Hoewel jy elke dag genoeg water móét inneem, is dié syfer bloot ʼn aanduiding en nie in graniet gegiet nie. Die hoeveelheid water wat jy benodig, hang af van faktore soos die klimaat, genetika asook hoe aktief jy is. Onthou: sap, tee en koffie bevat ook water en vorm deel van die vloeistof wat jou liggaam benodig om dehidrasie in sy spore te stuit. Indien jou urine donkerkleurig is, drink jy waarskynlik te min water, terwyl deurskynende of liggeel urine wys dat jy op die regte waterspoor is.

(Foto: iStock)

Eiers is sleg vir jou hart. Dit is so dat eiergeel cholesterol bevat, maar vir die meeste van ons is dit nie naastenby so nadelig soos die mengsel van skadelike vette wat ons daagliks deur gemorskos inneem nie. Trouens, eiers is propvol voedingstowwe soos omega 3, wat juis die risiko vir hartsiektes kan verlaag, sê die Hartstigting. Eiers is ook ʼn goeie bron van onder meer vitamien D (wat beengesondheid bevorder en die immuunstelsel aanvuur) en cholien (wat jou metabolisme en lewerfunksie ondersteun).

(Foto: iStock)

Antiperspirant veroorsaak borskanker. Sommige mense glo die chemikalieë wat in antiperspirante en deodorante voorkom, kan deur jou oksel opgeneem word, in die borsweefsel beland en gewasse meer waarskynlik maak. Die Amerikaanse Kankervereniging sê egter dat daar geen bewyse bestaan wat borskanker met die gebruik van enige van dié produkte verbind nie.

(Foto: iStock)

Ons gebruik slegs 10% van ons breinvermoë. Ons weet nie presies hoeveel van ons breinkapasiteit ons wel gebruik nie, maar dit is beslis meer as 10%. Hoewel CT- en MRI-skanderings bewys het dat sekere dele van ons brein onderbenut is, aktiveer selfs die eenvoudigste aktiwiteite die grootste deel van die brein. Sommige mense kan meer dele as ander gebruik, maar die persentasie wissel van persoon tot persoon. Selfs die bestudering van Einstein se brein kon geen slim antwoorde oplewer oor wat nou eintlik van iemand ʼn genie maak nie.

(Foto: iStock)

ʼn Mens raak korter hoe ouer jy word. Dít is geen ouvroustorie nie. Ons word inderdaad korter soos die jare aanstap, omdat die spasie tussen die werwels van die ruggraat krimp. Daar word geraam dat mans tot 2 cm korter is teen 70-jarige ouderdom en vroue op hul beurt tot 5 cm in lengte inboet. Ná die ouderdom van 30 jaar verloor jy boonop sowat een hartslag per minuut, wat bloedvloei en sirkulasie laat afneem, terwyl osteoporose ʼn verdere oorsaak is dat mense krommer loop en korter word.

(Foto: iStock)

Hou ʼn pasiënt wakker ná harsingskudding. Vroeër jare was die enigste manier om breinfunksie by ʼn beseerde persoon te toets om hulle elke uur wakker te maak en hul reaksievlak te meet. Danksy CT-, MRI- en PET-skanderings kan ons presies vasstel hoe waaksaam en georiënteerd ʼn pasiënt is. Trouens, die brein herstel baie vinniger deur genoeg rus te kry.

(Foto: iStock)

Moenie swem op ʼn vol maag nie. Dié mite om dit eers ʼn uur ná ete in die water te waag, is so oud soos die berge en van alle waarheid ontneem. Die oorspronklike teorie was dat jou liggaam soveel energie verbrand om jou kos te verteer, dat daar nie genoeg oorblywende bloedvloei is om jou arms en bene te bereik nie (wat jou dan glo soos ʼn klip laat sink). Die enigste gevaar om direk ná ete te swem, is dalk ʼn omgekrapte maag.

(Foto: iStock)

Vitamien C beveg verkoue. Voedingstowwe soos vitamien C kan beslis help om ʼn verkoue te verkort deur jou immuunstelsel ʼn hupstoot te gee, maar slegs as die korrekte hoeveelheid ingeneem word. In hierdie geval kan ʼn oormaat tot nier- en lewerversaking aanleiding gee. Gesels met jou dokter voordat jy enige aanvullings neem. Dit is peperduur en dikwels onnodig. Die beste medisyne bly voedsame kos en rus, meen die kenners.

(Foto: iStock)

ʼn Kneukelknakkery lei tot artritis. Hoewel dié aardige gewoonte jou nie baie gewild tydens ʼn muisstil kerkdiens gaan maak nie, is dit grotendeels onskadelik. Dit kan wel tydelike swelling of ʼn subtiele toename in die grootte van jou hande veroorsaak, wat jou trouring effens stywer sal laat sit. Sommige studies het wel getoon dat ʼn langdurige knakkery die krag in jou handgreep kan verswak.

(Foto: iStock)

Te veel suiker maak kinders hiperaktief. Nog een vir die boeke! Die suiker-hiperaktiwiteit-mite is gegrond op ʼn enkele studie uit die middel 1970’s waarin ʼn dokter die suiker uit een kind se dieet verwyder het en daardie kind se gedrag verbeter het. Sedertdien het tientalle studies bewys dat daar geen verband bestaan tussen suiker en kinders se gedrag, skoolprestasie of konsentrasievermoë nie. Suiker is nie goed vir aknee nie, maar beslis nie die oorsaak nie. Die oorsaak lê in genetika en hormone.

Bykomende bronne: WebMD, Valleywise Health, Eat Right, Johns Hopkins en Weet.co.za.

(Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos 100 ·

Ek glo dat baie liggaam mities geformuleur is deur die hoof stroom media en monopoliëe en regerings. Ek kan drie dinge duidelik onthou: suiker gee jou energie, daarna is suiker weer sleg vir jou en vandag is dit noodsaaklik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.