Niere: Klein, maar getrein

(Foto: iStock)

Ons niere is dalk klein, maar beslis getrein! Dié twee boontjievormige, vuisgrootte organe wat aan die onderkant van die rug, weerskante van die ruggraat in die buikholte net onder die ribbekas is, is die liggaam se supersuiweringsaanleg wat ʼn sleutelrol in ons gesondheid speel.

Met Wêreldnierdag wat op 9 Maart gevier word, verdien dié verbete vegters beslis die faam vir hul funksionaliteit. Ons niere reguleer onder meer die liggaam se pH-vlakke en bloeddruk, skei hormone af soos renien (wat bloeddruk verhoog) en eritropoiëtien (wat die vorming van rooibloedselle in die beenmurg stimuleer), en neem vitamien D op (wat kalsiumopname beïnvloed).

Tien fassinerende nierfeite:

  1. Nie-identiese tweeling: Die regterkantste nier is kleiner en sit laer as sy tweelingbroer, omdat dit spasie aan die lewer moet afstaan. Die linkernier moet ook effens opsy staan vir die milt, maar omdat die milt heelwat kleiner is, kan die linkernier sy bene ʼn bietjie strek en vertoon daarom groter.
  2. Een ʼn handvol: Die metaboliese prosesse in jou liggaam wat voedsel na energie omskakel, skei neweprodukte soos ureum en uriensuur in die bloedstroom af. Jou liggaam benodig sowat 300 000 nefrone – klein filtertjies in die niere – om dié afvalstowwe uit jou bloed te verwyder (die niere filtreer nagenoeg 140 liter vloeistof per dag!) Elke nier bevat meer as 1 miljoen nefrone, wat dit moontlik maak om met een nier oor die weg te kom.
  3. Knap knypers: Die nefrone lei afvalstowwe saam met oortollige water na die urienbuise. Urine word dan in die blaas vrygestel, met intervalle min of meer gelykstaande aan die helfte van die afstand tussen twee plattelandse dorpe. Wanneer urine egter opbou en nie betyds in die blaas vrygestel word nie, kan dit infeksies veroorsaak (wat jou knypers kan kniehalter) en, as daar minerale in die vloeistof kristalliseer, pynlike nierstene.
  4. ʼn Bloedbad: Terwyl die hart bloed deur die liggaam pomp, sorg jou niere dat dié bloed skoon is. Dit filtreer elke minuut sowat ʼn halwe koppie bloed, wat neerkom op 45 liter bloed per dag of genoeg om ʼn kleinerige bad te vul.
  5. Egiptiese reis: Een van die voordele van die antieke Egiptenare se begeesterde soeke om meer oor ʼn gesonde liggaam te wete te kom, is hul mediese begrip en kennis wat in fyn besonderhede aangeteken is. ʼn Papirusrol wat bykans 3 500 jaar oud is en eers gedeeltelik in 2018 ontsyfer is, bevat die oudste bekende geskrifte oor niere en hoe om nierverwante kwale te behandel.
  6. Sonde met die niere: Die Bybel bevat meer as 30 verwysings na die niere. Volgens die Amerikaanse Joernaal vir Nefrologie was dit ʼn algemene Midde-Oosterse praktyk om simboliese betekenis aan menslike organe toe te skryf. Die niere het spesiale vermelding in die Bybel gekry as die setel van gewete, emosies, begeerte en wysheid.
  7. Dis nou maar wors! Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog het die Nederlandse dokter Willem Kolff ʼn pasiënt se bloed deur worsderms gepomp wat om ʼn roterende houtdrom gedrapeer en in ʼn soutoplossing gedompel is. Hy het dié voorloper van die moderne dialisemasjien later met behulp van lemoensapblikke en ʼn wasmasjien verfyn. Kolff, wat as die vader van kunsmatige organe beskou word, was ook die medestigter van die eerste bloedblank in Europa, en het meer as 800 individue in sy hospitaal laat skuil om hulle van Nazi-konsentrasiekampe te red.
  8. Warm patat: ʼn Studie het bevind dat chroniese niersiekte toenemend in Sentraal-Amerika en dele van Asië voorkom, veral onder handearbeiders wat die grootste deel van die dag in die buitelug deurbring. Hoe meer jy sweet, hoe meer vog verloor jy, en met verloop van tyd kan dit ernstige skade aan die niere aanrig. Die probleem is so ernstig in Guatemala dat werkaansoekers se kreatinienvlakke getoets word alvorens hulle vir buitelugwerk aangestel kan word. Kreatinien is een van die afvalstowwe wat deur die niere gevang en verwyder word.
  9. Waterkarbalans: Hoewel ʼn mens dehidrasie (en nierstene!) wil vermy, veral as jy baie aktief is of gereeld in die warm son is, plaas die inname van té veel water baie druk op die niere. Hiponatremie is wanneer die natrium in jou bloedstroom verdun omdat jou niere nie gou genoeg van oortollige vloeistof ontslae kan raak nie. Natrium is ʼn elektroliet wat help om die hoeveelheid water in en om jou selle te reguleer. Te min natrium en té veel water kan die selle laat swel. Te veel sout is nét so sleg. Probeer om nie meer as 1 500 mg natrium per dag in te neem nie.
  10. Medikasiemoeilikheid: Alle medikasie vind op die een of ander stadium hul weg deur jou niere. Wees waaksaam met wat én hoeveel jy inneem. Langdurige gebruik van onder meer pynmedikasie soos ibuprofen, hoër as voorgeskrewe dosisse aspirien en naproxen kan jou niere beskadig en selfs chroniese interstisiële nefritis Laasgenoemde lê die niere se vermoë lam om die bloed te suiwer en urine te vervaardig. Sekere bloeddrukmedikasie help weer om die niere te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nommer 7 ·

Dan is daar nog mense wat glo dat alkaliese poeiers jou liggaam se ph kan verander, ha, ha.

Nico Strydom ·

Dagsê Lourens
Dankie dat jy dit onder ons aandag gebring het. “Getryn” en “getrein” word redelik algemeen afwisselend gebruik. Dit blyk egter of daar verwarring is, so ons sal in die stadium eerder die berig wysig en “getrein” gebruik, soos dit in Pharos opgeneem is. Ons stel verder ondersoek in om te probeer bepaal waar die verwarring inkom.
Baie dankie
Vriendelike groete
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.