Onderneem ’n Mediterreense gesondheidsreis

(Foto: iStock)

Vir min mense tel die skaal óf spieël onder hul beste vriende, maar die dag toe die dokter my voor stok kry nadat ’n hoë cholesteroltelling onverwags in ’n roetinebloedtoets opgeduik het, is daar min salf aan te smeer, en word die woord “dieet” plotseling deel van my daaglikse woordeskat.

Nie sommer enige dieet nie, skribbel Dokter vasberade in verrassend leesbare skrif op ’n notapapiertjie: (die) Mediterreense dieet. “Dit is nie om dowe neute die afgelope vier jaar deur gesondheidskenners, dieetkundiges én kosgeesdriftiges as die beste, of voorkeurdieet vir optimale gesondheid aangewys nie,” sê hy, en stop die papiertjie, én ’n voorskrif vir ’n chroniese cholesterolpilletjie, in my hand.

Vir iemand wat al bykans elke kapsule en konkoksie, stroop en spuit, druppel en dergelike doepa probeer het, eet ek nie sommer meer enige blink belofte vir soetkoek op nie. Dié keer is ’n mediumgrootte hemp of dunner middellyfomtrek egter nie die oogmerk nie, maar ’n kopskuif na ’n gesondheidsreddingsboei. Op die manier begin my Mediterreense gesondheidsreis.

Nie dieet nie, maar leefwyse

Ofskoon die woord “dieet” ’n mens dadelik aan die droewige beperking van drie eensame ertjies op ’n enorme emaljebord laat dink, is die Mediterreense dieet wêrelde verwyder hiervan.

Trouens, die woord “dieet” kan in dié geval maklik met “leefwyse” vervang word, want dit moedig ’n leefwyse aan wat die stapelvoedsel insluit van mense wat in die lande rondom die Middellandse See woon, soos Spanje, Griekeland, Italië en Frankryk. Boonop fokus dit op die gemeensaamheid rondom die etenstafel, maaltye saam met familie en vriende, en hartlike gesprekke.

(Foto: iStock)

Die Mediterreense dieet is geensins ’n nuutjie nie. Daar is reeds in die jare vyftig opgemerk dat baie minder hartsiektes en beroertes in dié deel van die wêreld aangemeld word.

Omdat dit nie kunsmatig ontwikkel is nie, maar ’n manier van doen (én eet) is wat natuurlik oor eeue heen ontwikkel het, is daar geen voorgeskrewe manier om die Mediterreense dieet te volg nie. Opmerklik is dat twee van die vyf sogenaamde blou gebiede – plekke waar mense langer leef en minder siek word – in Mediterreense stede geleë is (Ikaria in Griekeland en Sardinië in Italië).

Die Mediterreense dieet is eerder ’n plantgebaseerde eetpatroon as ’n kaloriebeperkende dieet. Dit sluit veral baie groente, vrugte, neute, peulgewasse, sade, vis (soos salm, skelvis, ingemaakte tuna en garnale) en olyfolie (pleks van botter en margarien) in. Matige suiwelinname (melk, jogurt en kaas) word aangemoedig, terwyl hoender en rooivleis nie die hoofrol vertolk nie, maar eerder ’n kleiner, ondersteunende rol speel. Hoe kleurvoller die rolverdeling, hoe beter (en gesonder!).

Die hou-verby-lysie sluit in verwerkte voedsel en drinkgoed wat hoog is in suiker, verfynde koolhidrate en ongesonde vette (dink: lekkergoed, skyfies, koekies, koek, witbrood, broodrolletjies, wit rys, kitskos, verwerkte vleis, voorafbereide winkelmaaltye, en enigiets wat diepgebraai word). Hoewel water die voorkeurdrankie is, is ’n glas rooiwyn beslis nie van die spyskaart verwyder nie (maar, die aanbeveling is een glas vir vroue en twee vir mans).

Die fokus is om kos saam met jou geliefdes te geniet, om fisies aktief te wees, en natuurlik altyd matigheid voor oë te hou. Opmerklik word niks gemeet, geweeg of getel nie, of dit nou kalorieë, vet- of glukemiese inhoud is.

(Foto: iStock)

Hoewel gewigsverlies volgens kenners ’n “toevallige” gevolg van die Mediterreense dieet is, en uitstekende resultate oplewer om gewig in toom te hou, is dit die talle bewese gesondheidsvoordele wat dit so gewild maak. Volgens die Harvard School of Public Health, bewys navorsing dat die Mediterreense dieet as ’n gesonde eetpatroon onder meer vir die voorkoming van kardiovaskulêre siektes, die verlenging van lewensjare, en gesonde veroudering sorg.

Agt bewese gesondheidsvoordele

  • Hartgesondheid is sekerlik een van dié dieet se vernaamste gesondheidsvoordele. Dit verminder die risiko vir hartsiektes deur cholesterolvlakke en bloeddruk te verlaag, en sterftes as gevolg van kardiovaskulêre siektes te verminder. Dit help die are om buigsaam te bly en die opbou van plaak te weerstaan.
  • Navorsing het bevind dat dit nie net die risiko vir beroerte verlaag nie, maar ook intensiteit van ’n beroerte (veral by vroue).
  • Die Mediterreense dieet word ook verbind met ’n verlaagde risiko vir sekere soorte kanker, insluitend borskanker, kolonkanker, prostaatkanker, asook sommige kop- en nekkanker.
  • Die insluit van meer groente en vrugte by jou dieet is nie net goed vir jou fisieke welstand nie, maar ook jou geestesgesondheid. Studies het bevind dat vars (rou) vrugte en groente (veral donker blaargroentes soos spinasie, vars bessies en komkommer) simptome van depressie verminder, en ’n beter luim en lewensbevrediging aan die hand werk.
  • ’n Vlymskerp ouer bevolking in die Mediterreense streek is ’n bewys dat dit breingesondheid Navorsing het bevind dat dié dieet algemene kognitiewe funksie (geheue) verbeter, kognitiewe agteruitgang vertraag en die risiko vir Alzheimer se siekte en ander vorme van demensie verlaag.
  • Al meer navorsing dui daarop dat hierdie eetgewoontes beskerming bied vir risikogevalle vir tipe 2-diabetes. Die Mediterreense dieet verbeter bloedsuikerbeheer in diegene wat reeds diabetes het, wat dit ’n goeie manier maak om dié siekte te bestuur, veral omdat diabeteslyers meer vatbaar vir kardiovaskulêre siektes is.
  • Rumatoïede artritis (RA) is ’n outo-immuunsiekte waardeur die liggaam se immuunstelsel die gewrigte (verkeerdelik) aanval, en pyn en swelling veroorsaak. Sekere eienskappe van die Mediterreense dieet, insluitend anti-inflammatoriese omega-3-vetsure, kan help om RA-simptome te verlig. Dit verminder ook die risiko vir beenfrakture, vetsug en gewigstoename (wat ekstra druk op die gewrigte kan plaas).
  • ’n Europese studie onder ouer volwassenes het voorts bevind dat diegene wat die Mediterreense dieet vir ’n jaar gevolg het, se dermgesondheid verbeter het, wat tot gesonder veroudering, verbeterde kognisie en verminderde swakheid of broosheid gelei het.

Navorsing identifiseer geen risiko’s wat met die Mediterreense dieet verband hou nie, maar raadpleeg jou dokter om seker te maak dat dit veilig is voordat jy jou verbeel jy lê op ’n Griekse eiland met ’n vars stukkie vis op die kole. (Omdat vis so ’n groot rol in dié verhaal speel, moet vissoorte wat baie kwik bevat, juis vermy word.)

(Foto: iStock)

Bykomende bronne: Food Network, Everyday Health, Forbes Health, Mayo Clinic, Very Well Fit, Hopkins Medicine en Healthline.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.