Sit gerus jou voet in dié visblik

(Foto: iStock)

“Jou voet in ʼn visblik,” was kleintyd een van my pa se gunstelingsêgoed om my snoep vir soetgoed in sy spore te stuit. So graag soos hy dié bykans vergete uitdrukking gebruik het, net so lief was hy vir ʼn glas yskoue melk en ʼn toebroodjie met geblikte sardiens in tamatiesous. Ons het dit nie breed gehad nie, maar in sy oë was dié karige ete koningskos in Klerksdorp!

Ofskoon ek my neus vir jare daarna vir sardiens opgetrek het en my drie tieners my vandag snaaks aangluur as ek hul smeking vir meer skermtyd met “jou voet in ʼn visblik” beantwoord, het my pa beslis ʼn punt beet gehad. Sardiens is nie net ʼn blitsige, bekostigbare maaltyd nie, maar ook boordensvol voedingswaarde.

Geblikte gesondheidsbrekers

Die gesondheidsvoordele van vis as deel van ʼn gebalanseerde dieet is welbekend, maar sardiens, wat sy naam te danke het aan die groot skole wat aan die Italiaanse eiland Sardinië in die Mediterreense see voorgekom het, swem voor in die koor. Veral omdat daar veel minder kwik tussen sy skubbe skuil as ander vissoorte soos tuna. Hoe hoër ʼn vis op die voedselketting is, hoe meer kwik bevat dit.

Sardiens bevat kalsium, yster, proteïene, vitamien B12 en vitamien D, en genoeg omega 3-vetsure om in jou aanbevole daaglikse behoefte te voorsien. Navorsers het bevind dat sardiens sekere soorte kanker kan voorkom en die risiko vir siektes soos Alzheimersiekte, demensie, ouderdomsverwante oogsiektes en rumatoïede artritis verminder.

Hier is nóg redes waarom jy dié geblikte gesondheidsbrekers ʼn geleentheid moet gee.

Harthelde

Kardiovaskulêre siektes is een van die voorste oorsake van sterftes in Suid-Afrika. Volgens die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika (HBSSA), kry vyf mense elke uur ʼn hartaanval en tien mense ʼn beroerte. Meer Suid-Afrikaners sterf aan hartsiektes as alle soorte kanker saam en wêreldwyd sterf 17,3 miljoen mense jaarliks aan hartsiektes. Dit is gelykstaande aan bykans die hele bevolking van Nederland!

Luidens navorsing wat in die joernaal Frontiers in Nutrition gepubliseer is, hou die omega 3-vetsure in sardiens heelwat meer voordele vir die hart in as dié wat in oor-die-toonbank-aanvullings aangetref word. Wetenskaplikes het gekyk na hoe die omega 3 in sardiens met kalsium, kalium, magnesium, yster en sink reageer en bevind dié simbiose help om inflammasie en oksidatiewe stres in die liggaam te verminder, wat bloedvloei verbeter en die risiko vir kardiovaskulêre en lewersiektes verlaag.

Omega 3 reguleer ook die hormoon leptien, wat die boodskapdraer is dat ʼn mens versadig is. Hoewel navorsing oor die gewigsverliesvoordele beperk is, help omega 3 om metaboliese prosesse te verander, wat eetlus demp en gewigsbeheer in die hand werk.

(Foto: iStock)

Diabetesdemper

Die HBSSA beraam dat een uit elke tien Suid-Afrikaners met diabetes leef. Een uit elke twee mense is egter onbewus hiervan omdat dit nie gediagnoseer is nie. Hoë bloedsuiker veroorsaak skade en vernouing van die bloedvate, verhoogde bloedtrigliseriedvlakke (ʼn soort vet), verlaagde vlakke van goeie (hoëdigtheid-lipoproteïen of HDL) cholesterol, hoë bloeddruk en ʼn verhoogde risiko vir hartsiektes. Mense met diabetes is ook meer geneig tot aterosklerose (verharding van bloedvate) en bloedklonte.

Luidens navorsing wat in Clinical Nutrition gepubliseer is, het ʼn studiegroep wat twee keer per week sardiens geëet het, ʼn aansienlik laer risiko gehad om tipe 2-diabetes te ontwikkel in vergelyking met ʼn kontrolegroep wat nie sardiens by hul dieet ingesluit het nie. Dié wat sardiens geëet het, het ook ʼn toename in HDL-cholesterol en ʼn afname in beide trigliseriedevlakke en bloeddruk ervaar. Sardiens in tamatiesous is boonop gesonder danksy die likopeen wat in tamaties voorkom.

Hou bene hou

Die beskerming van beengesondheid is noodsaaklik om op jou oudag nog ʼn huppel in jou stap te kan hê. Sardiens is propvol kalsium en vitamien D, twee voedingstowwe wat ʼn kritieke rol in beengesondheid speel.

Navorsing wat in die Journal of Osteoporosis gepubliseer is, het bevind dat die kalsium en vitamien D (asook fosfor en magnesium) in sardiens beengesondheid bevorder. Dit verminder nie net die risiko vir frakture nie, maar help veral ouer volwassenes om vinniger van beenfrakture te genees.

(Foto: iStock)

Baasbrein

Die kognitiewe gesondheidsvoordele van omega 3-vetsure het oor die jare baie aandag geniet en met goeie rede. Die resultate van 25 studies, wat in Nutrients gepubliseer is, het bevind dat DHA en EPA (twee soorte omega-3’s) die breingesondheid van mense van alle ouderdomme verbeter.

Luidens dié navorsing, bevorder dit geletterdheid, aandag en visuele verwerkingsvermoë by kinders en verbeter dit kognitiewe funksie by ouer volwassenes. Op die koop toe, sê die kundiges, is ʼn blikkie sardiens baie goedkoper as ʼn botteltjie aanvullings. Of dit nou in water, olie óf tamatiesous swem.

  • Hoewel die inname van omega 3 veral tydens swangerskap en borsvoeding aangemoedig word, is dit raadsaam om die insluiting van vis in jou dieet met jou geneesheer te bespreek. Geblikte vis is wel gesonder as ander verwerkte kossoorte, maar kan steeds baie sout bevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.