Só raak orgaanoorplasings pasiënte se geld én gemoed

Argieffoto. (Foto: Robina Weermeijer/Unsplash)

Augustus is nasionale orgaan- en weefselbewustheidsmaand in Suid-Afrika en die Transplant Education for Living Legacies (Tell), ʼn organisasie wat poog om meer opvoeding aan medici en die publiek te verskaf, wil vanjaar veral die gesprek rondom die finansiële en emosionele impak van oorplantings versterk.

“ʼn Oorplanting is nie ʼn geneesmiddel nie, en terwyl die primêre orgaan ʼn ‘oplossing’ mag wees, is daar nog baie ander probleme om te hanteer. Dit kan maklik oorweldigend raak om kop te hou met doktersbesoeke, toetse en medikasiebestellings, en ʼn gesonde lewenstyl te handhaaf,” sê Fawn Kruger, een van Tell se stigterslede.

Fawn en mede-stigter Alice Vosloo het albei al twee keer longoorplantings ondergaan terwyl Stella de Kock, besturende direkteur van Tell, nagenoeg al 11 jaar lank op ʼn waglys vir ʼn nier is.

Deur bewusmakingsveldtogte en opvoedingsinisiatiewe poog hulle om die gesprek rondom orgaan- en weefselskenking in Suid-Afrika te lei.

“Een skenker kan tot agt lewens met ʼn enkele orgaanskenking red en tot vyftig mense kan danksy ʼn weefselskenking gered word. Deur jou familie te vertel dat jy eendag ʼn orgaanskenker wil wees, het jy die krag om lewens te red en ʼn blywende nalatenskap van hoop agter te laat,” meen Stella.

Stella de Kock ontvang dialise-behandeling drie maal ‘n week. (Foto: Verskaf)

Sy glo dat bewustheid veral verhoog moet word om hindernisse en onsekerhede af te breek, wat diegene wat hulp benodig van ʼn tweede kans op lewe weerhou. Die emosionele, fisieke en sosiale aspekte van ʼn oorplanting moet egter volgens haar ook nie oor die hoof gesien word nie.

“ʼn Begrip van hierdie veelvlakkige kostes kan gesondheidsorgpersoneel, pasiënte en die samelewing as geheel help om individue wat ʼn oorplanting ondergaan, beter te ondersteun en bewustheid van die uitdagings wat hulle in die gesig staar, te bevorder.”

Volgens Stella is omvattende sorg, insluitende emosionele ondersteuning, rehabilitasiedienste en voortgesette opvoeding, noodsaaklik om die holistiese behoeftes van ontvangers van ʼn oorplanting en hul ondersteuningsnetwerke aan te spreek.

Sy meen dat ontvangers die volgende emosionele uitdagings in die gesig staar:

Onsekerheid en vrees

Die proses van wag vir ʼn geskikte orgaan kan volgens Fawn emosioneel uitputtend wees. Pasiënte en hul gesinne leef in voortdurende onsekerheid in die hoop op ʼn geskikte orgaan terwyl hulle die ergste vrees as een nie betyds kom nie.

Angs en spanning

Die verwagting van chirurgie, die vrees vir die onbekende en die potensiële komplikasies tydens en ná die oorplanting kan tot verhoogde vlakke van angs en stres lei.

Emosionele tuimeltrein

Die oorplantingsproses het verskeie hoogte- en laagtepunte. Daar kan oomblikke van hoop, terugslae en verskeie emosies ervaar word gedurende die wag- en herstelperiode.

Depressie en isolasie

Pasiënte mag depressie ervaar as gevolg van die spanning, moontlike komplikasies na die oorplanting of veranderinge in hul lewenskwaliteit. Sosiale isolasie kan ook voorkom aangesien die pasiënt blootstelling aan infeksies moet vermy.

Nuwe lewensaanpassings

Ná ʼn oorplanting moet pasiënte en hul gesinne by ʼn nuwe leefstyl aanpas, insluitend die bestuur van medikasie en doktersafsprake. Aanpassings van hierdie aard kan emosioneel uitdagend wees.

Hantering van verwerping of komplikasies

Orgaanverwerping of komplikasies ná die oorplanting kan emosioneel vernietigend wees vir pasiënte en hul families, veral as hulle jarelank op die waglys vir skenkings was.

Toekomsbeplanning

Om ʼn oorplanting te ontvang, beteken dat jy altyd jou gesondheidstoestand in ag moet neem wanneer jy jou toekoms beplan rakende jou loopbaan, of jy kinders wil hê en waar jy wil woon.

Ook die finansiële las kan die emosionele druk op beide pasiënte en hul gesinne verhoog. Hierdie kostes kan aansienlik wees en mag die volgende insluit:

  • Mediese koste vir chirurgie en immuunonderdrukkende medikasie.
  • Opvolgsorg vir voortgesette rehabilitasie en terapie.
  • Reis en akkommodasie vir pasiënte wat na ʼn oorplantingsentrum moet reis vir evaluasie en chirurgie.
  • Verlies aan inkomste weens die pasiënt se onvermoë om gedurende die oorplantingsproses en die daaropvolgende herstelperiode te werk. Sommige pasiënte kan ná drie maande weer gaan werk nie, terwyl ander tot 12 maande nie kan werk nie.
  • Nie-mediese uitgawes wat verband hou met die oorplantingsproses, soos etes, vervoer na en van mediese afsprake, en ander bykomstighede.

Wat kan gedoen word?

Om die finansiële las van orgaanoorplanting te bestuur, moet pasiënte en hul gesinne hul gesondheidsorg-dekkingsopsies noukeurig ondersoek, insluitend mediese fondse en regeringshulpprogramme.

Om hierdie emosionele uitdagings verbonde aan orgaanskenking aan te spreek, word pasiënte en hul gesinne aangemoedig om emosionele ondersteuning by gesondheidsorgdienste, beraders en ondersteuningsgroepe soos Tell te kry.

“Die bou van ʼn sterk ondersteuningsnetwerk kan pasiënte en hul gesinne help om die emosionele aspekte van orgaanoorplanting te hanteer en ʼn gesonder hanteringsproses bevorder,” sê Stella.

Die publiek word ook aangemoedig om as orgaanskenker te registreer.

“Ten spyte van al die kostes, beteken die lewenskwaliteit wat orgaanoorplanting bied, dat pasiënte bereid is om enigiets te doen om ʼn skenker te vind. Daar is geen koste groter as die koste van jou lewe nie.”

  • Vir meer inligting oor orgaan- en weefseldonasie, besoek Tell se webwerf by tell.org.za of stuur ʼn e-pos na [email protected].
  • Om as orgaanskenker te registreer, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.