Sout: Van knippie tot in die knyp

(Foto: iStock)

Om iets met ʼn knippie sout te neem is nie om dowe neute ʼn gesegde wat ons gereeld gebruik of hoor nie. ʼn Gereg (veral teen deesdae se buitensporige restaurantpryse) moet egter sy sout werd wees, of hoe? So seker soos wat die see sout is, waarsku gesondheidskenners, is ʼn sak sout saam met iemand opeet buite die kwessie. Ofskoon ons liggaam dié mineraal (natrium) nodig het sodat ons gesonde, sout-van-die-aarde-mense kan wees, moet ons ligloop vir Sannie (se sewe sakke sout) én vir Sak, Sarel.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) help soutinname van minder as 5 g per dag volwassenes om bloeddruk in bedwang te hou en die risiko van kardiovaskulêre siektes, beroertes, osteoporose, niersiektes en koronêre hartaanvalle te verminder. Die belangrikste voordeel van die verlaging van ons soutinname is die ooreenstemmende verlaging in hoë bloeddruk. Kinders se (hoë) soutinname is ook rede tot kommer, sê die WGO.

Tog neem mense gemiddeld 9 tot 12 g sout per dag in. Dít, meen die WGO, vryf sout in die wonde. Tot 2,5 miljoen sterftes kan jaarliks wêreldwyd voorkom word as ons ophou om ouma se sout-en-peperstelletjie die middelpunt van die etenstafel te maak. Wêreldsoutbewustheidsweek is die afgelope week gevier en het die kollig opnuut op die noodsaaklikheid en gevare van sout geplaas.

Sout staan ook bekend as natriumchloried (NaCl), en bestaan uit 40% natrium en 60% chloried. Sommige soutvariëteite word versterk met jodium, yster, foliensuur of ʼn kombinasie hiervan. Tafelsout bevat byvoorbeeld dikwels bygevoegde jodium.

Die hoofbron van natrium in ons dieet is sout, hoewel dit ook van onder meer natriumglutamaat, ʼn spesery, afkomstig kan wees. Natrium kom natuurlik voor in ʼn verskeidenheid kossoorte soos melk, vleis en skulpvis. Dit word dikwels in groot hoeveelhede aangetref in verwerkte voedsel soos brood, verwerkte vleis, peuselhappies, voorafbereide maaltye en wegneemetes, asook in sous soos soja- en vissous.

Sewe nuttige soutfunksies

(Foto: iStock)

Natrium is noodsaaklik vir talle noodsaaklike liggaamsfunksies, insluitend vloeistofbalans, senuweegesondheid, voedingstofabsorpsie en spierfunksie. Hier is sewe van die funksies wat sout verrig:

  • Senuweestelsel: Natrium en chloried is elektroliete wat help om die hoeveelheid water binne en buite ons selle te reguleer om te verseker dat die boodskappe wat van die brein na die liggaam gestuur word, en omgekeerd, doeltreffend deur die senuweestelsel oorgedra word. Sout speel ʼn belangrike rol in waterretensie, spiersametrekking en vertering.
  • Bloeddruk: Net soos te veel sout jou bloeddruk die hoogte kan laat inskiet, net so belangrik is dit om bewus te wees van die feit dat te min sout lae bloeddruk tot gevolg kan hê. Natrium help om vloeistowwe in die liggaam te reguleer en is noodsaaklik vir die handhawing van gesonde bloeddruk.
  • Waterwaarskuwing: Benewens ʼn sleutelrol in die regulering van water in die liggaam, veroorsaak elektroliete (of ʼn gebrek daaraan), insluitend natrium en chloried, ook dat ons dors word. Dit is die liggaam se waarskuwing dat ons meer water moet drink. ʼn Spierkramp of -spasma is ʼn teken dat daar ʼn wanbalans – of ʼn tekort – aan elektroliete is. ʼn Elektroliettekort kan voorkom ná erge sweet, diarree en urinering. Omdat elektroliete deur sweet verlore gaan, is dit veral algemeen by langafstandatlete en fietsryers. Nog ʼn algemene toestand wat tot ʼn elektrolietwanbalans kan lei, is swangerskap. Swangerskap verhoog die vraag na minerale in die liggaam. As jy nie genoeg van die regte minerale inneem nie, kan spierspasmas en krampe voorkom.
  • Goeie nagrus: Sommige navorsing dui daarop dat matige soutinname slaapgehalte kan verbeter en dat ʼn natriumtekort op sy beurt moontlik tot slaapapnee kan bydra.
  • Gesonde gelaat: Om gehidreer te bly is belangrik vir ʼn gesonde vel. Behalwe dat dit help om jou gehidreer te hou, kan sout op ʼn magdom maniere ekstern op die vel gebruik word vir bykomende voordele. Sowat 2 400 mg natrium word aanbeveel om die gesonde funksie van liggaamsvloeistowwe, spier- en senuwee-aktiwiteit te handhaaf, meen kenners.
  • Spysvertering: Wanneer ʼn persoon nie genoeg sout inneem nie, kan die produksie van soutsuur (HCL) afneem. HCL, ook bekend as maagsuur, is ʼn noodsaaklike komponent om kos behoorlik te verteer. Te min, en ʼn persoon loop die risiko vir lae voedingstofabsorpsie, spysverteringsprobleme, sooibrand, ’n ystertekort, chroniese candida (’n swaminfeksie wat deur gis veroorsaak word) en verskeie outo-immuunsiektes.
  • Mondhigiëne: Swelling in die mond en keel kan verminder word deur jou mond met soutwater uit te spoel. Seer tandvleis, ʼn seer keel, mondsere en enige ander pynlike of ongemaklike swelling in die mond, kan met sout verlig word. Sout trek die water uit die geswelde area, verminder die swelling, en maak dit makliker om te sluk.

Ses mites en feite oor sout

(Foto: iStock)

  • “Hoe meer jy sweet, hoe meer sout het jy nodig.” Dit is wel belangrik om genoeg water op ʼn warm dag in te neem of as jy baie aktief is. Te veel sodium veroorsaak egter waterretensie, terwyl kalium weer op sy beurt van oortollige natrium ontslae raak. Soos bo genoem het die liggaam elektroliete nodig, wat natrium, magnesium, kalium, kalsium en chloried insluit. ʼn Balans tussen ál dié minerale is dus nodig.
  • “Seesout is beter as vervaardigde sout omdat dit ‘natuurlik’ is.” Die oorsprong is nie die sondebok nie, of dit nou Himalaja-sout, seesout, rotssout, swart sout of pienk sout is. Dit is die (oormaat) natrium wat skadelik is.
  • “Sout wat tydens kosmaak bygevoeg word, is die hoofbron van ons soutinname.” Sowat 80% van die sout wat ons inneem, kom van verwerkte voedsel, speserye en sous.
  • “Kos sonder sout is laf en smaakloos.” Dit neem ʼn tydjie vir ʼn mens se smaakknoppies (“taste buds”) om aan te pas, maar sodra jy aan minder sout gewoond is, ontvou ʼn hele nuwe wêreld van geure en smake.
  • “Kos met ʼn hoë soutinhoud próé baie sout.” Sommige kos wat baie natrium bevat, het nie ʼn buitengewoon sterk soutsmaak nie, omdat dit dikwels met suiker gemeng word en die smaak verdoesel. Lees etikette deeglik om te weet hoeveel sout (in Engels: “sodium”) in produkte skuil.
  • “Net ou mense moet let op hul soutinname.” Hoë bloeddruk kan sy kloue in enigiemand slaan, selfs kinders!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.