Voedselwenke vir post-Covid-19-pasiënte

(Foto: Verskaf)

Volgens die Suid-Afrikaanse Dieetkunde-vereniging (Adsa) is voeding en gesonde eetgewoontes ʼn belangrike deel van die Covid-19-herstelproses en pasiënte behoort nie alleen te sukkel met ʼn onvoldoende inname van voedingstowwe nie.

Die koronavirus beïnvloed mense op verskillende maniere: Sommige is asimptomaties; baie het ʼn ligte graad daarvan; party moes in die hospitaal opgeneem word, maar het nie ventilasie nodig nie; terwyl ander weer lang tye in die intensiewesorgeenheid (ISE) deurbring.

Daar is mense wat vinnig herstel, maar ʼn aantal ly aan “verlengde-Covid-19” en ervaar simptome wat maande voortduur.

Omy Naidoo, een van Adsa se woordvoerders en geregistreerde dieetkundige, wys daarop dat mense wat van Covid-19 herstel steeds gesondheidsprobleme ervaar.

“Covid-19-simptome soos verlies aan smaak en reuk kan nog lank aanhou, en hierdie sintuie het ʼn groot invloed op ʼn mens se eetlus,” sê hy. Chroniese moegheid, gewigsverlies, verlies aan spiermassa en algemene swakheid kom ook algemeen voor.

Volgens Naidoo is die hoofdoel van herstelvoeding om genoeg voedingstowwe te verskaf wat genesing ondersteun, en daarom is ʼn verlies aan eetlus ʼn uitdaging wat hanteer moet word.

Algemene voedingswenke vir herstel ná Covid-19  

Wanneer jy of ʼn familielid tuis aansterk en chroniese verlies van eetlus ervaar is daar verskillende benaderings wat gevolg kan word, verduidelik Naidoo.

“Dit kan nodig wees om voedingsaanvullingsdrankies (“nutrition supplement drinks”) te neem as die persoon nie genoeg proteïene en kalorieë per dag kan inneem nie. Voedingsaanvullingsdrankies van goeie gehalte is maklik verteerbaar en bevat ʼn gebalanseerde hoeveelheid proteïene, koolhidrate, vet en nodige mikrovoedingstowwe.”

Naidoo het nog ʼn paar algemene voedingswenke vir pasiënte wat tuis aansterk:

  • Wanneer jy ʼn infeksie beveg, benodig die liggaam meer energie en meer vloeistowwe. Eet elke dag ʼn verskeidenheid kossoorte om gebalanseerde voeding te verseker.
  • Eet baie groente en vrugte, en sluit plantgebaseerde maaltye in om optimale inname van immuun-ondersteunende vitamiene en minerale te verseker.
  • Maak volgraan en veselryke voedsel (wat groente, vrugte en slaaie insluit) deel van die meeste maaltye.
  • Drink baie skoon, veilige water, aangesien voldoende hidrasie noodsaaklik is vir herstel. Fokus veral op hidrasie as jy steeds simptome soos koors, braking en diarree ervaar.
  • In die geval van spiermassaverlies fokus op ʼn hoë-proteïen dieet om die spierherstel te ondersteun. Goeie proteïenbronne sluit in maer hoender, eiers, suiwelprodukte en vis, asook peulgewasse soos bone, lensies en kekerertjies.
  • Beperk suikerryke voedsel en drankies, sterk verwerkte kos en kitskos.

Voedingsraad vir post-Covid-19-pasiënte met diabetes of hartsiektes

Volgens Adsa moet post-Covid-19-pasiënte wat ook diabetes het en aan kardiovaskulêre siektes ly spesiale aandag aan hul voedingsgewoontes gee.

Andiswa Ngqaka, nog ʼn Adsa-woordvoerder en geregistreerde dieetkundige, deel die volgende raad:

  • Monitor jou bloedsuikervlakke. Gereelde waarneming sal komplikasies wat deur lae en hoë glukosevlakke veroorsaak word, beheer.
  • Dit is belangrik om gereeld klein maaltye te eet, byvoorbeeld drie maaltye per dag en gesonde versnaperinge soos neute tussenin. Dit voorkom skommelinge in die glukosevlakke.
  • ʼn Ideale dieet bevat baie vesel, volgraan, peulgewasse asook genoeg groente en vrugte.
  • Vermy suiker en ongesonde vette en verminder soutinname, hoë vet en verwerkte vleisprodukte.
  • Voedsel wat immuniteit ondersteun en inflammasie verminder is belangrik vir die hart. Fokus op groente en vrugte van verskillende kleure om ʼn spektrum vitamiene en minerale te verskaf wat die immuunstelsel ondersteun.
  • Infeksies soos die koronavirus dra by tot ʼn toename in bloedsuikervlakke, daarom is dit nodig om voldoende vloeistowwe in te neem. Skoon, veilige water is die beste.
  • Moet jouself nie oorwerk nie en maak seker dat jy goeie nagrus kry.

Voedingsraad vir post-Covid-19-pasiënte nadat hulle in die intensiewesorgeenheid (ISE) was

Ngqaka deel die volgende raad vir mense wat tuis aansterk ná ʼn verblyf in ISE:

  • ʼn Gebrek aan eetlus kan hanteer word deur die pasiënt aan te moedig om klein, gereelde maaltye te eet.
  • Fokus op hoë vesel- en volgraanvoedsel, asook kos wat ryk is aan vitamiene en minerale, soos groente en vrugte.
  • Probeer om proteïenryke in elke maaltyd in te sluit. Dit help om spierverlies te vervang en jou krag te herwin.
  • ʼn Dieetkundige kan mondelinge voedingsaanvullingsdrankies aanbeveel wat nodig mag wees.

Voedingsraad vir swanger vroue wat van Covid-19 herstel

Volgens Ngqaka het swanger vroue wat van Covid-19 herstel ook vrae rondom voeding. “Hulle voel angstig en wil so vinnig as moontlik weer gesond word. Swanger vroue wil natuurlik ook seker maak dat hul liggame die ontwikkeling van hul ongebore babas ondersteun terwyl hulle herstel.” Vol gerus dié raad deur Adsa:

  • Sluit voedsel met baie yster in, soos spinasie, aspersies, broccoli, gedroogde appelkose, lensies, boontjies, eiers, vis, hoender en maer rooivleis.
  • Sluit voedsel met volop folaat in, soos spruitkool, sampioene, groen blaargroente, ertjies, kekerertjies, bone, lensies, botterbone en sojabone.
  • As jy ʼn verlies aan eetlus het, konsentreer dan op gesonde versnaperinge en maak meer gereeld gesonde en kleiner etes.
  • Dit is belangrik om goed te rus en rustig te wees tydens die herstelperiode.

Hierdie artikel is nie bedoel en moet nie beskou word as mediese advies nie. Raadpleeg altyd jou geneesheer en/of apteker oor die moontlike newe-effekte of interaksie wat medisyne (voorskrif- én oor-die-toonbank-medisyne) met enige aanvullings of voedselprodukte kan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cora ·

Wat ek agter gekom het is dat ek net nie lus is vir kos nie. Het vandag besef ek het 3 dae laas geeet en selfs tee gedrink. ‘n Ou besef nie hoe die Covid ding jou gryp nie

Boekwurm ·

Ek het myself voorberei, net voordat ek my Covid inspuiting ontvang het . Ek moedig ander ook aan om my raad te volg: . Ek het sop gemaak die dag voor die tyd en het seker gemaak ek het Panados in die huis. Ek was effens moeg die dag na my inspuiting, darem met geen ernstige newe effekte, en wou nie nog sukkel met kosmaak nie. Dit was n wyse besluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.