‘Weg met skerms’ sê oogarts oor kinders se ooggesondheid

Foto ter illustrasie. (Foto: NRD/Unsplash)

Skerms speel deesdae ʼn alomteenwoordige rol in mense se lewens. Tiaan Massyn, ʼn Pretoriase oogarts, glo die oorgebruik van skerms rig ongelukkig veral onherstelbare skade aan kinders se oë aan.

Massyn, wat ook ʼn Mnr. SA-finalis en kranige kunstenaar is, sê dat die hoeveelheid brille wat hy in die laaste vyf jaar vir kinders tussen die ouderdomme van ses en twaalf moes voorskryf, verdubbel het. Dié toename skryf hy direk aan die oorgebruik van skerms toe.

“Kinders hou die skerms omtrent 10 sentimeter van hul oë af. Die liggaam is ʼn wonderlike ding, hy gaan naderhand aanpas vir daardie skermgebruik. Dit gebeur al hoe meer en meer dat kinders bysiende word. Met ander woorde, hulle kan nie op voorwerpe wat ver is, fokus nie,” het Tiaan aan Maroela Media verduidelik.

“Daar is studies wat toon dat 50% van die wêreld se bevolking teen 2030 bysiende gaan wees.”

Mense wat daagliks vir ure aaneen agter ʼn rekenaar sit en werk, ervaar ook ʼn stelselmatige agteruitgang van hul sig, sê Massyn. Alhoewel dit nie noodwendig moontlik is om dié agteruitgang in geheel te halt nie, is dit moontlik om dit te vertraag.

Hy stel voor dat mense ernstig daarop let om hul skermgebruik drasties te verminder, en dat hulle breuke moet vat om nie net asem te skep nie, maar ook om hul oë ʼn blaaskans te gee. Dit beteken dus ook dat dié breuke nie met selfone gepaard moet gaan nie.

Massyn glo ook dat ouers hul kinders se skermgebruik moet beheer, en oplettend moet wees op hul kinders se gedrag. Wanneer kinders hul koppe draai of hul oë op skrefies trek wanneer hulle ver kyk, beteken dit heel moontlik dat hulle sukkel om ver te sien.

“Dit is veral belangrik om skoolgaande kinders, hier van die ouderdom van ses af, se oë te laat toets. Daar is kinders wat swak presteer, en dan is dit bloot omdat hulle nie twee meter voor hulle kan sien nie.”

Ter viering van oogsorgbewustheidsmaand, wat in Oktober plaasvind, moedig Massyn mense aan om minstens een keer elke twee jaar hul plaaslike oogarts te besoek, en om ten alle tye dankbaar te wees vir goeie sig, aangesien dit nie almal beskore is nie.

Tesame met gereelde oogartsbesoeke, sê Massyn dat dit belangrik is om te weet wat jou ooggesondheidsgeskiedenis is. Indien jy iemand in jou gesin het wat ly aan ʼn oogsiekte soos Gloukoom, of selfs diabetes het, stel hy voor dat jy eerder jaarliks  ʼn draai by jou oogarts gaan maak. Sodoende, kan daar enige kwale vroegtydig opgespoor en aangespreek word.

“Ek moes al baie kere in my lewe slegte nuus vir mense gee, en dit is dikwels so voorkombaar,” verduidelik hy.

Vir diegene wat kontaklense bo ʼn bril verkies, raai Massyn aan om liefs nie aldag van kontaklense gebruik te maak nie. Hy verduidelik dat kontaklense nie as ʼn algehele plaasvervanger vir ʼn bril beskou moet word nie, aangesien dit steeds ʼn plastieklaag bly wat skade kan aanrig as dit vir te lank op die oog gelos word.

Massyn stel voor dat mense kontaklense werk toe dra, maar om dit dadelik uit te haal en te vervang met ʼn bril sodra hul tuisgekom het. Hy raai mense ook ten sterkste af om met kontaklense te slaap, aangesien dit baie gevaarlik vir hul oë kan word.

“Higiëne is ook uiters belangrik. Mense wat kontaklense vir te lank aaneen dra, kan ernstige komplikasies ontwikkel.”

“As jy sukkel met chroniese droë oë, kan dit dalk wees omdat jy jou oë veel minder knip as jy sit en werk by ʼn rekenaar. Lugverkoelers kan ook ʼn impak hê. Hou maar ‘n botteltjie oogdruppels byderhand om elke nou en dan in jou oë te gooi: dit hou tegelykertyd jou oë gesond en gemaklik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daisy ·

Ek het dit al lankal gese, maar toe moes my kinders mos maak asof ek net outyds is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.