Wêreldvetsugdag: Oorsake, gevolge en behandeling

(Foto: Siora Photography/Unsplash)

Wêreldvetsugdag word op 4 Maart wêreldwyd gevier om bewustheid oor dié toestand te bevorder.

Vetsug is ʼn toenemende gesondheidsprobleem wat tans sowat 13% van volwassenes wêreldwyd raak. In Suid-Afrika is tot 70% vroue, 31% mans en 13% kinders oorgewig. Dit was ook in 2017 die oorsaak van 4,7 miljoen voortydige sterftes – vier keer meer as sterftes in motorongelukke.

Wat is vetsug?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beskou vetsug as abnormale of oortollige opeenhoping van vet, wat ʼn gesondheidsrisiko inhou.

Die ligaamsmassa-indeks (LMI) word algemeen gebruik om vas te stel of iemand oorgewig is of nie. Dié skaal het wel al onder kritiek deurgeloop omdat dit nie alle faktore van ʼn mens se liggaam soos spiermassa in ag neem nie. Nietemin word LMI (Engels: BMI) deur die WGO gebruik om te bepaal of iemand ʼn gesonde gewig het.

Volgens die WGO se webwerf word ʼn LMI van meer as 25 as oorgewig beskou en meer as 30 word as vetsugtig beskou. Al hoe meer volwassenes en kinders is jaarliks oorgewig of het vetsug. Van 1975 tot 2016 het vetsug onder kinders tussen vyf en 19 jaar oud viervoudig toegeneem.

Werk jou LMI só uit:

Jou gewig in kilogram ÷ (lengte in meter x lengte in meter) = jou LMI.

Byvoorbeeld:

80 kg ÷ (1.71 m x 1.71m)

= 80 ÷ 2.92

= 27

Hierdie persoon het ʼn LMI (oftewel BMI) van 27 en word dus as oorgewig beskou. Kyk hier waar op die LMI-skaal jy val.

Lees hier meer oor vetsug.

Oorsake

Een van die grootste wanopvattings oor vetsug is dat dit slegs voorkom weens ʼn ongesonde dieet en te min fisieke aktiwiteit.

Hoewel ʼn gesonde dieet en genoeg fisieke aktiwiteit ʼn groot rol speel, is daar ook ander faktore om in ag te neem. Studies toon dat ʼn tekort aan slaap ʼn groot invloed op kinders en volwassenes het omdat dit lei tot hormoonveranderinge wat die eetlus verhoog.

Novo Nordisk, ʼn internasionale gesondheidsmaatskappy, sê jou gene speel ook ʼn groot rol in oortollige vet en vetsug.

Hoekom is vetsug gevaarlik?

Vetsug is ʼn mediese toestand en gaan met verskeie komplikasies gepaard. Die grootste risiko is kroniese siektes soos hartsiekte en beroerte.

Vetsug kan verder lei tot diabetes en toestande wat met diabetes gepaardgaan soos blindheid, amputasie van ledemate en die behoefte aan dialise.

Vetsug kan ook die skelet beïnvloed omdat die oortollige gewig tot spierskeletsiektes, waaronder osteoartritis, kan lei.

Hipertensie, hoë cholesterol, verskeie soorte kanker en geestesiektes kan ook weens vetsug voorkom.

Behandeling

Die algemeenste behandeling vir vetsug is ʼn gesonde dieet en meer fisieke aktiwiteit. Daar is wel ook medikasie wat deur dokters voorgeskryf kan word wat mense kan help om oortollige gewig te verloor.

ʼn 2016-studie deur die Nasionale Instituut van Gesondheid het getoon mense met vetsug, wat tussen 5% en 10% van hul liggaamsgewig verloor en die gewig ook kan afhou, kon hul gesondheid verbeter en hul kanse om verdere siektes te ontwikkel, drasties laat verminder.

Vetsug is wel ʼn ernstige mediese toestand en moet altyd met sorg en saam met ʼn dokter aangepak word, aangesien kitsdiëte meer kwaad as goed doen.

Die WGO stel voor ʼn mens doen sowat 150 minute matige oefening per week om ʼn positiewe uitwerking op jou gewig en gesondheid te hê (150 minute oefening per week is 30 minute oefening vir 5 dae van die week).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.