Gesinsportnuts: Opel Grandland vs. Tiggo 8 Pro Max

Chery se Tiggo 8 Pro Max

Motorpryse skiet steeds die hoogte in met tradisionele sportnutse wat jou in die omgewing van R700 000 uit die sak sal jaag terwyl groot sportnutse se pryse al hoe nader aan die R1 miljoen-kerf kruip.

Ek het onlangs met Opel se nuwe Grandland gery en kort daarna Chery se Tiggo 8 Pro Max onder hande gehad – albei was die topmodelle in hul onderskeie reekse. Die Opel Grandland 1.6T Ultimate sal jou R720 900 uit die sak jaag, terwyl die Chery Tiggo 8 Pro Max 2.0T Executive ʼn raps goedkoper is teen R669 000.

Opel se Grandland

Die Grandland en Tiggo 8 Pro Max is albei ruim gesinsmotors. Die Chery se voordeel hier is egter die opsie van sewe sitplekke. Die Chery is so 30 cm langer as die Opel teen 4 720 mm en ook ietwat hoër (1 609 mm teenoor 1 705 mm). Wanneer die Tiggo se derde ry sitplekke afgeslaan word en hy dus net soos die Grandland vyf sitplekke het, is sy kattebakspasie ook heelwat meer – 739 liter teenoor die Grandland se 514 liter.

Die Grandland is modern en met die intrapslag is dit duidelik dat jy hier met Duitse afwerking en gehalte te make het. Dit elektries verstelbare leersitplekke wat ook verhit en verkoel is, is oombliklik gemaklik en spog met funksies soos geheueposisies. Daar is ook ʼn verhitte stuurwiel. Die ergonomie in die kajuit is lekker met ʼn aaneenlopende digitale paneel wat in twee verdeel is – een met digitale instrumente voor die bestuurder en die middel een met die nutsfunksies. Daar is fisieke skakelaars vir die lugversorging en ander funksies.

Die Tiggo 8 Pro Max is ook uiters modern en regtig mooi. Aan die binnekant is hy uiters luuks en die elektries verstelbare leersitplekke is ook verhit en verkoel en ook oombliklik soos met die Grandland. Die Tiggo se binneruim is vir my weelderiger as die Grandland sʼn en die Sony-klankstelsel is puik.

Die Tiggo het ʼn 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin met 187 kW en 390 Nm terwyl die Grandland  ʼn turboaangejaagde 1.6‑viersilinderpetrolenjin onder die kap het wat 121 kW en 240 Nm bied. Die kalibrering van die Tiggo se versneller saam met die dubbelkoppelaar‑ outomatiese ratkas het tot gevolg dat die wegtrek ʼn bietjie stamperig en stoterig kan wees.

Die Grandland se versneller is egter perfek gekalibreer, so jy kan mooi egalig wegtrek en die versneller in die mat begrawe. Wanneer die Tiggo aan die gang is, snol hy ook behoorlik. Albei het genoeg krag om gemaklik verby te steek en gerieflik die langpad aan te durf. Die Grandland en Tiggo se ritgehalte is soepel genoeg ten spyte van hul 18”‑wiele en bied tegelykertyd ook goeie padhouvermoë. Wanneer dit by brandstofverbruik kom, is die Tiggo 8 Pro Max egter aan die swaar kant met ʼn gemiddelde verbruik van by die 10 ℓ/100 km terwyl die Grandland lekker lig op brandstof is.

Aan die veiligheidskant het albei motors ʼn magdom aktiewe en passiewe stelsels om die gesin veilig te hou.

Hoe kies jy dan? Die Tiggo 8 Pro Max bied werklik goeie waarde vir geld gegewe die sewe sitplekke, spasie en ander luukshede. Die Grandland se prys is redelik stewig, maar jy kry Duitse gehalte en ʼn goed toegeruste voertuig wat gladde werkverrigting bied. Dit gaan dus hier oor spesifieke behoeftes gaan – so gaan toetsbestuur gerus albei en kyk wat werk die beste vir jou en jou gesin.

Die Grandland word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en -diensplan. Diensintervalle is jaarliks of elke 20 000 km. Die Tiggo word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km‑voertuigwaarborg en 10 jaar/1 000 000 km‑enjinwaarborg vir die eerste eienaar sowel as ʼn 7 jaar/90 000 km‑diensplan.

Só lyk die Grandland-reeks:

Opel Grandland 1.6T121 kW/240 Nm7 ℓ/100 kmR599 900
Opel Grandland 1.6T GS Line121 kW/240 Nm7 ℓ/100 kmR679 900
Opel Grandland 1.6T Ultimate121 kW/240 Nm7 ℓ/100 kmR720 900

Só lyk die Tiggo 8 Pro-reeks:

Chery Tiggo 8 Pro 1.6TGDI 290T Executive145 kW/290 Nm7,2 ℓ/100 kmR609 900
Chery Tiggo 8 Pro Max 2.0TGDI 390T Executive187 kW/390 Nm7,6 ℓ/100 kmR669 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.