Omoda tree toe tot plaaslike motorbedryf

Een ding wat ons in die afgelope paar jaar geleer het, is dat die Chinese ʼn nuwe toewyding het om die wêreldmarkte te oorwin.

Hulle het ʼn klomp lesse oor die afgelope twee dekades geleer met Chery se eerste probeerslag in Suid-Afrika wat heeltemal gefaal het. GWM het gelukkig sterk gestaan, maar dis meer die afgelope drie jaar vir Haval waar dinge in die regte rigting begin skuif. Chery het na Suid-Afrika teruggekeer met produkte wat nie in dieselfde klas as die eerstes gesit kan word nie – werklik indrukwekkend.

Dis nou tyd om ʼn nuwe handelsmerk welkom te heet – Omoda. Vir nou kom hy uit Chery se stal, maar hy sal eersdaags heeltemal op sy eie staan.

Die eerste model in die stal is die Omoda C5 – ʼn C-segment-kruismodel. Dink in die rigting van Nissan se Qashqai en Volkswagen se T-Roc. Die ontwerp is futuristies en trek aandag. Die binneruim se ontwerp is werklik luuks en aanvanklike gehalte beïndruk. Die materiale wat gebruik word, voel voorwaar goed. Daar is slegs een element aan die binneruim op die middelkonsole wat ek glo nie lank sal mooi bly nie – dis ’n veltinsetsel waar jy jou slimfoon rus op die draadlose laaimatjie.

Die Chinese is bekend vir hul hoëspesifikasievlakke in hul voertuie en die Omoda stel nie teleur nie. Elke denkbare luuksheid – leerbekleedsel, CarPlay en Android Auto, klimaatbeheer, spoedkontrole, elektriese sitplekke en laaipoorte in oormaat – is daar.

Onder die kap sit ʼn gladde 1.5‑viersilinderturbopetrolenjin wat 115 kW en 230 Nm bied. Omoda maak aanspraak op ʼn brandstofverbruiksyfer van 6,9 ℓ/100 km – maar ons sal eers sien as ons weer tyd met die C5 deurbring in die daaglikse roetine.

Dit is eerder die veiligheidsuite wat werklik beïndruk. Daar is ʼn magdom aktiewe en passiewe stelsels om jou veilig te hou. Aan die passiewe kant is daar stelsels soos sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer, ʼn klomp lugsakke – die lot. Aan die aktiewe kant is daar stelsels soos aanpasbare spoedkontrole, botsingwaarskuwing, noodremhulp, blindekolwaarskuwing, baanbeheer, baandwaalwaarskuwing en nog vele meer.

Op die pad toer die C5 gemaklik. Ritgehalte is heel in die kol en net die ergste slaggate kan sy vering omkrap. Padhouvermoë is voldoende vir dié tipe voertuig en al wat effens aandag kort is die stuur se akkuraatheid. ʼn Mens moet soms twee keer mik vir ʼn draai indien jy ʼn bietjie voet in die hoek sit. As jy harder ry, kan die CVT‑palwisseltransmissie ook bietjie grof voorkom, maar daar is nie ʼn CVT op aarde wat dit nie doen nie – en die Omoda se CVT is beslis een van die beter voorbeelde daar buite.

Ek sal die Omoda C5 só opsom. Dit is puik waarde vir geld teen die prys, en Omoda bied ʼn indrukwekkende diensplan van vyf jaar/70 000 km en ʼn verstommende enjinwaarborg van 1 miljoen km aan die eerste eienaar, verder ʼn vyf jaar/150 000 km-voertuigwaarborg.

Die reeks lyk só:

Omoda C5 1.5T TechR447 900
Omoda C5 1.5T EleganceR507 900
Omoda C5 1.5T Elegance SR509 900

Ons sal ná ons weer tyd met die C5 deurgebring het, hom met sy mededingers vergelyk.

Haloda, Omoda.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.