Op berge en in dale… hierdie Honda loop lékker

(Foto: Brian Cheyne)

Ek en my gereelde reisgenoot het beplan om ’n naweek Kaapsehoop toe te ry met ons motorfietse. Al die beplanning was gedoen, maar toe kom laai Honda die nuwe CB500X by my af. Hierdie fiets is aan die einde van 2022 plaaslik bekend gestel.

Die roete wat Honda vir ons uitgewerk het, was uiters tegnies met diep modder en steil opdraandes – en die klein Honda het daardie toets geslaag.

Ons was wel oortrek met modder en stof, maar dit is tog deel van die pret. En dit het my laat dink: Honda het bewys dat hierdie fiets die mees tegniese paaie kan baasraak, maar hoe gaan hy vaar op die oop pad as ’n avontuurtoerfiets?

Ek het dadelik al die bagasie uit my Ducati gepak en na die Honda begin oorskuif. Die CB500X vertoon groot en met sy bagasietassie agterop het hy sommer reg gelyk vir die reis. Honda verkoop nou al ’n geruime tyd die X in Europa, so daar is heelwat bybehore regstreeks van Honda beskikbaar.

Self sal ek nie uit die vertoonlokaal ry sonder sy beskermende pyprame nie. Daar is ook verskeie bagasie-opsies beskikbaar, afhangend van jou eie behoeftes.

Ons het ’n Vrydagmiddag weggetrek uit Pretoria en sommer gou die eerste spoedlokval gesien. Gelukkig is my reisgenoot ’n rustige ryer ons het mooi by die spoedgrens gehou. Dit het natuurlik goeie brandstofverbruik tot gevolg gehad.

Tydens ons stop by die Berg-en-Dal-monument, net verby Belfast, het ek tyd gehad om oor die CB na te dink. Dit is ’n ongelooflike gemaklike fiets om te ry. Die skerm bied genoegsame beskerming teen die wind, en omdat die fiets so hoog is, is die sitposisie baie gemaklik.

(Foto: Verskaf)

Die instrumentepaneel is my enigste bron van klagtes. Die skerm bied nie genoeg kontras nie wat dit moeilik maak om te lees, behalwe in direkte sonlig. Miskien was ek net onkundig en bestaan daar tog ’n manier om die helderheid te stel.

Nietemin, van Berg-en-Dal het ons gou stilgehou by die Elands-waterval. Ons het sommer regdeur die ou NZASM-tonnel gery en die uitsig geniet. Met die onlangse reën het die waterval mooi sterk geloop.

Net voor die (peperduur) Machado-tolhek het ons brandstof ingegooi en danksy ons rustige pas het die Honda 33 km/ℓ gelewer. Dit is beteken dat  ʼn reikafstand van meer as 500 km met die fiets se 17,5 ℓ- tenk moontlik sal wees.

Net ná Ngodwana draai jy regs na Kaapsehoop. Met die heerlike kronkeldraaie het ek gou besef dat brandstofverbruik nie hoog op my prioriteitslys gaan wees nie. Die fiets se vering is vergewend en die CB het nie oorbodige krag nie. Jy kan elke draai en elke kinkel met absolute vertroue aanpak.

(Foto: Brian Cheyne)

Die volgende oggend het ons sommer doelloos rondgery en ek het die Honda terdeë geniet. Hierdie fiets maak net soveel sin.

Dit is ’n Honda, so jy weet dit gaan betroubaar wees. As die pad ophou kan jy net aanhou ry, want jy weet die motorfiets is gereed daarvoor. Sou jy êrens ’n flater begaan, is die fiets lig genoeg om te kan optel en aangaan. Lang afstande is ook nie ’n probleem nie en met sy karige brandstofverbruik is hy boonop lig op die beursie.

Die Honda CB500X is ’n skitterende fiets en ek is so bly dat Honda uiteindelik hierdie model invoer. Die Honda CBX500X is meer as genoeg om jou drome vlerke te gee!

  • Vir meer inligting oor die CB500X klik hier.

(Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.