Porsche bult sy spiere

Die Porsche GT3 Touring.

Die ingenieurs by Porsche slaap seker nooit nie. Daar is pas nuwe modelle oorsee en plaaslik bekendgestel én ʼn nuwe rekord is opgestel vir die vinnigste sportnutsvoertuig om die Nürburgring-renbaan in Duitsland.

Porsche se GT3 RS is een van die asemrowendste voertuie wat ek al ooit die voorreg gehad het om mee te ry. Kort daarna het Porsche sy splinternuwe 992-reeks GT3 gewys.

En nou is dit tyd vir die volgende weergawe. Welkom aan die Porsche 911 GT3 Touring. Die Touring-pakket bied gewoonlik ʼn sesspoed handratkas, maar kan vir die eerste keer gekies word met ʼn sewespoed PDK- dubbelkoppelaarratkas. Die GT3 Touring het minder vinne en vlerke en is basies al die spiere sonder die afmouhempie.

As dit kom by sportmotors bied ʼn Nürburgring-rekord groot spogregte. Lars Kern, ʼn Duitse renjaer, het met Porsche se nuwe vinniger Cayenne, wat onlangs bekendgestel is, die Nordschleife, wat 20,6 km lank is met 170 draaie, in ʼn fantastiese sewe minute en 38,9 sekondes aan die brand gery.

Ons het plaaslik al met twee verskillende 992-generasie 911’s gery. Die 911 Carrera S en die Turbo S. Daar was egter een model wat ons tot dusver ontduik het… en moontlik die goue middeweg in die reeks – die 911 Carrera GTS.

Die nuwe GTS bied 353 kW, 22 kW meer as sy voorganger. Daar is nou vyf GTS-modelle beskikbaar. ʼn 911 GTS met agterwielaandrywing – in ʼn koepee of afslaandak-bakstyl. Dan ʼn Carrera 4 GTS met vierwielaandrywing – en dieselfde twee bakstyle. Die Targa-bakstyl is slegs met vierwielaandrywing beskikbaar.

Die GTS beskik oor ʼn agtspoed PDK- dubbelkoppelaarratkas. Dié ratkas, gepaard met die 3,0 turboaangejaagde bokser-sessilinderenjin bied 353 kW en 570 Nm. 0 – 100 km/h neem ʼn blitsige 3,3 sekondes. Die koepeemodelle is beskikbaar met ʼn sewespoed handrat.

Die 911 GTS reeks prys só:

Porsche 911 Carrera GTSR2 290 000
Porsche 911 Carrera GTS CabrioletR2 490 000
Porsche 911 Carrera 4 GTSR2 400 000
Porsche 911 Carrera 4 GTS CabrioletR2 600 000
Porsche 911 Targa 4 GTSR2 600 000

Alle modelle word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.