Sinneloos – maar tog só lekker!

Baie dinge in die lewe is nie prakties nie, en maak ook moontlik nie sin nie, maar dit bly egter lekker. Die BMW X6 is presies só. Ek sien nie die punt van ʼn koepeestyl-sportnutsvoertuig nie… en toe gaan plak BMW ʼn M Competition-plakkertjie op hul X6 en gee vir hom ʼn 4.4 V8 met twee turbo’s en 460 kW!

So… hier sit ons met ʼn vyfsitplekgesinsvoertuig waarvan die daklyn platgedruk is sodat hy soos ʼn koepee lyk wat kopruimte agter minder maak en die kattebak kleiner teenoor ʼn X5… en effens harder vering… hoekom? Dit maak vir my ook nie sin nie – maar ek sal een ding sê… die X6M is baie vinniger as supermotors van ʼn paar jaar gelede. Wat die ingenieurs deesdae regkry is waansinnig. Ja, ʼn plat sportmotor wat baie ligter is gaan altyd vinniger wees, maar nie veel nie hoor.

As ons my opinie oor koepee-sportnutse buite rekening laat is die X6 seker nie lelik nie. Die binneruim is pragtig aanmekaargesit – en hou by BMW se huidige ontwerpstyl. Die oomblik wat ʼn mens begin ry kan jy voel dat die onderstel, vering, remme en bande van fantastiese gehalte is.

Dit moet egter só wees, want die X6M kom uit Duitsland. Daar is ʼn Autobahn. By tye, en op sekere gedeeltes, is daar geen spoedbeperking nie. Die X6M sal aanhou hol tot ʼn fantastiese 290 km/h en 100 km/h haal in 3,8 sekondes! Een ding is gewis – ʼn mens sal nooit weer laat wees vir ʼn belangrike vergadering nie.

Soos ek sê… op die pad voel die X6M rateltaai. Dit voel ook so veilig soos ʼn kluis. Ja, dit rit is nogal hard – maar om die bakrol te beheer en die X6M in staat te stel om soos ʼn mal ding om draaie te jaag kan dit nie anders nie.

Dit is baie maklik om die BMW X6M op te som. Dit is sinneloos – maar só ook is ʼn 7-ster hotel. Dit sê nie ek wil nie eendag vir een aand in die Burj Al Arab slaap nie. Vir diegene wat daardie soort geld het, hoekom nie?

Die reeks lyk só:

BMW X6 xDrive30d195 kW/ 620 Nm7,2 ℓ /100 kmR1 518 872
BMW X6 xDrive40i250 kW/ 450 Nm9 ℓ /100 kmR1 546 118
BMW X6 xDrive30d M Sport195 kW/ 620 Nm7,2 ℓ /100 kmR1 583 672
BMW X6 xDrive40i M Sport250 kW/ 450 Nm9 ℓ /100 kmR1 610 918
BMW X6 M50d294 kW/ 760 Nm7,2 ℓ /100 kmR1 944 548
BMW X6 M50i390 kW/ 750 Nm11,5 ℓ/100 kmR1 954 484
BMW X6M Competition460 kW/ 750 Nm12,5 ℓ/100 kmR2 882 320
BMW X6M Competition First Edition460 kW/ 750 Nm12,5 ℓ/100 kmR3 100 120

Die reeks word gedek deur ʼn twee jaar/onbeperkte km-waarborg en ʼn vyf jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Audi RSQ8441 kW/ 800 Nm12,1 ℓ / 100 km3.8 sek

250 km/h

1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R2 354 500
Range Rover Sport SVR423 kW/ 700Nm12,8 ℓ / 100 km4.5 sek

283 km/h

5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR2 654 862
Mercedes-AMG GLE 63 S Coupé 4Matic +450 kW/ 850 Nm12,6 ℓ / 100 km3.8 sek

280 km/h

2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R2 970 920

Tussen dié mededingers is die RSQ8 ʼn winskoop, en die Range Rover is die enigste een met ʼn laestrekratkas wat veldskoene in sy gereedskapskis het. Almal is fantasties. Indien jy in die mark is – toetsbestuur almal.

Die Blitsige BMW X6 M Competition

Die vinnigste wat enige iemand, al ooit, skelm gaan koffie het ☕️… Pierre Malan, Philip van Zyl en Brendon Staniforth.#bmwsouthafrica #bmwX6Mcompetition #maroelamedia #forumfilms #dappermedia

Posted by Perdekrag on Tuesday, March 23, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Slegs tenderpreneurs kan die soort voertuig deesdae bekostig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.