Verbruikersake: Jou regte wanneer jy ’n motor op ’n veiling koop

(Foto: Pixabay)

ʼn Mens kan ʼn motor op ʼn veiling koop en baie geld spaar en deesdae kan jy sommer ook by jou bank finansiering kry daarvoor, maar dit is belangrik om te weet wat jou regte is wanneer jy ʼn motor op ʼn veiling koop, omdat jy nie soveel beskerming geniet volgens die Wet op Verbruikersbeskerming nie. Ina Opperman verduidelik waarvoor jy moet ligloop en wat jou regte is.

Die grootste verskil is dat jy nie die motor vir ʼn toetsrit kan neem nie, al is daar afslaers wat sal toelaat dat jy ten minste kyk of jy die motor kan aansit. Jy koop die motor ook voetstoots, aangesien artikel 55 van die wet, wat vereis dat goedere veilig en van goeie gehalte moet wees, nie van toepassing is op goedere wat jy op ʼn veiling koop nie.

Die wet maak egter voorsiening vir verbruikersbeskerming in artikel 45 en regulasies 18 tot 30 deur aan te dui hoe veilings gehou moet word, sowel as wat verbode is en wat toelaatbaar is.

Regulasies vir voertuigveilings

Saam met die algemene regulasies vir veilings, is daar ook spesiale reëls in die regulasies wat van toepassing is op voertuigveilings. Afslaers mag nie voertuie verkoop sonder ʼn kennisgewing aan die voertuig wat die volgende inligting bevat nie:

  • die naam en sake-adres van die afslaer
  • of die afslaer of veilingshuis die eienaar van die voertuig is en of die afslaer of veilingshuis verantwoordelik is vir enige herstelwerk
  • of die voertuig verkoop word namens ʼn motorhandelaar, bank of ander finansiële instelling (met die naam en sake-adres van die eienaar en of dit verantwoordelik is vir herstelwerk) of iemand anders (met ʼn verklaring oor wie verantwoordelik is vir herstelwerk en die besonderhede van die laaste eienaar wat nie ʼn handelaar, bank of finansiële instellings is nie) of alternatiewelik ʼn verklaring dat die laaste eienaar se besonderhede beskikbaar is by die afslaer
  • die naam en adres van iemand anders wat die voertuig van die eienaar gehuur het en dat die besonderhede van die persoon beskikbaar is by die afslaer
  • die vervaardigingsjaar indien bekend
  • die voertuig se eerste jaar van registrasie, vervaardiger en model, registrasienommer, enjin-nommer en identifikasienommer (VIN)
  • dat die odometer se lesing gewaarborg word en
  • waarom die voertuig nie gewoon verkoop word nie, maar liewer by ʼn veiling.

Algemene veilingsreëls

Volgens die algemene reëls vir ʼn veiling in die Wet op Verbruikersbeskerming moet die afslaer die algemene reëls van die veiling saamstel en beskikbaar maak vir die publiek ten minste 24 uur voordat die veiling begin. Die reëls moet ten minste die volgende inligting insluit:

  • die woorde ‘reëls van veiling’ in groot letters op die eerste bladsy
  • die datum, tyd en plek waar die veiling gehou word
  • die volle name, fisiese adres en kontakbesonderhede van die afslaer
  • alle verpligte inligting volgens die regulasies en die wet
  • ʼn verklaring dat die reëls van die veiling voldoen aan artikel 45 en die regulasies
  • die woorde: “Wanneer goedere by die veiling verkoop word as lotte, word elke lot, tensy daar bewys is van die teendeel, beskou as ʼn aparte transaksie”
  • ʼn verklaring dat die veiling sal begin op die tyd wat gepubliseer is en dat dit nie laat sal begin om enigiemand toe te laat om later aan die veiling deel te neem nie
  • ʼn voorwaarde dat enigiemand wat die veiling bywoon om te bie namens iemand anders, ʼn magtigingsbrief moet wys, saam met bewys van identiteit en woonadres wat nie ouer as drie maande is nie
  • Tensy die afslaer ook die eienaar of amptelike verkoper van die goedere is, ʼn verklaring dat die afslaer ʼn trustrekening het waarin alle geld betaal word vir die voordeel van die verkoper, nadat die kommissie afgetrek is
  • ʼn verklaring dat die afslaer gedurende die veiling sal aankondig wat die rede vir die veiling is, tensy die eienaar die goedere in die normale gang van sake of vrywillig verkoop
  • ʼn voorwaarde dat almal wat by die veiling wil bie voor die tyd moet registreer deur bewys te lewer van identiteit en woonadres
  • ʼn voorwaarde dat die bieërs se rekord en die verkopersrol gratis beskikbaar is vir inspeksie gedurende gewone handelsure en
  • ʼn opsomming van die totale koste van reklame en die hou van die veiling en ʼn verklaring om aan te dui of bykomende kostes bygetel is en indien dit gedoen is, hoe dit bereken is.

Hierdie reëls mag nie aanspreeklikheid ontken vir verkeerde inligting in die reklame of reëls van die veiling of die feit dat die veiling nie voldoen aan die regulasies nie.

Dit is belangrik dat jy toegelaat word om die voertuig na te gaan, al word jy nie toegelaat om dit vir ʼn toetsrit te neem nie. Dit beteken jy kan jou eie motorwerktuigkundige bring om na die voertuig te kyk voordat jy dit koop.

Afslaers is persoonlik verantwoordelik en aanspreeklik vir die inhoud van die veilingsreëls en word beskou as die agent van die eienaar of herverkoper van die goedere en moet hul verpligtinge nakom sodat die beste aanbod aanvaar word.

Wat afslaers nie mag doen nie

Afslaers mag hulle nie aan die volgende verbode gedrag skuldig maak nie

  • Enige fooi of kommissie aanvaar of hef van die koper as die verkoper nie hou by die ooreenkoms om die voertuig te verkoop nie
  • ʼn bod aanvaar van iemand wat nie vooraf geregistreer het nie
  • ʼn minimum of reserweprys vasstel sonder die uitdruklike geskrewe toestemming van die verkoper nie
  • ʼn item of lot verwyder van die veiling sonder die uitdruklike gekrewe toestemming van die verkoper nie
  • toelaat dat mense bie op ʼn item of lot wat nie soos vereis geadverteer is nie
  • afwyk van volgorde van items soos geadverteer nie
  • wetend toelaat dat die waarde, samestelling, struktuur, kenmerke of vervaardiging van die voertuig wanvoorgestel word nie
  • enigiemand toegang tot enige reklame, veilingsreëls of verkoperrol weier nie of
  • enigiemand betaal om as afslaer aangestel te word nie.

Wat hier belangrik is, is dat die afslaer nie toegelaat word om wetend wanvoorstellings toe te laat oor die waarde, samestelling, struktuur, kenmerke of vervaardiging van die voertuig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Veral van toepassing op WeBuyCars want mense weet nie dat hul “klas B” motors tegnies deur ‘n veiling aan jou verkoop word nie. Baie mense het al ‘n bloutjie geloop met hulle omdat hulle dit nie verstaan nie.

Gert ·

Ja wat mense ook moet verstaan is dat WebBuyCars ook nie n’ motorhandelaar is nie, maar slegs n’ wholesale company is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.