Verbruikersake: Keer só dat jou motor teruggevat word

Foto: Pixabay

Aangesien verbruikers al voor die pandemie noustrop getrek het, was die pandemie olie op die skuldvuur vir Suid-Afrikaanse verbruikers. Een van die slagoffers is motors wat nog nie afbetaal is nie en nou dikwels teruggeneem word omdat verbruikers eenvoudig nie met die paaiemente kan byhou nie. Ina Opperman het gaan kyk wat jy kan doen om te keer dat jou motor teruggevat word.

Finansiële instellings het aan die begin van die pandemie probeer om verbruikers in die moeilike tye wat ons nou beleef met maatreëls soos betalingsvakansies te ondersteun, maar verbruikers is steeds tot oor hulle ore in die skuld.

Experian se Consumer Default Index vir die eerste kwart van vanjaar het gewys dat verbruikers nog vir hul huislenings kon betaal, maar dat die afbetaling van motorkrediet geval het van 3,67% in Maart verlede jaar tot 4,10% in Maart vanjaar.

As jy jou motor verloor, sit jy sonder vervoer en as jy een van die gelukkiges is wat nog werk het, gaan jy sukkel om by die werk uit te kom. Dit is daarom baie belangrik om seker te maak jou motor word nie teruggeneem nie. Hou dus gerus die volgende wenke in gedagte:

  • Moenie geld leen om jou motorpaaiement te betaal nie.
  • Indien jy afgelê is, kan jy ʼn gedeelte van jou uitbetaling gebruik om jou motor af te betaal. Vra die kredietverskaffer hoeveel dit sal kos en besluit of dit die moeite werd sal wees.
  • Jy kan ook jou kredietlewensversekering gebruik om jou vir ʼn paar maande met jou motorpaaiement te help.
  • Wanneer jy besef jy kan nie meer jou motorpaaiement bekostig nie, praat dadelik met die kredietverskaffer en hoor of daar ʼn plan gemaak kan word om die motor vir minder per maand, maar oor ʼn langer tydperk te kan afbetaal. Dit gaan jou meer aan rente kos, maar jy sal ten minste jou motor behou.
  • Hersien jou begroting en kyk waar jy op dinge soos vermaak en luukshede kan sny sodat jy die paaiement kan bekostig.
  • Sorg dat jy die motor goed onderhou sodat herstelwerk jou nie nog ekstra kos nie.
  • Oorweeg dit om die motor te verkoop en een kontant te koop, of een met ʼn laer paaiement as jy nie nog ʼn motor het om te gebruik nie.
  • Stel eers vas wat motorhandelaars bereid is om vir jou motor te betaal. Moenie paniekerig raak en dit aan die eerste beste handelaar verkoop nie. Oppas vir private verkope aangesien hierdie manier om jou motor te verkoop dikwels ʼn teiken vir skelms kan word.
  • Onthou dat skelms in tye soos dié waarin ons nou leef, floreer. Moenie vir skemas val wat goedkoop, splinternuwe motors aanbied nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Blits ·

Ja, die betalingsvakansie het gehelp, maar nou is my paaiemente meer. Nie regtig gehelp nie, veral omdat salarisse gesny is en ons nooit weer die ou salaris sal kry nie.

VaalDonkie ·

Ek raak yskoud as ek daaraan dink. Ek het so drie of vier jaar gelede my skuld alles afbetaal. En ek is so dankbaar. Want toe COVID (of eerder Lockdown) slaan, was dit duidelik dat dinge baie rof gaan wees vir ‘n baie lang tyd. Ek het self 10% van my salaris verloor en dit was om en by die bedrag wat ek aan my en my vrou se kar paaiemente sou betaal het (was darem twee tweedehandse motors).

Harley Davidson ·

Dit is nie die paaiement wat so duur is nie die onbillike rente koerse is wat mense sink hoekom moet die banke soveel rente hef ,maar wanneer jy geld belê is die rente wat jy kan verdien minimaal?

VaalDonkie ·

My kar is lankal afbetaal. En die titel dokument is in my kluis. Ek HAAT skuld. Ek sal ‘n kar finansier, maar ek koop tweedehands en probeer binne twee of drie jaar die ding klaar betaal het. Ek betaal nooit meer as R120 000 vir ‘n kar nie. Dis net nie nodig nie want jy kan baie goeie motors koop as jy nie te trots is om goed ouer as 7 jaar te koop nie.

VaalDonkie ·

Ek weet ek verdien meer as baie mense, maar ek weier om ooit meer as R2000/maand aan paaiemente te bestee. Dis net nie vir my lekker nie. My kar is 14 jaar oud en ek het hom tweedehands gekoop vir R110 000 en R9000 ekstra betaal vir ‘n “extended warranty”. En dis ‘n baie lekker kar: ‘n Subaru Forester. Hy was R50 000 minder as daai Datsun Go met die blik wieletjies. En hy hou drie keer langer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.