Volkswagen het groot planne vir 2024

Deur Martin Pretorius

Die nuwe VW Touareg.

Met ʼn rits nuwe modelle op pad en ʼn groter fokus op uitbreiding in Afrika, beplan Volkswagen vanjaar baie opwinding vir hulle plaaslike aanhangers.

Volkswagen het onlangs sy eerste indaba by sy aanleg in Kariega aangebied. Tydens hierdie geleentheid is daar uitgebrei oor die nuwe modelle wat op pad is, sowel as sy planne vir die toekoms.

Die belangrikste stukkie nuus was egter die bevestiging dat Volkswagen sal aanhou om in ons land te belê, om sodoende sy teenwoordigheid op die kontinent te vergroot. Danksy hierdie groter fokus op Afrika, is VWSA nou herdoop na Volkswagen Group Africa, met die plaaslike maatskappy wat sal dien as wegspringpunt vir die groeifase wat op hande is.

Uitbreiding van produksiekapasiteit

Die nuwe VW Tiguan.

Die fabriek in Kariega vervaardig reeds die Polo vir alle regterstuurmarkte, en sal vanjaar begin om linkerstuurmarkte ook te bedien sodra produksie in Pamplona, Spanje, ten einde loop. Meer as 70% van alle plaaslike Polo’s word uitgevoer, en meer as 100 000 eenhede is in 2023 verskeep. Danksy ʼn belegging van R130 miljoen in dieselkragopwekkers en ʼn magdom nuwe sonpanele buite die fabriek, kan produksiekapasiteit nou met omtrent 10% toeneem.

Hierdie bykomende kapasiteit sal van 2025 af uiters handig te pas kom, want die Polo en Vivo verteenwoordig net twee‑derdes van Volkswagen Group Africa se nabye toekomsplanne. Die laaste deel van hierdie plan sal volgende jaar aangekondig word, wanneer ʼn nuwe model op die fabrieksvloer by sy luikrug-sussies gaan aansluit.

Ons weet nog nie presies watter model by die deure gaan uitry nie, maar dit is bevestig dat die nuweling ʼn klein sportnutsvoertuig gaan wees wat in ʼn laer marksegment as die ingevoerde T-Cross sal meeding. Die nuweling sal gebou word op VW se MQB‑platform (nes die Polo), en daar is selfs sprake van ʼn bakkie-variant om die Nissan NP200 (en destydse Caddy‑bakkie) se leemte te vul.

Nuwe modelle vir 2024

Die VW ID.4

Voor die nuwe klein Volkswagen volgende jaar sy opwagting maak, gaan sommige gevestigde gunstelinge eers ʼn paar verbeteringe ondergaan. Niks nuuts word vir die Polo Vivo beplan nie, maar die Polo gaan binnekort ʼn paar veranderinge ondergaan – goed soos ʼn nuwe stuurwiel en ander sitplekke. Die sedanreeks van die Polo sal meer breedvoerig hersien word deur die toevoeging van ʼn 1.0 liter‑driesilinderturbopetrolenjin met 85 kW, en ʼn luukser variant bo-aan die pryslys. Alle Polo-sedans gaan ook hulle roomkleurige kajuite verloor, met ʼn grys kleurskema wat saam met die nuwe enjin sal verskyn.

Die Amarok gaan ook ʼn nuwe enjin verwelkom, met Ford se 2.3 liter‑turbo‑petrol wat 222 kW lewer onder die nuwe topmodel se kap. Verwag hierdie verbeterde Volkswagens in die eerste helfte van vanjaar, terwyl die T-Cross, Tiguan en Touareg eers in die tweede helfte van 2024 hul opwagting gaan maak.

Verbeterde T-Cross

Die T-Cross ontvang vir 2024 sy eerste vernuwing, en alhoewel dit nie ʼn algeheel nuwe voertuig is nie, is die verbeteringe steeds noemenswaardig. Uiterlike veranderinge behels die gewone hersiening van sy buffers en ligte (met LED’s regdeur die reeks en Matrix-LED‑ligte as opsies) en sy meganika bly onveranderd, maar die kajuitgehalte is dramaties opgebeur.

Harde plastiek, wat tot dusver oral binne die T-Cross gebruik was, word vervang deur sagte bekleding, en sy herontwerpte voorpaneel kry ʼn groter, vrystaande kleurraakskerm. ʼn Ander kleurskerm word ingespan om die analoogmeters voor sy bestuurder te vervang, en die sitplekke se bekleedsel word ook hersien. Hierdie wysigings behoort die T-Cross se kajuit-atmosfeer na dieselfde vlak as sy prys te bring.

Nuwe Tiguan

Die nuwe Tiguan is heeltemal herontwerp, al is sy platform afgelei van die ou model s’n. Sy bakwerk is aansienlik meer aggressief as voorheen, met ekstra klem op sy bultende wielnisse, interessante LED-ligte, en ʼn gladder vooraansig. Die plaaslike enjinreeks is nog nie bekend gemaak nie, maar oorsee gebruik die Tiguan onder andere ʼn 1.5 liter‑turbo‑viersilinder wat 95 kW of 110 kW aan die voorwiele lewer, of ʼn 2.0 liter wat 147 kW of 192 kW na al vier wiele stuur.

Daar sal egter nie ʼn Tiguan Allspace in die nuwe reeks wees nie, want Volkswagen beplan om eerder die nuwe Tayron, ʼn sewesitplek‑sportnutsvoertuig vroeg in 2025 bekend te stel. Sodoende kan die gaping tussen die Tiguan en Touareg meer doeltreffend oorbrug word as wat die verbasend ongewilde Allspace kon regkry.

Verbeterde Touareg

Volkswagen se jongste groot sportnutsvoertuig is, net soos die klein T-Cross, ʼn hersiene weergawe van die bestaande model. Die kosmetiese veranderinge is egter meer ingrypend as aan sy kleinste boetie, met meer aggressiewe buffers en radikaal-herontwerpte LED-ligte aan weerskante.

Die nuwe Touareg se kajuit is ook luukser as voorheen, met verbeterde afwerking en ʼn nuwe voorpaneel wat die twee digitale skerms (vir die instrumente en die multimedia-stelsel) in een eenheid integreer. Hierdie rits nuwighede behoort die Touareg vergelykbaar met alternatiewe soos die BMW X5 en Mercedes GLE te hou, maar kan ook dalk ʼn paar Audi Q7-kopers afrokkel.

ID.4 word getoets

Die ID.4‑ elektriese sportnutsvoertuig is ook aan die Suid-Afrikaanse media gewys. Hierdie is die eerste agterwielaangedrewe Volkswagen in dekades omdat hy die VW MEB-platform gebruik. Alhoewel die ID.4 nog nie aan die publiek vrygestel is nie, sal die media geleentheid kry om hom behoorlik te toets in normale gebruik.

Met ʼn 77 kWh‑battery en 150 kW‑ elektriese motor behoort die ID.4 in omtrent 8,5 sekondes van stilstaan tot 100 km/h te kan draf, maar sy reikafstand behoort van groter belang te wees. Volkswagen reken dat die ID.4 omtrent 520 km tussen herlaai-sessies sal kan haal, en dit sal interessant wees om te sien of hy dit wel sal kan haal met ons lang afstande tussen stede, warm klimaat, en swaar regtervoete.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet 6 ·

Ongelukkig het VW se kwaliteit en diens drasties verswak die afglope paar jaar. Die outomatiese ratkaste is berug vir hulle probleme, die enjins is berug vir hulle buitesporige hoë olie gebruik en dan sê VW dit is normaal. Ek het ook ń artikel die afgelope week gelees dat VW die tweede of derde mees onbetroubare motor is.

Vonkprop ·

Bou net die verdomde halfton bakkie asseblief. Hoe moeilik kan dit nou wees. As die NP200 klaarmaak is daar ‘n moewiese mark wat wag. Almal soek nie SUV’s nie en nie almal kan of wil ‘n groot bakkie ry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.