Eerste 1 000 dae is deurslaggewend vir ʼn kind

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash / Nattalia Nunez)

Deur Lea Brink

Dit is ʼn voldonge feit dat kinders in hul vroegste jare gevorm word. Dit skep die grondslag vir hulle toekoms.

Die brein en sentrale senuweestelsel se vormbaarheid (oftewel neuroplastisiteit) is op hul hoogste in hierdie fase en dít beïnvloed omgewing-aanpasbaarheid. Dit is daarom noodsaaklik dat die sosiale konteks en belewenisse van babas en peuters die regte aandag geniet.

Die sentrum oor die ontwikkelende kind aan die Harvard Universiteit in die VSA het in hul navorsing bevind dat meer as ʼn miljoen nuwe neurale verbindinge elke sekonde gedurende hierdie tydperk gevorm word. Jou baba se brein groei tot 80% van sy volwasse grootte binne die eerste twee jaar van sy lewe, berig BabyYumYum.co.za. Kinders se leervaardighede, geheue en vermoë om inligting te verwerk, ontwikkel ook in hierdie periode.

Daar is verskeie voordele aan die regte vroeë stimulasie en ontwikkeling verbonde. Asook verskeie nadele aan die verkeerde blootstelling.

Die Wes-Kaapse regering haal navorsing aan wat toon dat kinders wat behoorlik voordeel trek uit hul eerste 1 000 dae, tot 20% meer as hulle eweknieë as volwassenes kan verdien. Hulle sal ook waarskynlik self meer gesonde gesinne en selfvertroue hê sowel as beter op skool presteer.

Ervaringe en verhoudings vorm die struktuur van hierdie jong breine. Als wat hulle sien en hoor en waarmee hul in aanraking kom, bou hulle breine en dit word versterk deur voortgesette blootstelling. Die Suid-Afrikaanse Genootskap van Gesinsgeneeshere beskryf dit as die “piek-groeiperiode” wanneer negatiewe blootstelling die meeste skade veroorsaak en doeltreffende ingrepe die grootste positiewe voordeel inhou.

Die ontwikkeling-sielkundige, dr. Tim Moore, voer aan dat die vroeë ontwikkeling van die brein en neurons nie slegs belangrik vir die brein is nie, maar ook vir die vernaamste liggaamstelsels. Hierdie integrasie beteken dat baie van die uitdagings waarmee volwassenes te kampe het, teruggelei kan word na hul vroegste jare. Dit sluit in geestesgesondheidsprobleme, vetsug, hartkwale, kriminaliteit, asook swak letter- en syfervaardighede. Kinders se selfdissipline, gewoontes en kognisie word immers vroeg gebou.

Hy sê voorts dat om die welstand van huidige en toekomstige geslagte te verseker, moet die vroeë omgewings en belewenisse verbeter word. Dit is reeds tragies dat duisende kinders in Suid-Afrika juis onder allerlei mishandeling deurloop, pleks daarvan om sorg en stimulasie te ontvang. Kinders onder 4 jaar is die meeste blootgestel aan geweld in Suid-Afrika. Ons samelewing gaan nie vorentoe kan beweeg indien hierdie probleem nie reggestel word nie.

Wat het jou kind nodig?

Uiteraard is die regte voedingstowwe tydens jou swangerskap en ook in die eerste twee jaar van jou kind se lewe uiters noodsaaklik. Dit verseker dat hulle met sterk breins en liggame gebore word en daarna behoorlik ontwikkel.

Daarbenewens is die regte omgewing met die nodige stimulasie ook belangrik. Kinders moet aandag, erkenning, steun, interaksie en bemoediging ontvang. Dit sal hulle belangstelling en nuuskierigheid prikkel, taalvermoë verbeter en hul veilig en verseker laat voel dat hulle gesien en gehoor word.

Interaktiewe spel is daarom deurslaggewend omdat dit die basis vorm van hoe klein kindertjies leer en ontwikkel. Mits dit in ʼn veilige omgewing gebeur, help dit hulle om nuwe handelinge te ontdek en prikkel dit hul nuuskierigheid.

By Pienkvoet Pret bied ons stimulasie- en ontwikkelingsklassies in Afrikaans aan wat die algehele ontwikkeling van jou kind aanwakker deur bewese tegnieke en toerusting met kundigheid in te span. Dit sluit onder meer kuns-aktiwiteite, sensoriese bewustheid, groot en fyn motoriese aktiwiteite, musiek en beweging, rympies en taalontwikkeling, babamassering en storietyd in.

Dit vind in ʼn ontspanne atmosfeer plaas en bied veilige sosialisering vir ouers en hul kinders. Ons rus jou ook met die vaardighede toe om deurgaans jou kind te bemagtig en ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Indien bogenoemde inligting waar is, behoort ‘n kind nie vir die eerste 2-3 jaar in sy ma se rug vas te kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.