God, my baba en ek

Foto ter illustrasie. (Foto: Colin Maynard/Unsplash)

Deur Sonia Swart 

“Bababediening? Nee, regtig, daar moet tog ʼn mate van kognitiewe begrip wees voor ʼn mens hom van God vertel?”

Dit was baie jare gelede en vandag is ek verleë oor hierdie gedagte. Ja, ek het geweet fisiese, emosionele en intellektuele sorg voor, en na geboorte, is belangrik, maar geestelike sorg? Hoe en wat op aarde? Dus is ek half teësinnig en half nuuskierig na die lesing oor bababediening.

Die spreker se inleidende sin het my aan die dink gesit: “Gees het nie ouderdom nie, gees is ewig”.

Babas word onder omstandighede verwek en ontvang wat radikaal van mekaar verskil. Daar is die skoolmeisie wat verkrag is of ter wille van ʼn toelae weer en weer swanger raak. Dan is daar die ma wat jare lank vrugbaarheidsbehandeling ondergaan en smag na ʼn swangerskaptoets wat verkleur.

As jy bevoorreg is om toegang tot goeie sorg en begeleiding te hê, weet jy hoe belangrik die eerste duisend dae (EDD) is: die tydperk vanaf bevrugting tot die tweede verjaardag. Die fisiese, emosionele en geestessorg van die baba in hierdie tydperk dra lewenslank by tot sy welsyn. By die kliniek of in die ginekoloog se spreekkamer, leer jy alles vanaf voeding tot intellektuele stimulasie. Ongelukkig dra min ouers – en selfs geestelike leiers – kennis van die geestelike sorg binne die eerste duisend dae van lewe.

Spirituele ontwikkeling

Deel van die wonder van die lyfie in wording, is dat die neuroplastisiteit van die ontwikkelende brein ʼn algehele hoogtepunt gedurende die eerste duisend dae bereik. Meer neurone vorm en verbind met mekaar gedurende die EDD as ooit gedurende ʼn persoon se lewe. Dit dra daartoe by dat latere komplekse take, soos taal- en sosiale vaardigheid en emosionele regulering kan geskied.

Kommunikasie tussen die ouers en baba geskied reeds terwyl die baba in die baarmoeder is. Die baba herken sy ouers se stemme, kan glimlag en skop – alles vorme van kommunikasie. Die mens is vanaf sy eerste oomblik bedraad vir kommunikasie en die behoefte om te verstaan en verstaan te word.

Mettertyd ontwikkel die kindjie taalvaardigheid. Die baba ontvang kommunikasie-“kodes” by sy ouers en versorgers. Dit begin met gebare en gou word die gebare aangevul met klanke en woorde wat bepaalde betekenis het. Dit is ʼn lang, maar opwindende proses om te sien hoe ʼn baba se kommunikasievaardighede ontwikkel wanneer die geluide en bewegings omsit in woordjies en sinne. Net so is dit ʼn ongelooflike ervaring om die bo-natuurlike verhouding (Jeremia 1:5) wat daar tussen God en baba al van voor geboorte af bestaan, te laat blom wanneer gebed, lofprysing en Bybel-kennis toeneem.

ʼn Verhouding met God is, soos kommunikasie, ʼn ingebore gawe. Daar is wel bepaalde woorde en simbole wat die kind moet aanleer om hierdie verhouding te verstaan en uitdrukking aan hierdie gawe te gee. Gedagtes, woorde en interaksie in ons verhouding en kommunikasie met God noem ons geloof. Ons luister na verhale oor God en mense in die Bybel, ons sing, dans en bid. Ons deel hierdie geloofservaringe met ander en dien ander met God se liefde. Reeds voor geboorte is ons bedraad met ʼn verlange na God, om met Hom te kommunikeer en nader aan Hom te kom.

Net soos die kommunikasie-aanvoeling inherent aan ʼn baba se ontwikkeling is, is ook die begeerte om met God te kommunikeer. Spiritualiteit word beskryf as ʼn intuïtiewe bewussyn van verhouding. God het die baba met ʼn inherente verlange na Hom geskep.

Hoe ondersteun ouers die geestelike bedrading van die baba?

Hoe beter die inherente bedrading om te kan glo in die eerste duisend dae versorg word, hoe makliker gebeur latere geloofsontwikkeling.

Die baba se verhouding met homself, ander, God en die wêreld

Liefdevolle fisiese en emosionele versorging, versterk die baba se binding met ouers en versorgers. ʼn Baba op wie – voor en na geboorte – ag geslaan word, wat veilig is en gekoester word, voel:

  • Ek is die moeite werd om versorg te word.
  • Ek kan mense vertrou om my te versorg.
  • Die wêreld is ʼn veilige plek om in te bly.

Hulle wat my liefhet, is God se verteenwoordigers in my lewe. Ek is werd om ingesluit te word, ook in die geestelike belewenisse van ander.

Dr. Sonia Swart (Foto verskaf)

ʼn Mamma van ʼn vyfjarige aangenome kindjie vertel: “My hartseer was groot toe ek hoor hoe sy van ʼn babapop sê dat haar ma te veel kinders het, sy wil haar nie hou nie.

“Ons het haar as baba aangeneem en is daarvan oortuig dat sy sedert geboorte nie hierdie woorde verbaal gehoor het nie. Ons het ook sedert sy aangeneem is, gereeld vir haar vertel dat sy geliefd, pragtig en ʼn kosbare geskenk van God is. Ook het ons verduidelik dat haar ouers ʼn liefdevolle ding gedoen het, om haar te laat aanneem, want hulle kon haar nie versorg nie en wou ʼn goeie lewe vir haar hê. Sy het al, ten spyte van die afgelope vyf jaar se liefdevolle sorg, volop sekuriteit en bevestiging van liefde, by meer as een geleentheid verwoord dat haar biologiese ouers haar nie wou hê nie. Sy het ʼn sterk bewustheid van haarself en haar konteks en het duidelik voor geboorte reeds hierdie verwerping beleef.”

Dus sien ons, ʼn baba beleef reeds voor geboorte dat hy welkom en geliefd by God en mens is, of dat hy onwelkom en verwerplik is.

Die ouers en primêre versorgers se rol

In die eerste twee jaar, leer die klein mensies van God, geloof en spiritualiteit deur hulle interaksie met hulle ouers en/ of versorgers. Ja, daardie om-die-beurt-reaksie op en nabootsing van gesigsuitdrukkings, klanke, aksie en reaksie tussen die baba en kernpersone in die sy lewe, het ʼn belangrike doel. Belangrike boustene vir gesonde, lewenslange ontwikkeling is voldoende voeding, gesondheid, leergeleenthede, sekuriteit, veiligheid en liefde. Die heen-en-weer-interaksie tussen die baba en die mense by wie hy veilig en geliefd voel, word “serve and return” genoem, wedersydse aksie en reaksie daarop tussen die baba en versorger.

Gepaste reaksie op die baba se uitdrukkings, klanke en beweging, bou nie net ʼn gesonde verhouding met sy primêre versorgers nie, maar bou ook die nodige neurologiese verbindinge om goeie kommunikasie en sosiale verbintenisse te verseker (www.petra.co.za).

Hoe kan ons ʼn baba geestelik versorg?

Verwelkom en seën

Gewoonlik is die babatee (of “doekebraai” vir die pappas) ʼn prettige affêre. So ook die nuwe neiging om die geslag van die baba op ʼn feestelike manier aan te kondig. En rondom die geboorte self is daar gewoonlik ʼn tyd van opgewondenheid en gelukwense.

Behou gerus die vrolikheid van hierdie geleenthede, maar bring ook die geestelike element in. Dra die baba en ouers (ook, indien van toepassing, die ander kinders in die gesin) aan God op. Maak ook seker dat die baba se doopplegtigheid of inseëning nie net ʼn formaliteit is nie, maar dat die diepte en omvang van die geleentheid as ʼn geestelike hoogtepunt gevier en uitgeleef word.

  • Sonia is ʼn dogter van God, mamma van ses en ouma van nege kleinkinders. Sy en haar gesin het 29 jaar gelede by die Petra Instituut betrokke geraak. Dié instituut is ʼn organisasie sonder winsbejag wat gemeenskappe wil skep waar kinders veilig is en gerespekteer word, deur leiers in sulke gemeenskappe op te lei. Sonia is ʼn mentor van studente wat die Petra Instituut se aanlyn kursus volg en sy is ook betrokke by geldinsameling vir die instansie. Sonia het ʼn PhD in praktiese teologie: pastorale berading aan die Noordwes Universiteit verwerf. Sy bieg dat sy ʼn hopelose kok en naaldwerkster is, maar geniet navorsing, lees en skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

TrueMan ·

Daar is n rede waarom kinders sondag oggende skop en skree voor kerk, en party maal gedurende

De Bok ·

Dit is nog ‘n rede hoekom dit belangrik is vir gelowige ouers om hulle babas te doop

TrueMan ·

Terwyl die baba nog nie self kan besluit wat hy / sy wil glo nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.