Hoe gemaak met dié kleuterskoolkriewelings?

(Foto: iStock)

Met die nuwe skooljaar in volle gang en die trane met die aflaaislag soggens by die kleuterskool of dagsorgsentrum darem minder, is daar allerlei nuwe kriewelings, oftewel die sogenaamde “kleuterskoolsindroom” (creche syndrome), wat oudergewoonte kop uitsteek.

“Hoewel dit glad nie ongewoon is vir kinders wat die eerste keer na ’n dagsorgsentrum of kleuterskool gaan, óf ná ’n lang skoolvakansie, om in ’n voortdurende siklus van verkoueverwante siektes te beland nie, het die ongekende lang tydperke van inperking en isolasie weens Covid-19 oud en jonk kunsmatig teen kieme, virusse en ander infeksies beskerm,” sê dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park.

“Met die terugkeer na ’n meer normale gang van sake, is dit asof die tronkdeure vir allerlei goggas oopgeswaai het. Waar die liggaam tradisioneel oor tyd én met blootstelling aan ander mense ’n natuurlike weerstand opbou, het ons in werklikheid oor ’n tydperk van bykans drie jaar immuniteit ingeboet.

“Hoewel dit vreemd mag klink dat kinders se immuniteit juis by kleuterskoolkieme baat vind omdat dit hulle oor tyd teen siektes staal deur teenliggaampies op te bou, vind ons wel dat kinders deesdae makliker en vinniger siek word en dat die simptome langer voortduur.”

(Foto: iStock)

Kinders het geen immuniteit by geboorte nie, afgesien van hul ma se teenliggaampies. Om met virusse in aanraking te kom, help kinders om hul eie teenliggaampies op te bou en ’n immuunstelsel te ontwikkel.

Volgens Lombard sluit die sogenaamde kleuterskoolsindroom, wat gewoonlik op die ouderdom van agt of nege maande begin, simptome in soos loopneus, hoes, matige koors, diarree, ’n postnasale drup en boonste lugweg- en oorinfeksie. “Dit is ’n voortdurende siklus waaraan min salf te smeer is, want een kind kan tien ander siek maak. Teen die tyd dat die eerste kind weer gesond is, raak die oorspronklike kind wéér siek omdat die virus van vorm verander het.”

“Antibiotika is ook nie altyd die antwoord nie, omdat dit meestal ’n virale infeksie is waarvoor antibiotika nie werk nie. Om antibiotika boonop te gereeld of om die verkeerde redes te neem, kan bakterieë soveel verander dat dit nie meer doeltreffend is nie. Dit word bakteriële weerstand of antibiotikaweerstand genoem. Sommige bakterieë is deesdae bestand teen selfs die kragtigste antibiotika wat beskikbaar is.”

(Foto: iStock)

Hoewel Lombard meen dat dit ’n geruime tyd gaan duur voordat ons natuurlike kiemweerstandigheid na pre-Covid-vlakke terugkeer, glo hy daar is heelwat pandemielesse en -gewoontes waarby ons gesondheid kan baat vind.

“Al is maskers iets van die verlede, is die toepassing van goeie higiëne iets wat blywend behoort te wees – tuis én by die skool of dagsorgsentrum. Hande was en sanitering is nie iets wat tot pandemietye beperk moet wees nie, maar behoort – soos tandeborsel – roetine te wees.”

(Foto: iStock)

Kniehalter kleuterskoolsindroom só:

  • Kweek goeie higiënegewoontes by jou kind soos om gereeld hande te was en te ontsmet.
  • Herinner hulle daaraan om nie eetgerei, skryfbehoeftes en speelgoed met maatjies te deel nie.
  • Hou jou siek kind eerder tuis. Dit sal nie net sy of haar eie genesing bespoedig nie, maar ander kinders beskerm en die kleuterskoolsindroomkringloop verbreek.
  • Kleuterskole en dagsorgsentrums behoort oppervlaktes en speelgoed gereeld te ontsmet.
  • Kinders is kieskeurig as dit by kos kom, maar benodig juis gesonde kos – nie kitskos nie! – vol vitamiene en minerale om hul immuniteit op te bou. Sluit donker blaargroente, sitrusvrugte en patats by jou kind se dieet in.
  • Gee jou kind ʼn probiotika-aanvulling: Jou kind se liggaam is die tuiste van miljarde organismes soos meestal skadelose bakterieë, swamme en gis wat die liggaam help om behoorlik te funksioneer. Probiotika is soldate wat help om goeie bakterieë ’n hupstoot te gee. Gee dit as aanvulling of deur kos soos maaskaas en jogurt.
  • Aanvullings: ’n Onderliggende yster-, sink- of vitamien D-tekort is dikwels teenwoordig en kan die immuunstelsel drasties beïnvloed, wat ’n kind se vatbaarheid vir ’n infeksie verhoog. Oorweeg dit om jou kind se dieet aan te vul met ’n breëspektrummultivitamien met vitamiene A, B, C, D, E en B12, sink, selenium en magnesium.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nettie ·

“Herinner hulle daaraan om nie eetgerei, skryfbehoeftes en speelgoed met maatjies te deel nie.”

In my ondervinding, dink baie ouers dat klein kindertjies hierdie nie KAN doen nie, terwyl kinders wel die vermoë het. Kinders kan vandat hulle al kruip of stap, geleer word wat is hulle s’n, en wat nie.

Meeste ouers dink ‘n kind kan maar rondloop en drink aan wie ookal se glas wat iewers rondstaan. As jy egter van die begin af “Nee!” sê, en elke keer sy/haar glasie of beker uitwys, dan leer hulle wel gou dat daar is ‘n “myne” en ‘n “joune” en ons mag nie eet/drink wat nie “myne” is nie.

Mense sal verbaas wees hoeveel gesonder kinders is wat hierdie gewoontes van vroeg af aangeleer word.

Michael ·

So ons is kunsmatig beskerm tydens die “pandemie” en dit het ons immuunstelsel verswak. Die moet weer hestel en dit gebeur deur blootgestel te word aan kieme en virusse. Die raad is egter om aan te hou om alles te steriliseer, kinders moet niks met mekaar deel nie, die kunsmatige beskerming moet dus voortduur. Hoe word die immuunstelsel van die kinders dan opgebou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.