Hoe om daardie kosblik reg te pak

(Foto: Verskaf)

Soos wat kinders die avonture van ʼn skoolloopbaan aandurf, moet daar ag geslaan word op die kweek van gesonde eetgewoontes.

So sê Zelda Ackerman, ʼn geregistreerde dieetkundige en woordvoerder van die Suid-Afrikaanse vereniging vir dieetkundiges (ADSA). Sy sê verder dat kinders wat skoolgaande ouderdom bereik, reg is om gesonde eetgewoontes te ontwikkel, mits dit iets is waaraan ouers sou aandag gee.

Die groei van skoolgaande kinders vind plaas teen ʼn ander pas as dié van babas en kleuters. Dit is op hierdie ouderdom waar kinders hul eie kosvoorkeure ontdek en begin toepas. Hierdie fase in jou kleinding se lewe bied ook ʼn gulde geleentheid aan ouers om gesonde eetgewoontes te skep.

Skoolgaande kinders is as gevolg hul nuuskierige aard meer bereid om nuwe kossoorte op hul spyskaart te verwelkom. Ackerman benadruk dat baie eetgewoontes wat volwassenes het, spruit uit dié kinderfase. Dus laat dit vir ouers die deur oop om gesonde en volhoubare eetgewoontes by hul kinders te skep en aan te moedig.

Vanessa Clarke, nog ʼn geregistreerde dieetkundige, meen dat skoolgaande kinders juis verskillende kossoorte nodig het om hulle aan die gang te hou.

“Kinders se behoeftes verander soos wat hulle ouer raak. Die hoeveelheid vitamine, minerale, proteïen, stysel en vette wat hulle nodig het om aan die gang te bly verander volgens die fase waarin hulle op daardie stadium in hul skoolloopbaan is.”

Dís hoe jy die kweek van gesonde eetgewoontes aanpak

Ontbyt bly steeds die belangrikste ete van die dag. Veral wanneer daar skoolgaande kinders in die huis is wat moet konsentreer van die eerste tot die laaste periode in ʼn dag.

ʼn Gebalanseerde, voedingryke ontbyt is aan die orde van die dag. Volgens ADSA behoort die ete die volgende in te sluit:

  • Stysel met ʼn hoë veselinhoud (volgraan roosterbrood, hawermoutpap of granola)
  • Proteïen (eiers, kaas of jogurt)
  • Vet (avokado of olyfolie)
  • Vitamine en minerale (vrugte en groente)

Hierdie breinkos sal jou kleinding gereed maak vir ʼn dag van leer en groei by die skool.

(Foto: Nathan Dumlao/ Unsplash)

Die kosblik-petalje

Talle ouers sukkel om vir hul kinders gesonde, voedingryke kosblikke te pak. ADSA benadruk egter dat só ʼn kosblik noodsaaklik is.

Dís hoe jy verseker dat jou kleinding ʼn gesonde kosblik skool toe vat:

  • Laat die witbrood in die kruidenierswinkel. Gebruik bruin volgraanbrood wanneer jy die kosblik begin voorberei. Stysel met hoë veselinhoud sal jou kind vir veel langer versadig hou.
  • Pak ʼn vrug soos ʼn appel, nartjie of piesang in.
  • Moenie van groente vergeet nie. Kosblikvriendelike groente sluit komkommer en wortelstokkies in.
  • Pak die proteïen. Jou Suid-Afrikaanse kind gaan nooit nee sê vir ʼn heerlike stukkie biltong of droëwors nie.
  • Laaste, maar definitief nie die minste nie: Pak water eerder as koeldrank in. Maak die water meer aanloklik vir jou kind deur dit te geur met ʼn suurlemoenskyfie, ʼn paar bloubessies of ʼn mentblaartjie.

Wanneer rugby, netbal, tennis of krieket hom of haar ʼn bietjie langer by die skool hou – pak daardie kosblik met net nog meer gesonde versnaperings.

Wanneer die nood druk en die snoepie se dienste benodig word, moenie te veel daarteen skop nie. Maak net seker dat boeta of sussa nie te gewoond raak aan ʼn R50-noot in plaas van ʼn kosblik nie.

My kind hou nie van die kos nie, wat nou?

So maklik soos wat dit kan wees om jou kind te oortuig dat gesonde kossoorte die beter opsie is, is daar sekere kleingoed wat hul neuse gaan optrek vir sekere opsies.

Hier is hoe jy die belangstelling prikkel wanneer jou kind eerder haas se pad as haas se kos kies:

  • Maak dit mooi. Wanneer kos aantreklik lyk, is dit baie makliker vir kinders om self te kies om dit te eet. Sny dalk die vrugte en groente in verskillende, vreemde vorms, dit mag jou kind dalk net aan die eet kry.
  • Span hulle in. Wanneer kinders betrokke is by die maak en voorbereiding van kos, is dit soveel makliker om hul te oortuig om daardie einste kos te eet. So moenie bang wees om vir boeta of sussa by die kombuis te betrek vir ʼn bietjie hulp nie.
  • Skep verskeidenheid. Nes jy nie daarvan hou om elke dag dieselfde ding te eet nie, hou jou kind ook nie daarvan nie. Maak seker dat elke dag ʼn paar nuwe opsies op die tafel het.
  • Partykeer is hulle nie verkeerd nie. Wanneer jou kind volstrek weier om daardie aspersie te eet kan jy hom of haar nie dwing om dit steeds te eet nie. Elke mens het voorkeure. Soos wat jy nie van soetrissies in jou rys hou nie nie, hou boeta nie van agurkies tussen sy biltong nie.
  • Praat, praat, praat. Wanneer kinders verstaan hoekom sekere kossoorte beter as ander is, sal hulle dit heel moontlik eerder probeer.
  • Moenie verwag dat jou kind eerder die appel gaan kies wanneer jy besig is om ʼn pak lekkergoed te verorber nie. Stel ʼn goeie voorbeeld, en eet saam aan die gesonde kossoorte.

Onthou: As ouer kies en voorsien jy jou kinders van kos. Dit is steeds in jou hande hoe gesond daardie kos gaan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Catantho ·

Weg is die dae van n peanutbotter-en-stroop-toebroodjie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.