Jak, seun Jamie (13) gesels oor sportprestasies, alledaagse lewe

Jak de Priester en sy seun, Jamie Roux. (Foto: Instagram/Jak de Priester)

Die musikant en TV-aanbieder Jak de Priester straal behoorlik wanneer hy oor sy drie jong spruite praat.

Jamie (13), Mija (11) en Mika (7) Roux is ook, net soos vele Afrikaanse musiekliefhebbers, groot aanhangers van hulle bekende pa wat in 2002 op die toneel verskyn het met sy flambojante verhoognaam en persoonlikheid én die treffersnit, “Sally Williams Nougat”.

Jak, wat intussen ook vir homself naam gemaak het as aanbieder en tans aanbieder van die kykNET-geselsprogram Koppieteefontein is, se oudste seun het nou wel nie sy pa se verhoogtalent geërf nie, maar is ʼn kranige sportman wat in verskeie sportsoorte uitblink.

Jak en Jamie gesels met Maroela Media vanuit hulle huis in Somerset-Wes en die gesin se skoothondjie, Annie, kuier ook elke kort-kort saam. Die Roux-gesin het kort ná die aanvang van die pandemie na dié voorstad verhuis.

Jamie blink veral uit in tennis en hokkie en het al menigte wentitels vir toernooie agter sy jong rug. Jamie is tans die no. 1-tennisspeler in sy ouderdomsgroep in Suid-Afrika. Hy is ook deel van die SA-tennisskolespan.

Hy is ook deel van die WP se o.13 A-hokkiespan. Volgens Jak het Jamie reeds vanaf kleintyd ʼn natuurlike aanleg vir sport gehad, veral tennis.

“As kind was ek ook mal oor tennis en ook ʼn baie sportiewe kind, maar in my lewe het die musiek die oorhand gekry. Soms gebeur dit dat jou kinders ʼn talent van jou erf, maar dat hulle net soveel meer daarin uitblink,” vertel Jak.

Hy sê laggend Jamie is kort ná die Sokkerwêreldbeker in 2010 in Suid-Afrika gebore. “Ek het voor sy geboorte vir hom ʼn sokkerbal gekoop om die groot sportgebeurtenis en natuurlik ook sy koms te gedenk. Miskien was die sokkerbal toe al ʼn simbool vir die sportprestasies wat nog sou volg.”

Jak en sy dogter, Mija. (Foto: Facebook/Jak de Priester)

Hoewel hy gereeld op die tennisbaan of hokkieveld is, is skoolwerk ook nog ʼn belangrike aspek van sy dag, sê Jamie.

“Ek moes van jongs af leer hoe om my tyd te bestuur. Partykeer is dit ʼn gestoei om geleer te kry, veral as dit eksamentyd is, maar ek kom goed reg.”

Jak, wat ʼn besige skedule handhaaf om al die hoede te dra wat hy daagliks moet opsit, sê hy sou heeldag langs die tennisbaan sit as hy kon.

“My dogtertjie is mal oor dans en Mika is mal oor jujitsu. Michelle, my vrou, help natuurlik baie om die kinders oral te kry waar hulle moet wees. Dit is soms moeilik om jouself in dele te skeur, en dis veral moeilik as ek weg moet gaan vir werk,” vertel Jak.

Hoewel die gesin in Somerset-Wes woon, vind die meeste van Jamie se sportafrigting in Stellenbosch plaas.

“Dit is nie altyd maklik nie, maar volgende jaar sluit Jamie aan by Hoërskool Paul Roos op Stellenbosch en dan behoort dit ʼn bietjie makliker te gaan wanneer die sport en die skool in dieselfde dorp is.”

Al weet hy sy ouers se skedules is druk, is hy dankbaar vir hulle ondersteuning, sê Jamie. “Dit is vir my baie lekker as hulle my wedstryde kom kyk en my ondersteun.”

Jak beaam dat dit vir hom ewe lekker is om sy seun se prestasies te kan ondersteun. “Dit is lekker om deel daarvan te wees. Eendag as hy groot is met sy eie lewe en familie, gaan dit vir hom ook lekker wees om te weet hy was altyd ondersteun en hy gaan dan weer dieselfde met sy eie kinders doen.”

Jamie sê die Rouxs se gesinslewe is baie rustig, ten spyte van hulle vol dagboeke. “Sover ons kan doen ons almal alles saam, en ek is mal daaroor.”

Jak en sy jongste seun, Mika. (Foto: Facebook/Jak de Priester)

Vir Jamie is sy gunsteling-herinnering van sy pa langs die tennisbaan toe Laerskool De Hoop die tennisfinaal teen Grey College gewen het.

“Die Rising Star-toernooi is een van die grootste skooltennistoernooie in die land en elke jaar neem al die wenspelers van elke provinsie teen mekaar deel in Pretoria. Soms is daar ook groot name soos Kevin Anderson en Lloyd Harris wat voor die tyd speel.

“My pa het saam met my Johannesburg toe gevlieg om my in Pretoria te ondersteun. Dit was spesiaal.”

Volgens Jamie kyk hy op na die tennisspeler Rafael Nadal – vermoedelik omdat hy ook ʼn linkshandige speler is soos Jamie.

“Hy is my rolmodel. As hy speel is dit vir my die lekkerste om na te kyk. Ons gebruik ook dieselfde tennisrakethandelsmerk, Babolat.”

Jamie sê laggend hy en sy twee sibbe is bewus daarvan dat hulle pa bekend is, maar dat hulle nie veel daaroor praat nie. “Nee, ons kyk nie sy programme op die TV nie,” lag hy.

Koppieteefontein is tans in sy derde seisoen en volgens Jak word dit baie goed deur die kykers aanvaar.

“Dit is ʼn verskriklike lekker program om aan te bied. Ons gesels lekker, lag en huil saam, drink tee en geniet dit net. Gister het ek geskiet saam met Antoinette Pienaar in die Karoo. Ek het besef dit beteken net soveel vir my om saam met ongelooflike mense tyd deur te bring en die terugvoer is goed.

“Mense geniet die program en ek dink hulle kan ook sien ek raak al hoe meer en meer gemakliker voor die kamera. Dit word met elke seisoen makliker en dit dra by tot die sukses van die program.”

Koppieteefontein is elke Vrydagaand om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos ·

Pragtig jongman geniet jou lewe en sport. Wat is Jak se regte naam as hul van Roux is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.