Kies slim: Speelding of spaargeld?

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Ondanks die uitdagende ekonomiese klimaat en al groter druk op verbruikers om hul sente om te draai, is Suid-Afrikaners nie bekend vir hul verantwoordelike spaarvermoë of ʼn ingebore beleggingskultuur nie. Dit is egter ouers se verantwoordelikheid om hul kinders, te midde van ʼn kultuur van spandeer, spandeer, spandeer, asook kitsbevrediging, te leer om te spaar. Baie ouers weet egter nie waar om te begin nie.

Om dié rede het Franc, ʼn bekroonde slimfoontoepassing (app) wat Suid-Afrikaners help om te spaar, belê en meer oor beleggings te leer, kinderrekeninge ontwikkel wat ouers aan hul eie rekening kan koppel. Hoewel dit slegs ʼn paar sekondes neem om ʼn kinderprofiel te skep wat aan die ouer se rekening gekoppel is, kan dié eerste spaartree later van ongelooflike waarde wees. ʼn Mens kan selfs dié rekening vir ʼn spesifieke tyd “sluit” om enige voortydige en onnodige onttrekkings te keer.

Volgens dr. Thomas Brennan, stigter en uitvoerende hoof van Franc, is Kersfees ʼn uitstekende tyd om ʼn betekenisvolle geskenk te gee. “In plaas van nóg ʼn speelding wat gou in ʼn laai of onderin ʼn kas beland, gee die geskenk van saamgestelde rente deur vroeg te begin spaar en geld vir jou kinders te belê. Dit geld nie net vir Kersfees nie. Wanneer jou kind se verjaarsdag aanbreek en oumas en oupas wil weet wat om vir die kleinding te koop, laat hulle eerder geld in die kind se Franc-beursie betaal.

Dr. Thomas Brennan, stigter en uitvoerende hoof van Franc. (Foto: verskaf)

“Jy kan in jou kind se rekening belê deur middel van ʼn aftrekorder, ʼn eenmalige deposito per elektroniese oorplasing (EFT) doen of geld direk van jou Franc-rekening af oorplaas. Laat jou kind die voordele van langtermynbesparing sien deur vir hom of haar ʼn beleggingsrekening oop te maak.”

Volgens Brennan skrik beleggingsprodukte verbruikers dikwels af omdat dit so ingewikkeld is. “Franc het dié kompleksiteit tot die minimum beperk deur die beleggingskeuse tot slegs twee fondse te beperk, naamlik die Allan Gray-geldmarkfonds (kontant) en die Satrix 40 ETF (aandele).

“Die Allan Gray-geldmarkfonds wat op die Franc-toepassing beskikbaar is, het oor die afgelope 12 maande ʼn opbrengs van meer as 5% opgelewer. Die Satrix 40 ETF het op sy beurt die afgelope drie jaar met gemiddeld 10% per jaar gegroei, en met gemiddeld 9,2% per jaar oor die afgelope 10 jaar.”

Daar is geen minimum beleggingsbedrae nie en jy kan jou geld enige tyd sonder boetes onttrek. Die fooie is laag en deursigtig. Dit is boonop maklik om te sien (en vir jou kind te wys!) hoe die belegging op die app vaar.

Brennan meen talle mense is boonop geneig om hul jaarlikse bonus blitsig te blaas. “As jy gelukkig genoeg is om vanjaar ʼn bonus te kry, kan Franc ook gebruik word om vir verskillende doelwitte soos jou kind se opvoeding, gesinsvakansies of vir jou kind se eerste motor te spaar. Deur Franc-gekoppelde rekeninge kan jy selfs ʼn oppasser, huishulp of tuinwerker byvoeg en ook vir húlle ʼn spaarrekening van die grond af kry.

“Franc bied voorts verstaanbare en eenvoudige opvoedkundige inhoud sodat jy jou finansiële kennis kan verbeter. Diegene wat die internet bo ʼn toepassing verkies, sal binnekort direk vanaf ʼn Franc-webportaal kan belê,” sê Brennan.

Ses wenke vir geldslim kinders:

  1. Stel jou kinders van kleins af bloot aan die koste van alledaagse items. Laat hulle jou help om ʼn inkopielys saam te stel, en doen inkopies volgens ʼn begroting. Só leer hulle dat ʼn mens nie enigiets in die waentjie kan laai nie, slegs dít wat op die lysie is en waarvoor daar geld is (begroot is).
  2. Laat die kind sy of haar sakgeld spaar en gebruik om spesiale items soos ʼn spesifieke speelding te koop. As hulle “self” vir iets moet betaal, sal hulle twee keer oor ʼn impulsiewe kopie dink.
  3. Leer hulle van rente en dat ʼn mens se geld groei as jy dit vir ʼn lang tydperk belê en nie gebruik nie. As hulle eers sien dat geduld vrugte in rand en sent dra, sal hulle meer oop wees vir die idee van spaar.
  4. Betrek die hele gesin wanneer julle uitstappies of vakansies beplan. Stel ʼn begroting op. Só weet die kleinspan presies waarvoor daar geld is en ook wat dinge kos.
  5. Dink aan oulike idees om die etenstafel waarmee jou kind ekstra geld kan verdien. Hetsy dit is om iets te maak (soos koekies of beskuit bak) of ʼn diens te lewer (soos om vriende se motors te was). Ons land het entrepreneurs broodnodig en dié saadjie kan nie vroeg genoeg geplant word nie.
  6. Ons almal ken die sêding: kinders doen wat óns doen, nie noodwendig wat ons sê nie. Probeer daarom om ʼn goeie voorbeeld te stel deur nee te sê vir skuld, te spaar vir noodsaaklikhede, te snuffel vir spesiale aanbiedinge en, sekerlik die belangrikste, deur binne jul finansiële vermoë te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.