Maak jou kleuter toegerus vir lees

Argieffoto (Foto: Josh Applegate/Unsplash)

Deur Wilna van Rooyen

Kinderontwikkeling berus op sensories-motoriese ontwikkeling wat gevestig moet wees, asook emosionele en sosiale vaardighede wat in plek moet wees. Daar moet beskik word oor ʼn uitgebreide woordeskat en taalgebruik, voordat formele lees van ses tot sewe jaar oud aangepak kan word. Hoe beter die vaardighede gevestig is, hoe makliker word die leer om te lees-ervaring.

Breinontwikkeling berus op die inligting wat deur die sintuie aan die brein gegee word en die inligting wat in die brein verwerk word, sodat ʼn opdrag aan die spiere gegee word om te reageer.

Die eerste ses tot sewe jaar is die heel belangrikste leertyd in elke mens se lewe en vorm die basis vir alle leer wat later plaasvind, waar alle vaardighede ontwikkel word wat nodig is vir lewenslange leer.

Die volgorde van ontwikkeling:

  1. Sintuiglike ontwikkeling
  2. Grootmotoriese ontwikkeling
  3. Fynmotoriese ontwikkeling.
  4. Emosionele en sosiale ontwikkeling – deurlopend. (Kinders moet veilig en geborge voel om te kan leer en te onthou. Hulle leer sosiaal en kultureel by hul ouers, boeties en sussies, familie, vriende, maar moet veilig voel om sosiaal te kan uitreik.)
  5. Woordeskat en taalgebruik – deurlopend en lewenslank.

Sintuiglike ontwikkeling vind in ʼn bepaalde volgorde plaas:

Die vel wat kan voel, sluit beweging en ervaring in.

Die mond wat verskillende smake kan proe en benoem.

Die neus wat ruik en ʼn invloed op die emosie het.

Die oor wat hoor en luister.

Die oog wat kan kyk en sien, ʼn sensitiewe sintuig, wat eers op sewe jaar volledig ontwikkel is.

Grootmotoriese ontwikkeling: Vind van geboorte af plaas en help saam met die sintuie om die brein te ontwikkel.

Gereelde magietyd is nodig, sodat die nekspiere en die kernspiere kan versterk, sodat hul teen ongeveer ses of sewe maande oud kan sit en later kan kruip en loop.

Die volgende vaardighede moet gevestig wees vir lees- en skoolgereedheid, voordat suksesvolle formele onderrig kan plaasvind:

Balans – om die kop te kan oplig, om van een kant na die ander te rol, om te kan sit, kruip en loop, om die bolyf vorentoe, agtertoe en sywaarts na beide kante toe te kan beweeg.

Liggaamsbeeld – ʼn totale bewustheid van eie liggaam, liggaamsdele, funksies van liggaamsdele en hoe liggaamsdele beweeg.

Lateraliteit – om tussen links en regs te onderskei, ʼn innerlike, volkome bewustheid van die twee kante van die liggaam.

Middellynkruising – deur te rol, vorentoe, agtertoe, sywaarts te beweeg, te kruip, te loop, voorwerpe te hanteer, deur die manipulering van byvoorbeeld motorbande, fiets te ry, te klim en klouter, ensovoorts.

Spiertonus – sterk binnespiere moet ontwikkel word om regop te kan bly, om in ʼn gr. 1-klas te kan sit.

Ruimtelike oriëntasie – om bewus te wees van waar jy is, wat bo, onder, langs, voor en agter jou is.

Koördinasie en Ritme – om ritmies te loop, te spring, hande te klap, vingers teen mekaar te tik, voete te stamp, vuisies teen mekaar te stamp en tou te kan spring.

Rigting en opeenvolging – rigting en opeenvolging word beleef wanneer kinders kruip, loop, patrone spring, klim en klouter en nog meer.

Fynmotoriese ontwikkeling:

Van geboorte af is dit belangrik dat baba sterk sal suig om die mondspiere te stimuleer om later duidelik te kan praat.

Oogspiere ontwikkel wanneer al bogenoemde aktiwiteite plaasvind, ook wanneer kinders mekaar in die oë kyk, een voorwerp met die oë gevolg word terwyl die kind die agtergrond ignoreer, van sport tot sport op ʼn klim- en klouterapparaat beweeg word.

Die fyn spiere in die voete en tone ontwikkel wanneer kinders, byvoorbeeld klim en klouter, kaalvoet loop, op tone loop, op hakke loop, items soos krale en knope met die tone optel, op een plek of oor voorwerpe spring, op ʼn lyn loop.

Die spiere in die hande en vingers oefen wanneer die kind kruip, met balle speel, klim en klouter, aan sporte van klim- en klouterapparaat hang en om teen die brandpyp af te gly. Om alledaagse take uit te voer, byvoorbeeld om self aan te trek en vrugte af te skil.

Tekenwerk is van die allergrootste belang, aangesien dit die geleentheid vir die kind skep om sy of haar gedagtes op papier neer te pen. Om te skeur, te frommel, te knip, te plak, te modelleer met speeldeeg of klei, houtwerk te doen en konstruksies te bou, ontwikkel die vingerspiere en die brein vir skryf en lees.

Taalontwikkeling: Taal vorm ʼn wesenlike deel van ʼn mens se ontwikkeling en vorm die kern van ʼn lewenslange leerproses. ʼn Mens se vermoë om te leer word grootliks moontlik gemaak deur taal.

Die onderskeiding van geluide speel ʼn belangrike rol gedurende die ouditiewe ontwikkeling van die jong kind, byvoorbeeld huishoudelike geluide, omgewingsgeluide, dieregeluide, natuurgeluide.

Die herkenning van woorde wat dieselfde klink, of verskil, herkenning van rymwoord en om later aanvangs-, eind- en middelklanke te onderskei en te benoem, is belangrike mylpale om later te kan lees, skryf en spel.

Deur na stories te luister, brei die woordeskat uit, die verbeelding word aangewakker, geheue ontwikkel en begrip verbeter.

Ritme word beleef, woordeskat word uitgebrei, en rymwoorde word geïdentifiseer, wanneer rympies aangeleer word.

Liedjies brei woordeskat uit, kontraste soos vinnig/ stadig en ritme asook maatslag word beleef.

Lettergrepe van woorde te klap, met vingers teen mekaar te tik, op maatjie se rug met vinger te tik, deur blokkies teen mekaar te kap, ensovoorts.

Kinders kan slegs gereed wees vir lees, skryf en spel as hulle in totaliteit ontwikkel is, soos vooraf verduidelik. Lees, skryf en spel is nie vaardighede wat aangeleer kan word soos om tou te spring nie.  Hierdie vaardighede kan nie ontwikkel as al die ander aspekte nie ook ontwikkel word nie. Lees is nie natuurlik nie, dis ʼn aangeleerde vaardigheid.

  • Wilna is ʼn vroeëkinderontwikkelingspesialis en ʼn mede-opsteller van Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Leesgids vir ʼn gestruktureerde leesstrategie wat in Mei vanjaar vrygestel is. Die ‘Leesgids is op bestelling beskikbaar en word vergesel met ʼn aanvullende aanlyn ‘Leeshandleiding’.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

As jy jou kind lief kan maak vir lees, sal die kind hou van leer en verken deur boeke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.