Moedertaalonderrig kweek selfstandige leerders

christien-neser-scaled-002.jpg

Christien Neser (Foto: erskaf)

“Moedertaalonderrig word nie tot Afrikaans beperk nie. Dit gaan ook oor elkeen van Suid-Afrika se ander amptelike landstale. My toekomsvisie is dat leerders tot in matriek toegang tot onderrig in hul moedertaal sal hê en dat al hierdie tale ook ʼn plek by nasionale debat-, spel- en redenaarskompetisies kry.

“Op daardie manier kweek ons leerders wat beter besluite vir hulleself kan neem en dit haal die druk van Afrikaans af,” meen Frik Roets, voorsitter van die ATKV-tak Vereeniging, oor die belangrikheid van moedertaalonderrig.

Dit is een van die standpunte wat op 27 September by die ATKV se paneelgesprek oor moedertaal gehuldig is. Die tema van die gesprek was “Moedertaal: Die wegspringplek vir meertalige sukses” en dit het by die Randpark-gholfklub in Johannesburg plaasgevind.

Christien Neser, spraakterapeut, skrywer en leeskundige, Tertia de Klerk, sielkundige, en dr. Lindie Koorts, historikus en biograaf, het hul insig oor die onderwerp gedeel. Die verwelkoming is deur Magon Mouton, bestuurder van jongvolwassene-ontwikkeling en innovasie by die ATKV, behartig.

Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas. (Foto: Facebook)

Van die kwessies wat bespreek is, het gegaan oor die multikulturele en meertalige konteks waarbinne moedertale in Suid-Afrika funksioneer, hoe daar spesifiek oor Afrikaans in ʼn mededingende wêreld gedink moet word, en wat ouers te doen staan wanneer ʼn kind se huis- en skooltaal verskil.

In die lig van uiteenlopende reaksies oor die omstrede wysigingswetsontwerp op onderwyswette, oftewel die Bela-wet, wat die afgelope week deur die portefeuljekomitee vir onderwys aanvaar is, meen kenners egter dat dit nie die doodskoot vir Afrikaans of moedertaalonderrig hoef te wees nie.

Roets het in sy kommentaar verwys na dr. Jaco Deacon se meningstuk “Bela: Is die koeël deur die kerk vir onderwys?” waarin hy skryf dat die bal wel nog in “die mense van Suid-Afrika se hande is”.

Deacon pleit in sy skrywe dat die mense van Suid-Afrika moet opstaan vir openbare skole en baie harder baklei vir gehalte-onderwys vir elke kind in die land.

“Goeie ouers moet hand opsteek en staan as kandidate in volgende jaar se beheerliggaamverkiesing en elke ouer moet gaan stem. Raak betrokke by jou plaaslike skool en gee finansiële steun vir organisasies wat die geldigheid van Bela in die hof gaan toets. Gewone burgers van die land moet hul stem in die algemene verkiesing gaan uitbring en politici aanspreeklik hou vir die stand van openbare onderwys,” skryf Deacon.

De Klerk sê hoewel die aanvaarding van die Bela-wet ʼn onmiddellike vrees skep dat Afrikaans gaan uitsterf, moet die waarde van taal nie onderskat word nie.

“Jou taal is gevestig in jou mense rondom jou. Soos daar reeds gesê is, is Afrikaans nie die enigste moedertaal nie. Daar is baie ander moedertale in ons land wat nie as skoolvak geleer word of as skryftaal ontwikkel is nie, maar wat voortbestaan. Daar sal ander maniere wees wat ons dit kan ondervang.”

dogtertjie-lees-storieboek-pixabay-jillwellington.jpg

Foto: pixabay.com/ JillWellington

Die algehele boodskap van die aand het gefokus op die praktiese elemente wat met taalverwerwing gepaardgaan. Daar moet onder meer ʼn genotsbeginsel wees, iets wat dit vir kinders lekker maak om die taal aan te leer of te lees, en dit moet ʼn konstante proses wees met ʼn bepaalde roetine soos om naweke bordspeletjies in die taal te speel.

Dit is die ATKV se eerste aanbieding in ʼn reeks gesprekke oor moedertaal. Hou die ATKV se webwerf en Facebook-blad dop om op hoogte van gebeure te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.