Net ʼn ma: Moenie dat die babavoeding-debat jou kelder, mamma

Foto ter illustrasie. (Foto: Sarah Chai/Pexels)

Deur Eugenie Buys

(Hierdie is nie die uitspraak of opinies van ʼn kenner nie. Ek is net ʼn ma, en ek skryf oor onderwerpe wat ek self ervaar het. Elke baba en elke ma is anders, maar dalk kan jy vandag vereenselwig.)

Die onderwerp van baba-voeding is nogal ʼn stewige een, met baie uiteenlopende opinies. Die eerste gedagte wat by my opkom is ʼn spul vrouens wat hul bra’s in die lug gooi en skree: “Breast is best!”. Ek dink ook dat die meeste vrouens tydens hul swangerskap hulself voorberei, of sommiges selfs opgewonde droom daarvan, om te borsvoed. Maar ongelukkig is dit nie vir almal beskore nie.

Ek lees hartseer op mamma-groepies hoe vrouens vertel dat susters in die hospitaal hulle nie wil help met formule nie, omdat hulle nie borsvoed nie. Een so vrou het op hoërskool ʼn borsreduksie ondergaan, omdat haar gesondheid en haar rug daaronder gely het. Sy het geweet sy sal nie eendag kan borsvoed nie en in haar hart moes (en het) sy vrede gemaak daarmee, maar ʼn vreemdeling laat haar nog steeds skuldig voel.

Eugenie Buys en haar klein Benjamin. (Foto verskaf)

Nou, voordat ek die borsvoed-unie voor my deur het, ek stem saam met die etiket op elke liewe blik formulemelk wat lui: “Borsmelk is die beste voeding vir babas” en ek stem ook saam dat moederlywe gemaak is om te borsvoed, maar in vandag se samelewing, met die druk op vrouens en veral ma’s, gebeur dit ongelukkig dat dit nie altyd moontlik is om te borsvoed nie, en dankie tog vir die alternatiewe wat daar wel beskikbaar is. Dan het ons nog nie eens gepraat oor vroeggebore babas of babas met ander gesondheidskwessies wat buisvoeding of spuitvoeding moet kry nie.

Met die formule-krisis in Amerika tussen 2021 en 2022, en die gepaardgaande prysverhogings reg oor die wêreld, het baba-voeding weer na die voorgrond gekom en is die vraag telkemale gevra: “Maar hoekom borsvoed jy nie net nie?”. Ek self het vir 7 maande lank R5 000 per maand spandeer aan ʼn spesiale formule omdat my baba ʼn koeimelk-proteïen-allergie (CMPA) én ʼn soja-allergie gehad het, dus was die normale soja-alternatief ook nie ʼn opsie nie. Glo ek dat die prys van formule gereguleer moet word, sodat dit vrylik beskikbaar is vir almal wat dit nodig het? Ja, beslis. Glo ek dat borsmelk steeds die heel beste opsie is vir babas? Ook ja. Maar ek weet ook dat die debat oor baba-voeding nooit regtig gaan ophou nie. In my opinie: buis, bors of blik, solank jou baba liefde en (enige) melk kry, is jy reeds die beste ouer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janice ·

Ek het lang preke van die verpleegpersoneel, die dokter en die kliniek suster gekry omdat ek nie een van my kinders kon borsvoed nie. Ek was vertel hoe my kinders sieklik en met geen moederband sou grootword nie. Albei geboortes was ontsettend traumaties en pleks om my by te staan en kalm te hou, moes ek die nonsens aanhoor.

Nettie ·

“Die eerste gedagte wat by my opkom is ʼn spul vrouens wat hul bra’s in die lug gooi en skree: “Breast is best!”.”

En hierdie is die tipe reaksie wat ons wat wel borsvoeding voorstaan as eerste keuse indien moontlik, heeltyd moet aanhoor. Dat ons manies is. Dat ons selfs eintlik bietjie mal in die kop is. Dat ons nie verstaan nie. Dat ons net ‘n spul vrouens is wat hul bra’s in die lug wil gooi en onsself wil ontbloot vir die wêreld.

Dit maak OOK seer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.