Selfoonverslawing ‘soortgelyk aan dwelms’ 

Geskryf deur: Marietjie Warrington

slimfoon-selfoon-instagram-rekenaar-skerm

(Foto: Erik Lucatero/Unsplash)

Die wêreld is toenemend vasgevang in ʼn wurggreep van digitale verslawing. En dit is veral die jeug se deelname en die uitwerking hiervan op die mensdom in geheel wat kommer wek.

Hierbenewens wil dit voorkom asof Suid-Afrika aan die voorpunt trek en dat ʼn internasionale verklaring van 2023 die werklikheid boekstaaf. Kenners het met Maroela Media gesels oor hoe ouers hul kinders hierteen kan beskerm.

Volgens Proxyrack, ʼn data-ontledingsfirma, het Suid-Afrikaners die meeste internetverslaafdes ter wêreld.

Ten spyte van die feit dat slegs 72,3% van die bevolking die internet gebruik, bestee landsburgers die meeste tyd aanlyn teen ʼn gemiddeld van nege uur en 38 minute per dag – die hoogste daaglikse internetgebruik ter wêreld, lui die verslag.

Dr. Anke de Beer, digitale verslawingspesialis, navorser en konsultant, beaam hierdie bevindings.

“In Suid-Afrika spandeer ons gemiddelde ongeveer 70% van ons tyd aanlyn,” sê sy.

Talle rigtingaanwysers toon dat veral slim- en selfoonverslawing aan die toeneem is en dat dit die verbruiker soms sielkundig ook in diep waters kan laat beland – moontlik ook op die terapeut se rusbank, meen kundiges.

Luidens Science Direct het slimfooneienaarskap die afgelope dekade globaal aansienlike toegeneem. In hoëinkomstelande reg oor Noord-Amerika en Europa besit meer as 80% van die bevolking ’n slimfoon, en eienaarskap in lae- en middelinkomstelande styg steeds.

Dié platform se ondersoekspan het bevind dat slimfooneienaarskap en skermtyd veral onder kinders en jong volwassenes (5-35 jaar) toeneem.

Selfoongebruik vs. verslawing

(Foto: iStock)

Janine Roos, direkteur van die Universiteit Stellenbosch (US) se inligtingsentrum oor geestesgesondheid aan die departement psigiatrie, sê daar moet onderskeid getref word tussen selfoongebruik en selfoonverslawing.

“Behalwe om te bel, gebruik ons selfone om onder andere soektogte te doen op die internet, e-posse te lees en kontak te hou met vriende en familie.

“Verslawing word gedefinieer as ʼn primêre chroniese siekte van breinbeloning, motivering, geheue en verwante breinbane. Wanfunksie in dié bane lei tot kenmerkende biologiese, sielkundige, sosiale en spirituele manifestasies.”

“Verslawing se siektemodel fokus op ʼn gebruiker se verlies aan beheer, wat primêr veroorsaak word deur die misbruik van die substans, of in dié geval, die digitale apparaat, soos ʼn slimfoon.”

Dr. Marlena Kruger is ʼn neuro-opvoedkundige, tegnologieverslawingspesialis en uitvoerende hoof van die MindUnique Education en TechnoLife Wise Foundation. Sy sê alhoewel daar verskillende vlakke van digitale verslawing is, tree die eerste tekens van afhanklikheid in wanneer kinders, tieners en volwassenes ongelukkig is wanneer hulle tyd op die rekenaar of slimfoon en tablette beperk word.

“Hulle verkies om eerder met hul slimfone en ander digitale skerms en tegnologie interaksie te hê, eerder as met werklike mense en ʼn aktiewe bydrae in hul gesinne en die gemeenskap te lewer.”

Kruger sê al meer lande wêreldwyd doen drastiese stappe en tref maatreëls om die gebruik van slimtegnologie te beperk en beter te bestuur, soos byvoorbeeld om geen slimfone en tablette in skole toe te laat nie.

Verband tussen digitale verslawing en dwelmmisbruik

Onlangse bevindings dui op ʼn sterk verband tussen dwelmmisbruik en oormatige skermtyd. Dié verslawing kan moontlik dieselfde skade aan jou kind se brein en ontwikkeling aanrig as die gebruik van kokaïen of heroïen.

Prof. Erik Peper van die San Francisco State University stem hiermee saam.

“Navorsing is onder 135 studente gedoen wat hul selfone oormatig gebruik. Dié tieners het dieselfde probleme opgelewer as tieners wat dwelms misbruik,” sê hy.

In Brad Huddleston se boek Digital Cocaine, sê hy kinders wat ’n verslawing aan digitale toestelle toon, se breinskanderings is presies dieselfde as mense sʼn wat aan heroïen en kokaïen verslaaf is.

“Die eerste tekens van digitale verslawing is sigbaar in jou kind se emosionele optrede. Indien jy ʼn breinskandering van ʼn emosionele gesonde persoon bestudeer, wat nie aan die digitale wêreld verslaaf is nie, sal die deel van die brein wat met plesier, beloning en verslawing te doen het, ophelder wanneer dit gestimuleer word.

“Iemand wat verslaaf is, se brein verhelder nie, wat beteken dat die aktiwiteit in daardie deel van die persoon se brein gestaak het en die persoon emosioneel gevoelloos raak.”

Kruger beaam dat die onoordeelkundige gebruik van onder andere slim- en selfone mense sielkundig, fisiek en emosioneel erg kan benadeel, veral met onbeperkte toegang tot die internet en sosiale media.

Roos sê terwyl selfoonverslawing nie die vermoë het om lewens te vernietig soos dwelms of dobbel nie, het dit wel definitiewe negatiewe gevolge op gesinsverhoudings, liefdesverhoudings en produktiwiteit.

“Dit is onrusbarend om te sien hoeveel mense aan die etenstafel of in geselskap sit en met hul selfone besig is.”

Tieners en ernstige geestesgesondheidsuitdagings

(Foto: Samantha Gades/Unsplash)

Navorsing deur die Universiteit van Wes-Virginia, wat in Januarie vanjaar gepubliseer is, het bevind dat sekere tieners wat sosiale media gebruik, meer kwesbaar is vir ernstige geestesgesondheidsuitdagings.

Luidens die studie is verhoogde vlakke van depressie veral sigbaar by dié wat meer gereeld Instagram, TikTok of X gebruik.

Altesaam 237 deelnemers, tussen die ouderdomme van 14 en 16 jaar, is by die studie betrek en daar is vasgestel dat persoonlikheidstipes ’n beduidende invloed het op die manier waarvolgens tieners sosiale media ervaar. Dit het byvoorbeeld gewys die gebruik van TikTok word gekoppel aan hoër depressiesimptome by tieners met negatiewe gedagtes en Instagram kan simptome van depressie by introverte verhoog.

YouTube is deurgaans met hoër vlakke van depressie by tieners verbind.

Riglyne om kinders te begelei

Foto ter illustrasie. (Foto: Mirkosajkov/Pixabay)

Alles is egter nie verlore nie en daar is verskeie maatreëls wat veral ouers kan implementeer om die jong klomp te beskerm.

Huddleston stel voor dat ouers ʼn omgewing skep waar hul kinders 80% analoog- en 20% digitale hulpmiddels gebruik. Hy sê ook dat ʼn kind se brein nie sterk genoeg is om ʼn mate van weerstand teen digitale verslawing op te bou nie – nie tot ongeveer 14-jarige ouderdom nie.

Hierbenewens sê hy ouers moet hulself vertroud maak met die tyd wat hul kinders op selfone deurbring en dit beheer en bestuur.

Die Amerikaans vereniging vir pediatrie beveel die volgende riglyne aan vir ouers om kinders se interaksie met digitale media te begelei:

  • Help kinders om gesonde keuses te maak rakende hul “mediadieet”. Let op ouderdomsaanwysings vir vertonings, films en speletjies en maak seker dat kinders nie blootgestel word aan gewelddadige en seksueel eksplisiete inhoud of tabak- of alkoholverheerliking nie.
  • Onderrig kinders oor mediageletterdheid deur saam met hulle na TV-programme te kyk en die inhoud te bespreek en saam te leer daaruit.
  • Moedig die gebruik van nie-elektroniese media soos boeke, tydskrifte en koerante aan.
  • Hou jou kinders dop met betrekking tot die uitwerking van oormatige digitale blootstelling, byvoorbeeld slaap- en eetsteurings, vetsug, aandag- en akademiese probleme.
  • Vestig skermvrye ruimtes in die huis, veral in elke slaapkamer.

Die goeie nuus

Volgens Huddleston kan die digitale wêreld wel positief aangewend word wanneer verbruikers in beheer is, in plaas daarvan dat die digitale wêreld die verbruiker beheer.

“Niemand hoef ʼn gevangene te wees nie. Ons kan beslis iets doen aan die greep waarin tegnologie ons en ons gesinne het, maar ons moenie wag nie. Ons moet nou reageer.”

Prof. Wentzel Coetzer, ʼn pastorale berader verbonde aan die Noordwes-Universiteit, skryf in sy jongste boek, Digitale impak op kinders en jongmense:

“Een van die goue reëls rakende digitale tegnologie is om dit met wysheid te hanteer en met volle begrip van die houvas wat dit oor jou en jou gesin kan verkry.

“Die gebruik van digitale tegnologie is een van die talle areas in die Christen se lewe wat spesifiek oorgegee moet word aan Jesus Christus.”

Hy sê die wêreld waarin ons leef, is vol van verslawende gedrag, en tegnologie is die jongste voorbeeld. “As Christene vra dit van ons om die digitale wêreld met die nodige onderskeidingsvermoë te hanteer en ons kinders ook sodanig te begelei. In hierdie verband gee Paulus goeie raad in 1 Kor. 6:12:

“Daar is mense wat sê: ‘Alles is my geoorloof.’ Ja, maar nie alles is heilsaam nie. ‘Alles is my geoorloof,’ sê hulle. Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie.”

Hulp met digitale verslawing

Lesers wat probleme ondervind met digitale verslawing kan Suid-Afrika se inligtingsentrum vir geestesgesondheid kontak vir hulp of om verwys te word na geestesgesondheidswerkers. Skakel 021 938 9229 of stuur ʼn epos na [email protected].

Lesers en hul gesinne wat hulp benodig met digitale verslawing en die oorgebruik van digitale skerms deur veral peuters, jong kinders en tieners, kan die TechnoLife Wise-stigting kontak deur die webwerf www.technolifewise.org te besoek of ʼn e-pos te stuur aan [email protected]. Dr. Marlena Kruger kan ook direk gekontak word by 083 456 3505.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.