Staan só iemand met selfdoodneigings by

Argieffoto (Foto: Transly Translation Agency/Unspalsh)

Om iemand na aan jou te sien swaarkry, laat jou dikwels nutteloos en onbehulpsaam voel, veral as dit by selfdood kom.

Soveel as wat jy iemand wil help, is dit belangrik om die komplekse ongelukkigheid wat hul ervaar, self te verstaan.

Selfdood is nie ʼn skielike besluit wat geneem word nie, dit gaan gewoonlik gepaard met ʼn lang geskiedenis van depressie en pyn waarmee hul worstel.

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) oorweeg 17.6% tieners selfdood en een uit vyf 18-jariges het een of meer selfdoodpogings gehad.

Konstante hartseer en pyn oorheers kinders se emosies. Selfdood voel dan na die enigste uitkoms om verlossing van die pyn te verkry, sê Sandy Lewis, kliniese maatskaplike werker en Netcare se geesteswelstand- en deernisafrigter.

Risikofaktore sluit ‘n kombinasie van biologiese, psigologiese en sosiale faktore in.

Faktore wissel van geestesgesondheidsorg, hartseer, trauma, fisieke siekte, afknouery, mishandeling, ernstige verhoudingsprobleme, werk- en finansiële probleme, eensaamheid, uitbranding tot selfs ‘n familiegeskiedenis van selfdood.

Dié faktore het ‘n reuse invloed op kinders en lei tot ʼn selfdoodgemoedstoestand.

Potensiële waarskuwingstekens vir selfdood:

  • Konstante treur en huil.
  • Gemoed- en gedragsveranderings.
  • Verandering in sosiale patrone en die verloor van belangstelling in aktiwiteite.
  • Selfvernietigende gedrag, soos roekelose bestuur.
  • Die tref van voorbereidings om te sterf, soos om persoonlike sake in orde te kry en besittings weg te gee.
  • Sterk uitdrukkings van hopeloosheid en praatjies om verligting vir hul en ander te bring.
  • Die ondersoek van verskeie selfdoodmetodes: As daar skielik toue, messe en groot hoeveelhede pille of dwelms, ensovoorts, by ʼn persoon gevind word, kan dit wees dat hulle op die punt is om selfdood te pleeg.

Behandel die waarskuwingstekens soos ‘n mediese noodgeval. Neem kennis van die persoon en wees daar vir hulle. Die meeste mense is agterna spyt oor ‘n geliefde se dreigement, wat hulle as “aandag soek” of “manipulerende gedrag” aangesien het.

Selfdoodwaarskuwings is reeds ʼn kragtige kreet om hulp en ʼn teken van desperaatheid. Wees eerder proaktief en moenie wag nie.

Om stil te bly en die probleem weg te wens, gaan egter die situasie ook net vererger. Praat daaroor en wys dat hulle nie alleen is nie. Besin saam oor maniere hoe die probleem opgelos kan word.

  • Kontak Netcare Akeso se 24-uur krisislyn (0861 435 787) indien iemand enige selfdoodneigings of gedagtes om hulself te beseer het of as iemand selfs net raad nodig het om ‘n geliefde by te staan.
  • Suid-Afrikaanse Angs- en Depressiegroep (SADAG) verskaf ook ’n 24-uur selfdoodkrisishulplyn by 0800 567 567.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.