Video: Jan Jan Jan maak gr. 1’s se eerste dag besonders

Jan Jan Jan by Laerskool Mayville se gr.1’s. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Die Afrikaanse sanggroep Jan Jan Jan het Woensdag gesorg dat gr. 1’s van Laerskool Mayville in Pretoria hul skoolloopbaan op ʼn hoë noot afskop tydens ʼn prettige optrede as deel van Solidariteit Helpende Hand se jaarlikse Skooltassie-projek.

Sedert 2007 sorg dié projek dat talle hulpbehoewende gr. 1’s met ʼn ten volle toegeruste skooltassie hul skoolloopbaan op gelyke vlak as hul maats afskop én spog vanjaar met twee nuwe vierpotige ambassadeurs, naamlik Braaf die boerboel, van Boerboel Wear, en Piet Tande die tandemuis.

Braaf die boerboel, ʼn geesteskind van Boerboel Wear, en Piet Tande die tandemuis het Woensdag op Laerskool Mayville se atletiekbaan amptelik die aflosstokkie as ambassadeurs van die Skooltassie-projek oorgeneem. Die manne van Jan Jan Jan het namens Braaf die Boerboel aan dié speelse resies deelgeneem.

Solidariteit Helpende Hand het as deel van dié verrigtinge ook 13 van die 2 000 tassies wat vanjaar landwyd versprei gaan word, aan leerders uitgedeel.

Die Skooltassie-projek is een van Helpende Hand se belangrikste inisiatiewe. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Dié laerskool se klein haasbekkies was ook van die eerstes om die sanggroep Jan Jan Jan se nuwe lied, “Braaf soos ʼn boerboel” te hoor.

“Ons is dankbaar om vandag saam met Helpende Hand, die Ons Winkels en Boerboer Wear ʼn tasbare verskil in hierdie kinders se lewe te maak en hulle gretig te maak vir die begin van hulle skoolloopbaan,” het Riaan Venter, oftewel Lang Jan, oor die groep se betrokkenheid by die projek te sê.

“Braaf soos ʼn boerboel” word ook vandeesweek op alle stroomplatforms bekendgestel en vorm deel van Helpende Hand, Boerboel Wear en Lekker Luister se Braaf-projek wat deur die land gaan toer om bewusmaking te skep oor hoe “braaf-wees” ʼn gesonde gees en liggaam kan kweek.

“Met ‘Braaf die boerboel’ wil ons kinders leer dat dit nie net belangrik is om braaf te wees nie, maar ook noodsaaklik. Ons wil graag ons kinders leer dat dit braaf is om soms bang en versigtig te wees, maar bo alles is dit braaf om iemand anders te help wat nie so bevoorreg soos jy is nie,” sê René Roux, Helpende Hand se adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie.

Boerboel Wear het ook reeds R40 000 ten bate van hierdie projek geskenk, waarmee 115 skooltassies vir behoeftige kinders aangekoop kon word.

Die Skooltassie-projek het sedert sy ontstaan ongeveer 55 000 tassies aan kinders regoor die land geskenk. Elke tassie bevat ʼn pennesakkie, grys potlode, inkleurpotlode, uitdraaikryte, skêr, uitveër, gom, liniaal, witbordjie, witbordpenne en ʼn Christelike leesboekie.

Van die eerste gr. 1’s wat tassies ontvang het, is nou reeds uit die skool en volgens Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, is dié projek een van die welsynsorganisasie se duurste maar ook sy belangrikste projekte omdat dit met opleiding, opvoeding en ontwikkeling help.

Piet Tand groet die maats op die atletiekveld. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

“Die gelykbreker tussen mense is dat ons almal soms arm is. Party finansieel, party fisiek, party geestelik. Niemand het alles nie en ons leef nie in ʼn volmaakte wêreld nie. Ons is deel van ʼn gemeenskap en hoe gouer ons leer om hand uit te steek en mekaar te help, hoe beter want só maak ons ons hele gemeenskap sterker.”

Volgens Jacques Joubert, hoof van Laerskool Mayville, is hierdie tipe inisiatiewe noodsaaklik om ʼn kultuur van vrygewigheid van jongs af by skoolleerders te kweek.

“Kinders is die toekoms van ons land. Daarom is dit belangrik en ons verantwoordelikheid om kinders van vroeg af te leer van omgee, mekaar by te staan en te ondersteun. Sodoende kweek ons ʼn gesonde fondasie om behoeftige kinders en gesinne toe te rus en die geleentheid te bied om ook hul lewensdoewitte te verwesenlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Katinka ·

Ek kan net nie gewoond raak aan hulle musiek nie, die kompetisie is baie baie beter. Die afrikaanse musiek bedryf is Groot, baie omvan te kies

Bosveldbul73 ·

Baie dankie Maroela Media vir hierdie berig. Dit is by vêrre my mees gunsteling “Feel Good”-artikel vir 2023!

kaplyn ·

Baie dankie Solidariteit dat julle deur Helpende Hand hierdie skooltassie projek instand hou. Ek dra al baie jare by tot Helpende Hand en is bly om te sien wat word met die geld gedoen. Ek is ‘n pensionaris en het baie afgeskaal wat my uitgawes aanbetref – selfs van DSTV ontslae geraak, maar ek gaan voort om Helpende Hand te ondersteun. Die drie boerseuns wat julle die jaar betrek het, in ‘n riem onder die hart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.