Wen só met jou kieskeurige klein etertjie

(Foto: Nathan Dumlao/Unsplash)

Natuurlik wil jy jou kleuter aan ʼn verskeidenheid van voedselsoorte voorstel, maar vir ʼn ouer kan dit ʼn verskriklike uitdaging wees, veral as jou kind gril vir groente, weier om iets nuuts te proe of daarop aandring om grondboontjiebottertoebroodjies met elke ete te eet.

Bianca Tromp, ʼn dieetkundige van Futurelife, sê alhoewel peuters en kleuters berug is vir hul kieskeurige eetgewoontes, is dit gewoonlik iets wat die meeste kinders vinnig ontgroei.

“ʼn Studie, waar 1 498 kinders tussen die ouderdomme van twee en ʼn half en vier jaar oor 18 maande met drie verskillende tussenposes geëvalueer is, het bevind dat 30% van die kinders kieskeurige eters was in ʼn stadium van die navorsing. Net 5,5% van die kinders was met elke evaluasie ʼn kieskeurige eter.”

Of jou kleuter nou ʼn tydelike of ʼn geharde kieskeurige eter is, Bianca het wenke om die jongspan se kieskeurigheid te oorwin:

  1. Volharding

Hoe frustrerend dit ook al kan wees, mag jy eenvoudig nie ophou om nuwe voedselsoorte vir jou kleuter voor te sit nie.

“Ouers gee eenvoudig te maklik op. Ons vind dat 90% van versorgers net drie tot vyf keer ʼn nuwe kossoort probeer voordat daar besluit word ʼn kind hou nie daarvan nie. Navorsing toon egter dat ʼn mens eintlik 10 tot 15 keer nuwe kos aan jou kind moet voorsit voordat hulle daarvan sal begin eet.”

  1. Moenie druk, dwing, omkoop of om die bos lei

Roetine is noodsaaklik en gereelde maaltye en peuselhappies, elke dag op dieselfde tyd, is belangrik om vir jou kind ʼn gevoel van veiligheid en stabiliteit te gee. Die meeste kleuters kan hul eie eetlus reguleer en daarom hoef jy hulle nie te dwing om te eet as hulle nie honger is nie. Probeer net weer met die volgende maaltyd of peuselhappie.

“Dit sal soveel onnodige spanning vir julle albei met etenstyd uitskakel.”

  1. Sê nee vir lekkernye

Ouers sukkel dikwels hiermee. “Dit is moeilik om die neulkrag van ʼn kleuter te weerstaan wat jou deurlopend deur die dag vir soetgoed, suikerbelaaide drinkgoed en kos vra. As jy egter wil hê jou kind moet gesonde alternatiewe met etenstyd geniet, moet jy bereid wees om nou “nee” te sê en die vloermoere te deurstaan.

“Hulle sal vinnig leer hoe ernstig en vasbeslote jy is, die honger sal intree en jou kieskeurige eter sal dit probeer wat op sy of haar bord aangebied word.”

Bianca sê dit beteken nie dat daar glad nie lekkernye mag wees nie, maar die inname daarvan moet slegs tot naweke of spesiale geleenthede beperk word.

  1. Voeg geur, tekstuur en verskeidenheid by

ʼn Verskeidenheid van geure en tekstuur kan die sleutel wees wat ʼn “vol nonsens”-eter omskep.

“Oefen jou kind se smaakklier deur dit stelselmatig meer komplekse geure te laat geniet. As jou kind van gewone volgraanpasta hou, kan jy volgende keer ʼn bietjie olyfolie byvoeg. Sodra dit aanvaarbaar is, kan ʼn bietjie groente bygevoeg word en daarna ʼn bietjie hoender.

“Speel ook rond met teksture. As jy byvoorbeeld die een dag fyngemaakte groente probeer het, kan jy die volgende dag dieselfde groente rooster, of selfs rou aanbied.

“Probeer ook om verskillende tekstuurkos gedurende die dag te versprei. Sit ʼn bakkie graan, soos die Futurelife Tots-reeks wat sag is, vir ontbyt voor, gevolg deur geroosterde groente vir middagete en ʼn krakerige appel vir ʼn peuselhappie.”

Bianca voeg by dat die eerste paar jaar van jou kind se lewe ʼn belangrike tyd is om gesonde eetgewoontes te vestig.

“Gebruik etenstye om ʼn band met jou kind te vestig en ondersteun hulle ontwikkeling met voedsame, gebalanseerde maaltye en versnaperinge.

“Wees geduldig! Hou dit spelerig en die gemoedere lig sodat jou kind ʼn gesonde verhouding met kos kan ontwikkel. As jy bekommerd is oor die groei en ontwikkeling van jou kind, kan jy altyd ʼn dokter, pediater of dieetkundige raadpleeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsabe ·

My kleindogter, 2jr, eet enige groente, net nie ‘n aartappel nie. Haar Mamma het haar vanaf die eerste vastekos-happie groente gevoer. Die kleinding sal tot ‘n suurlemoen eet sonder om ‘ n bekkie te trek. Maar boeta!, gee vir haar ‘n stukkie sjokolade en al wat vinger is word afgelek en weer gelek. Geen probleem met haar en sy is so gesond soos ‘n vis in die water. Prem ten spyt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.