Fossiele in die halfwoestyn: Karoo Nasionale Park

(Foto verskaf)

Hierdie is deel 3 van ʼn reisreeks oor die halfwoestyne van ons land deur Carina Stander. Lees deel 1 en deel 2. – Red

Op ʼn sonskyn-wintersdag ry ons gesin vanuit die Tuinroete na die Groot Karoo. Eers deur die magiese Meiringspoort, met sy kranse en watervalle, kristalhelder na die reën. Op ʼn barre vlakte hou ons stil by die speelse pienk bus van Silwerkaroo Padstal vol oudhede; Afrikaanse treffers speel oor langspeelplate.

Teen die middag ry ons Karoo Nasionale Park binne wat in ʼn streek lê wat soms Die Vlakte, die Koup of die Goup genoem word – ʼn streeksnaam wat afgelei is van goub of houb, soos die Khoi-veeboere van toentertyd dit genoem het. Dit beteken “pensvet”. Sien, vir eeue het enorme boktroppe in dié geweste gewei. Veral springbokke, maar ook blesbokke, elande, kwaggas en swartwildebeeste het in ʼn donderende tsoenami hier deurbeweeg. Vryelik en oorvloedig, in hulle honderdduisende, selfs miljoene, volgens verskeie geskiedenisskrywers. Die trekbokke kon myle ver gehoor en gesien word. Sedert die koms van die jagters-met-gewere en setlaars, is die wildlewe van die Groot Karoo genadeloos uitgedelg. Die laaste bokmigrasie was in 1896.

In 1979 is die Karoo Nasionale Park gestig om die verwoeste wildlewe te bewaar en te red wat te redde is. Vandag is dié spogpark sowat 90 000 hektaar. Skaars is ons deur die hek, of ons gewaar sommer ʼn hele klomp wildsoorte wat hier hervestig is. Die koedoes is vet, die springbokke wip rats oor die rimpelpad, die silwerrugjakkalse snuffel rond. Sonder om te soek, sien ons ook steenbokkies, rooihartbeeste, elande en selfs ʼn eenhoring-gemsbok. Twee dolverliefde volstruismannetjies dans vir ʼn vaal wyfie, maar sy voel ʼn veer.

Enige siel wat dink die Groot Karoo is plat en vervelig, was nog nie in dié park nie. Hier is behoorlike berge, tafelkoppe en kegelvormige koppies. Elke huisie in die park het pragtige uitsigte oor die riffelrugberge. Die huisies is uitstekend toegerus vir selfsorg en, soos alles in die Groot Karoo, is die kamers ruim. Ons sit soos dassies op die songebakte Karoo-stoepie, drink tee en eet die beskuit en koeksisters wat my twaalfjarige laitie en my man, Gerrit, vir die langpad gebak het.

Die Fossielroete agter die huisie is 400 m lank met ʼn fassinerende buiteluguitstalling van gefossileerde geraamtes; die skedels, tande en kloue van sabeldiere wat eens op ʼn tyd hier gewoon het; versteende hout waarop jy die groeiringe kan tel; die waterrimpelings in klip. Sommige van die fossiele is 255 miljoen jaar oud en dateer uit die Permian-tydperk toe soogdieragtige reptiele genaamd terapiede die aarde bewandel het. Die Groot Karoo was toe ʼn vloedvlakte, ʼn reusagtige binnelandse meer. Die afgelope tweehonderd jaar is 26 000 fossiele in die Karoo gevind. Dié magdom ontdekkings word moontlik gemaak deur ʼn aanhoudende afsetting van sedimente. Volgens professor Bruce Rubidge, navorser van Planetologie by Wits Universiteit, is die bron ʼn hoë belt van berge wat in die oertyd die proporsies van die Himalaja-bergreeks was. Dit was in die hart van die superkontinent, Gondwana, en die oorblyfsels van die magtige oerberge is die bergreekse aan die suide van Afrika.

Dis tyd vir ʼn skemerrit en ons 2×4-Fortuner, Karjakker, vat die grondpaadjies van Lammertjiesleegte en Klipspringerpas lag-lag. Bygesê, die roetes is in ʼn uitstekende toestand. Die park bestaan uit twee biome: baie Nama-Karoo en ʼn bietjie grasveld. Met ʼn jaarlikse reënval van ongeveer 250 ml is dit ʼn geharde landskap. Dis ʼn plek wat weet van watergebrek, maar die plantegroei is minder yl en meer geil as wat ʼn mens verwag. Dis wel ʼn goeie reënjaar, water syfer oral, die gras is geelgroen en die dwergstruike, blommende aalwyne, bolplante en vygies is volop. Soetdoring en skilpadbas groei op die vlaktes en teen die rante is blinktaaibos en besemkaree.

Skemertyd wys die Karoo sy towerkrag wanneer die lug oorgaan van stofpienk-en-pastelblou tot gebrande-oranje-en-diepblou. Op, op ry ons na die plato. By ʼn afgrond weerklink die geëggo van kransduiwe wat na hul neste terugkeer. Die bo-plato’s is van dolerietrots en die middelhellings bestaan uit rooi moddersteen, sandsteen en silksteen. Die landskap sorg vir volop skuilplekke vir diere, groot en klein. Hier is sowat 58 soogdierspesies, ook ʼn trop van minstens vyfhonderd bedreigde Kaapse bergkwaggas. Die park is ʼn jagplek vir tien leeus en roofdiere soos aardwolwe, bakoorjakkalse, rooikatte en bruin hiënas. Die tweehonderd voëlspesies sluit in die witkruisarend, Kaapse ooruil en Karoo-korhaan. Dan is hier ook ʼn swetterjoel slange, skilpaaie, geitjies, trapsuutjies en paddas.

Aandete by Salt & Pepper-restaurant in die park is ʼn vreugde. Fiona, die kelnerin, skerts alte lekker. Ons eet langs die kaggel. Soos die landskap en die verblyf, is alles in Karoo Nasionale Park gróót, ja, ook die porsies kos. Dis ruimhartige boerekos. Die geurige Karoolam, bedien in ʼn swart driepootpotjie, is iets waaroor ons seuns nog ʼn maand later praat. Die sagte koedoekruisskyf gaan volmaak saam met die soet pampoen. Dis die eerste keer in my lewe dat ek ʼn wilspasteitjie eet met so ʼn vrygewige hoeveelheid vulsel en so min deeg – heerlik! Later verlustig ons ons ook aan malvapoeding en brandewyntert.

Ná ʼn snoesige nagrus stap ons die volgende oggend die Bossieroete. Dis ʼn raps minder as 1 km, maar laat jou gou besef hoe gesond die veld is. ʼn Trop blinkvet koedoes wei hier neffens ons. Die plantname is beskrywend: deurmekaarbos, wag-ʼn-bietjie, noem-noem, skerpioenbos. Die mistigheid skuif weg en maak plek vir sonopkleure. “Dít voel mos nou soos vakansie,” sê Gerrit terwyl hy uitkyk oor die eindelose uitsigte. “ʼn Mens kan voel hoe die werkstres uit jou vloei.” Hy is nie verkeerd nie. Karoo Nasionale Park is ʼn plek wat ʼn mens tot stilte en stilstand dwing.

Ontbyt is moerkoffie en muffins, brood en driepootpotjies met tuisgemaakte konfyt, omelette met wildsmaalvleis. Ons laerskoolseun bestel plaatkoekies en daar verskyn sommer vyf op sy bord, met spek en stroop en al. Kyk, dié mense is nie suinig nie. Dis egte Karoohartlikheid in die hartjie van die Groot Karoo.

Reisraad:

  • Karoo Nasionale Park is in die Wes-Kaap. Dis 12 km vanaf Beaufort-Wes.
  • 1 April tot 30 September is die hekke vir wildritte oop van 7 vm tot 6 nm. 1 Oktober tot 31 Maart is dit oop van 6 vm tot 7 nm. Toegang is gratis vir Wild Card-lede.
  • Somerreëns is ʼn genade wanneer die kwik tot 40 °C styg. Die winters kan knypkoud raak en selfs onder vriespunt daal, met sneeu op die Nuweveldberge.
  • Karoo Nasionale Park het 120 km-selfritroetes waarvan die helfte maklik doenbaar is. Ons kon Lammertjiesleegte (10 km) en Potlekkertjie (45 km) gerieflik kafdraf met ons 2×4. ʼn Paar roetes is net geskik vir 4×4-voertuie: Afsaal (13 km), Nuweveld (52 km), De Hoek (12 km), Kookfontein (7 km), Sandrirvier (7 km) en Pienaarspas (6 km).
  • Die gasvryheidsbestuurder van Karoo Nasionale Park, Brian van der Westhuizen, mag maar trots wees op die verblyf. Die familiehuisie waar ons was, was fluitskoon, ruim, gerieflik en gebou in die klassieke Karoostyl. Dis die enigste nasionale park in die land (sover ek weet) wat ontbyt vir oornaggaste insluit. Hier is agt familiehuisies, tien kothuise en negentien chalets. Afsaal Cottage is ʼn ou skaapherdershut sowat 35 km vanaf die hoofkamp. Die kampeergronde het 24 staanplekke. Skakel: 023 415 2828 of 023 414 7080. Vonkpos: [email protected] Webwerf: www.sanparks.org/parks/karoo
  • Moenie ʼn ete by die voortreflike Salt & Peper-restaurant binne die park misloop nie – jy sal nie honger wegstap nie. Hulle spesialiseer in plaaslike treffers soos wildsvleis en Karoolam. Die restaurant is ook oop vir dagbesoekers. Vonkpos Jan Viljoen: [email protected]. Skakel: 083 276 4561.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

groenboer ·

Wel, ek is een van hulle. Ek “glo nie in” evolusie nie, want evolusie is nie ‘n religie nie. Na deeglike bestudering van die beskikbare getuienis, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat dit die beste verklaring is vir wat ons in die natuur waarneem – dit verg geen geloof nie.

Mens moet byvoeg: dit verhoed ook nie eintlik enige geloof nie – religie en wetenskap is twee verskillende dinge, met verskillende reëls.

Oom Jaap ·

Dis eintlik maklik. Die ewolusie-teorie berus op ‘n groot klomp wensdenkery en modelle wat nooit bewys is nie.
Die verskil tussen ‘n teorie en ‘n wet is dat jy ‘n wet kan bewys (bv swaartekrag), maar ‘n teorie is slegs ‘n beskrywing van hoe jy dink iets werk.
Ewolusie is slegs ‘n teorie, en daar is niks meer bewyse vir makro-ewolusie as vir die terorie dat die maan van kaas gemaak is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.