Foto’s: Kosibaai, ’n 4×4 en mooi strande

Die rivermond by Kosibaai. (Foto: Dalene de Vente)

Verby die dorpies Jozini en Manguzi maak ons karre nuwe spore op die grondpaaie van KwaZulu-Natal. In ʼn wêreld waar ’n selfoonsein nie ʼn gegewe is nie en waar jy enigiets van hoenders tot onderklere langs die straat kan koop is Kosibaai: ʼn strook teenaan die grens van Mosambiek.

Dit is ʼn ander wêreld, afgesonder, en laat enigiemand soos ʼn ontdekkingsreisiger voel. Op pad daarnatoe wonder jy of jy ooit nog in Suid-Afrika is: daar is net grondpaaie en gehuggies, beeste en bokke. Kindertjies sing en dans vir toeriste wat verbyry of beman stalletjies wat hout verkoop.

Die eerste aand bly ons in Lake Zilonde Bush Camp wat enkele kilometers van die Kosibaai-riviermonding is. Ons slaan kamp op en gaan onmiddellik strand toe. Voordat jy strand toe gaan, moet jy eers ʼn toestemmingsbrief gaan kry by die Kosi Bay Mouth Lodge & Camp. Van daar ry jy met ʼn eksklusiewe pad vir 4×4-aangedrewe voertuie na die monding toe.

Om by die strand uit te kom, loop jy eers deur die water van die riviermonding. ʼn Paar van ons groep gaan snorkel in die meer en ander swem in die see. Aan die einde van ʼn lang dag op die strand gaan drink ons ʼn bier by die kroeg van Kosi Bay Mouth Lodge & Camp en geniet die swem in hul mooi swembad. Ek is so bly om ʼn koffiemasjien te sien, dat ek sommer saam met die bier ʼn koffie drink.

Die boskampie, Zilonde, se badkamers is nie juis aan te beveel nie. Ek wonder elke keer of iemand nie vir my deur die oop gleuwe in die houtpaaltjies loer nie. Dié aand vertel een van my vriende ʼn staaltjie oor die einste bosbadkamers… Ek is ongelooflik bly toe ons hier oppak en met die grondpad 45 km verder ry tot by Bhanga Nek.

Bhanga Nek se strand is ‘n gunsteling. (Foto: Dalene de Vente)

Bhanga Nek se strand is een van my gunstelinge, want dis juis daar wat my pad met dié van ʼn seeskilpad kruis. Ek is alleen – strandrok, kaalvoet en sonder ʼn selfoon. Soos ek stap, sien ek ʼn vreemde ding uit die water kom en my brein neem etlike sekondes om hierdie gedaante ʼn naam te gee. Vir die eerste keer in my lewe sien ek ʼn regte groot seeskilpad.

Visse in Kosibaai se mond. (Foto: Albert van Renssen)

Ek was nie bewus van die reël dat jy nie naby aan die seediere mag kom nie, maar ek gaan sit ʼn paar meter van die skilpad af. Ek kan niemand bel om te laat weet wat ek sien nie, ek kan nie ʼn foto neem nie en dit gaan in elk geval nie help om in hierdie gedruis van branders iemand te roep nie. Ek kan net in verwondering sit. En ek verstaan vir die eerste keer wat mense bedoel as hulle sê die mooiste dinge in die lewe kan nie met ʼn kamera vasgevang word nie.

Ons koop ys by God Knows Tuck Shop – ʼn winkeltjie met net die nodigste: ʼn Paar bottels Dry Lemon, KOO Baked Beans en Fizzers. Ons koop braaihout by kinders langs die pad en saans, as dit reën, speel ons kaartspeletjies onder ʼn afdak in die bosse.

Ons bly in een van die kampterreine in die omgewing, maar ek sal dit egter nie vir ander mense aanbeveel nie. As groot groep met ongeveer ses karre was ons veilig, maar toe vier van ons groep agterbly by die kampterrein ʼn paar dae later, was daar egter ongewenste besoekers.

My hart raak nogtans verknog aan hierdie omgewing met sy grondpaaie en eenvoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.