Foto’s: Strandfontein is ene sonskyn, samesyn

(Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Ja-nee, Janu-worry is darem amper verby, en dit voel juis of my vakansie al maande terug gebeur het – maar dis oukei, want ek weet daar is ʼn besoek aan Weskus, of twee, in die pyplyn en daar is nie ʼn beter manier om jou jaar op te kikker as dit nie!

Die dorpie

Luister, het ek julle al vertel hoe onbeskryflik mooi dit daar teen die Namakwa-Weskus is? Die ding is: ek kan maar net nie uitgepraat raak oor Strandfontein en daai wildewragtig-kuslyn nie.

Dis mos nou maar hoe dit werk met ʼn streek waar die woestyn kop omlaag tot teenaan die yskoue oseaan boender. Daar is kontras, daar is drama, daar is spasie, daar is vars lug en daar is lekker mense. Vir my is dit juis dié karakters wat die Weskus so spesiaal maak.

Strandfontein is een van die ougat plekkies waar Maskam se gasvryheid hoogty vier. Dié dorpie sluimer teenaan die dramatiese see-kranse wat so kenmerkend is van hierdie deel van die kuslyn. ʼn Amper eindelose strand strek noordwaarts verby Bloukrans en Deurspring, al die pad tot waar die Olifantsrivier in die Atlantiese Oseaan invloei.

(Foto: Jacques Marais)

Hier kry jy asemrowende sandsteen-formasies, mos-bedekte ronde klippe wat soos dinosouruseiers in die skadu van die kranse lê; en veldblomme wat in hul miljoene hier teen die bossie-veld-see bloei. Die mense wat teen die Viswater-roete gaan draf, stap of trap se monde gaan oophang van al die mooi.

Die soel somerdae en kristalhelder blou van die see lok natuurlik vissermanne, branderplankryers en kajakkers van heinde en verre, en daar is niks so lekker as om hier branders te vang saam met skole dolfyne nie. Kreefduikers wat weet waar om te soek gaan verseker ʼn knewel of drie raakloop, maar die Weskus kan woes raak, so maak seker jy ken jou storie.

Daar is ook Die Kommetjie en ʼn paar ander gety-poele waar ʼn mens veilig met die vriesende Weskus water kan gaan kennis maak. Daar is nie ʼn beter wegbreekplek vir die hele gesin as Strandfontein nie. Kom kaalvoet, en maak seker jy bring al jou speelgoed en jou kamera.

(Foto: Jacques Marais)

Die doen-dinge

Wawye vlaktes, epiese sonsondergange wat oranje en blanje teen die blou, watertand-rooivleis en lekkerbek-bokkoms is maar net ʼn handjievol dinge wat die Namakwa-Weskus, oftewel die Matzikamma-streek, so spesiaal maak. Hier is nog ʼn paar lekker doen-dinge wat jy kan aandurf in hierdie streek:

Water en Fladder: Die plaaslike vissermanne vang steeds harders op die strandmeer by Papendorp, en vroeg soggens roei hulle in klein hout-bakkies uit om nette te gaan span. Die strandmeer wat die Olifantsrivier hier skep is ʼn paradys vir voëlkykers, met lepelaars, reuse pelikane, flaminke en hope ander watervoëls wat hier tussen die biesies nes skrop.

(Foto: Jacques Marais)

Trap jou ysterperd: Gifberg en die Matzikamma-streek is tot oorlopens toe vol van fietsryroetes. Saal op by Maskam-gasteplaas indien jy die asemrowende Gifbergpas wil uittrap. Hierdie publieke grondpad kronkel soos ʼn lui pofadder tot bo-op die plato, en bied oneindige panoramas so vêr as die oog kan sien. ʼn Mens kan ook van Bagdad-kafee af met ʼn reeks afgeleë passe tot in die Kobee trap.

Plesier in die rivier: Die Olifants is een van Suid-Afrika se minder bekende riviere vir watersport, maar bied puik kajak-geleenthede of opsies vir SUP, oftewel stand-up paddle-boarding aan roeiers. Begin bokant die mond by Papendorp, en van hier af kan jy maklik 30 km rivier-op verken. ʼn Kajak is natuurlik meer stabiel en bied ook geleentheid om vis te vang, maar ʼn SUP werk goed indien jy graag wil voëls kyk op die strandmeer.

(Foto: Jacques Marais)

Eet na hartelus – Kos is nou maar een maal koning hier teen die Namakwa-Weskus: Letsatsi Lodge se biefstuk en murgbene; Doringbaai se seekos by The Jetty-restaurant; Bitterfontein se roosterbrood met smoor; Thi-Art se gatskop-cappuccino’s – maak net seker jy is honger.

Hoe maak ʼn mens?

Wanneer om te gaan: Die klimaat hier teen die Namakwa-Weskus is tipies van ʼn semi-woestyn, en die somers raak rooi-warm. Die kus word egter gereeld deur mis bedek en is sowat 10 °C koeler as die binneland. Winters is koel, en snags daal die temperatuur maklik tot onder vriespunt.

(Foto: Jacques Marais)

Bly Hier: Strandfontein se karavaanpark is net die plek indien jy hou van kamp. Buite die vakansieseisoen het jy die hele plek omtrent vir jouself, en die meeste van die staanplekke spog met ʼn puik see-uitsig. Die strand is skaars 50 m van jou tent af, en staanplekke wissel in prys vanaf R310 tot R470 per aand; daar is ook chalets wat 4 tot 6 mense kan huisves vanaf R1 270 per aand. Bespreek by 027 201 3437.

Hoe kom ek daar: Volg die N7 vanaf Kaapstad tot by Vanrhynsdorp, en draai dan links met die R27 langs. Na sowat 24 km draai jy weer links met die R362 vir 36 km tot by Strandfontein – dit neem jou sowat vier ure se ry vanuit die Kaap.

(Foto: Jacques Marais)

  • Jacques Marais is ʼn fotograaf en skrywer van avontuurgidse soos Top MTB Trails en Doen-Dinge in ʼn Dorp. Volg hom by @jacqmaraisphoto op sosiale media of besoek www.jacquesmarais.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.