Gedagte vir die dag:  Oorvloed

reenboog_perde_veld_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 36:5-11

Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil. In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid. (Psalm 36:8-9)

God se goedheid kom in strome na ons toe. Hiervan is die Bybel- skrywers oortuig, en spesifiek hierdie psalmdigter beskryf dit met helder beelde. Die Here se liefde reik tot in die wolke, juig hy, en sy regspraak is geanker in die see se dieptes. Hy gee die lig waarin ons lewe.

Dit is boonop nie vreemd dat sulke God-is-goed-uitroepe juis in swaar tye opklink nie. Kyk mooi: Aan weerskante van hierdie uitgesproke oortuiging staan Boosheid met gebalde vuiste. Daar is geen ander adres om na toe te vlug as die Here s’n nie. In sy huis is daar veiligheid – en méér: oorvloed. Daar is dit niks minder nie as strome goedheid wat die wegkruiper se dors les.

Ons ken dit steeds: Dit is net die Here se sigbare, hoorbare teenwoordigheid wat sy kinders troos. Daarom bid ons dikwels: Here, praat met my! Here, wýs my …

Alte dikwels vind ons die verhoring van hierdie soort gebed in die kerk, die plek wat gelowiges van alle tye as “die Here se huis” ken. Dit is hier waar hulle oor die strome van seën sing en aan die genade onbeskryflik groot herinner word.

Dit is in die kerk waar bangerige mense gehelp word om te ont- hou dat hulle nie alleen is nie. Dat hulle nie uitgelewer word aan magte en kragte wat hulle wil meesleur nie. In hierdie plek word daar ’n gemeenskaplike verbondenheid gevier en word ander se troosvolle teenwoordigheid beleef.

As gelowiges dan ’n groot lydensweek moet meemaak, is daar geen geskikter plek as juis hierdie een nie. Hier waar bloed kruip waar dit nie kan loop nie. Hier by die plek van oorvloed.

Ek en my susters en broers is u eiendom, Here. U is ons skuiling. Dankie!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat ons by U kan skuil…U genade is vir ons genoeg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.