Geen filters welkom op dié nuwe app

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

Die meeste van ons sal huiwer om ʼn app te gebruik wat jou sonder waarskuwing vra om binne twee minute ʼn ongekunstelde kykie van jou alledaagse lewe te gee.

Dit is egter die konsep van ʼn nuwe app genaamd BeReal, wat stadig maar seker besig is om onder Suid-Afrikaanse tieners en jong mense vlam te vat.

Die toepassing, wat in Januarie 2020 deur voormalige GoPro-werknemer Alexis Barreyat ontwikkel is, stuur een keer ʼn dag ʼn kennisgewing na gebruikers wat hulle vra om ’n foto van hul omgewing en hulself binne ’n tweeminuut‑tydraamwerk te plaas.

Plasings op BeReal kom in die vorm van twee foto’s wat gelyktydig geneem is van ’n foon se voorste en agterste kameras, wat dan in die stroom (feeds) van die app-gebruikers en hulle vriende geplaas word.

BeReal vra vir ‘n selfie sonder ‘n filter. (Foto: Mateus Campos/Unsplash)

Gebruikers wat nie self ʼn foto plaas nie, kan egter nie sien wat hul vriende opgelaai het nie en die app het geen opsies vir filters nie. Gebruikers het ook nie volgelinge nie, maar eerder “BeReal-vriende” en slegs die gebruiker weet hoeveel vriende hy op die app het.

Dié vriende sal ook kan sien hoeveel keer iemand ʼn foto probeer oorneem het en of die foto baie lank ná die kennisgewing geplaas is.

“Dit beteken jy kan nie wag om die beste deel van jou dag te wys saam met ’n vleiende foto op jou kamerarol nie. Die app moedig jou aan om juis jou werklike self en lewe met jou vriende te deel,” verduidelik die sosialemediabemarkingspesialis Magriet Groenewald.

Groenewald spog met sewe opwindende jare in dié voortdurend veranderende bedryf en het reeds saam met verskeie bekendes soos Schalk Bezuidenhout, Minki van der Westhuizen, Hykie Berg en Leandie du Randt, asook die kreatiwiteitskenner dr. Kobus Neethling en finansiële kundige Wouter Snyman gewerk om hulle teenwoordigheid op sosiale media te laat groei.

Sy verduidelik dat die nuwe app vir baie aanloklik kan wees, veral weens die dreinerende druk van tradisionele sosiale media waar gebruikers tyd en energie spandeer om die perfekte kiekie te kry en dit boonop met filters en verstellings te dokter.

“Ek dink dis fantasties dat mense aangemoedig word om hul werklike self te deel. Ek dink dit skep baie meer realistiese verwagtinge van hoe mense moet lyk en watter aktiwiteite jou deur die week besig hou.”

Die Suid-Afrikaanse sosialemediakenner, Magriet Groenewald. (Foto: Verskaf)

Hoewel talle gebruikers ook die app se strewe na sogenaamde “outentieke sosiale media” prys, meen Groenewald dat BeReal nie Instagram-base slapelose nagte gaan gee nie.

“BeReal se gewildheid het toegeneem en hoewel die app lynreg teen baie van Instagram se kernkenmerke staan, het Instagram reeds van BeReal se unieke kenmerke gekopieer ten einde sy gebruikers dieselfde ervaring te gee. Sodoende neutraliseer Instagram basies sy kompetisie en bly dit relevant.”

Volgens NBC News bevat BeReal tans nie enige betaalde advertensies nie en danksy sy stelselmatige organiese groei, word dit hoofsaaklik deur waagkapitaalbeleggings gefinansier.

Time Magazine het ook berig dat BeReal tot op hede wêreldwyd meer as 22,8 miljoen keer afgelaai is.

“Of hierdie groei in lede volhoubaar gaan wees, is te betwyfel. Ons het al in die verlede vele apps gesien wat sommer baie gou baie vinnig gewild word, maar dan stoom verloor,” sê Groenewald.

Sy het ook vier moontlike gevaartekens wat die app vir tieners inhou, uitgelig;

  1. Foto’s is ongemodereer, wat beteken dat as jou kind op die app se Discovery-blad blaai, hulle dalk onvanpaste inhoud kan sien. Dit is daarom belangrik dat gebruikers hierdie tipe inhoud rapporteer.
  2. Daar is tans nog geen ouerkontroles nie en minimale privaatheidskontroles. Volgens Groenewald beteken dit nie noodwendig dat dit onveilig is nie. “As jou kind egter onder die ouderdom van 13 is, sal hulle dalk nie die aard van die toepassing verstaan nie.”
  3. Foto’s gebruik die voor- en agterkamera, daarom is dit belangrik vir jongmense om bewus te wees van hul omgewing om te verhoed dat hul enigiets plaas van hul omgewing wat hul in gevaar kan stel.
  4. Dit is maklik om met vreemdelinge kontak te maak, veral as sommige jongmense dalk vriendskapsversoeke van vreemdelinge deur die Discovery-blad stuur of ontvang as hulle app gestel is om hulle foto met almal, nie net hul BeReal-vriende nie, te deel. Sodra ’n ander gebruiker op dié vriendelys is, kan hulle kommentaar op foto’s lewer en ook kennisgewings oor jou plasings ontvang.

Bykomende bronne: NBC News, Time Magazine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OW ·

Gaan maar verby.Baie min is deesdae privaat.Dit skep net geleenthede vir misdadigers om inligting in die hande te kry.

Manie ·

Korrek, ‘n selfoonnommer en e-pos adres veroorsaak reeds te veel gemors pos.

Miskruier ·

Ons is hopeloos te veel op ons fone. Gaan kuier dat mense jou kan leer ken, soos jy werklik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.