YouTube steek duim-af-ikoon weg

(Foto: NordWood Themes/Unsplash)

Die videoplatform YouTube het Woensdag aangekondig dat die telling van die “dislike”-knoppie nie meer vir die publiek sigbaar sal wee nie.

Dit word glo gedoen om inhoudskeppers te beskerm teen teistering en geteikende aanvalle.

Kenners het al herhaaldelik gesê ʼn publieke telkaart van of mense van sosialemediaplasings hou of nie, is skadelik vir gebruikers se welstand. Facebook sowel as Instagram het gebruikers onlangs toegelaat om weg te doen met dié “dislike”-opsie.

Gebruikers sal steeds op die videoplatform van Google op die “dislike”-knoppie kan klik, maar hulle sal nie meer die negatiewe resensietelling kan sien nie.

“YouTube wil respekvolle interaksie tussen kykers en skeppers bevorder. Ons gaan hiermee eksperimenteer en die data het reeds getoon daar is ʼn vermindering in negatiewe gedrag,” het YouTube in ʼn verklaring gesê.

Inhoudskeppers, die sosialemediasterre wat skares aanlyn na die platform lok, sal egter steeds kan sien hoeveel keer daar op die duime-af-ikoon onder die betrokke video geklik is.

Die verandering by YouTube kom omdat groot sosialemediaplatforms gereeld deur wetgewers, reguleerders en waghonde daarvan beskuldig word dat hulle nie genoeg doen om teistering aanlyn te beveg nie.

Facebook worstel met een van sy ernstigste reputasiekrisisse nóg. Dit word gedryf deur interne dokumente wat uitgelek is wat wys dat uitvoerende hoofde weet van die skade wat die gebruik van die platform aan veral jong mense se geestesgesondheid doen.

Die onthullings deur die voormalige Facebook-werknemer, Frances Haugen, het nuwe stukrag gebring aan oproepe om tegnologie-reuse beter te reguleer.

Bekommernis oor Facebook se potensiële skade het ook oorgespoel na ander platforms soos TikTok, Snapchat en YouTube wat in ʼn verhoor verlede maand in die VSA senatore probeer oortuig het dat hulle platforms veilig is vir hul jong gebruikers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Ons wereld word so sag, niemand mag niks meer sleg se nie.
Dis pateties.

Wielspore ·

Na my mening skep die verwydering van die duim-af-ikoon ‘n valse toestand van sukses by die skepper. Regverdige kritiek is opbouend en met die regte toepassing kan jy die skepper help na beter sukses.
As die ouers vir hulle kind by die huis vertel hy is die beste sanger alhoewel hy nie regtig kan sing, gaan daardie kind eendag met skok besef hy is nie ‘n sanger en sy vertroue in sy ouers se opvoeding verloor.
Eerlike kommunikasie is die beste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.