Moenie helende krag van troeteldiere onderskat

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: Blue Bird/Pexels)

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) leef soveel as een uit elke agt mense tans met ʼn geestesgesondheidstoestand wat hul gesondheid, welstand en verhouding met ander mense beïnvloed.

Boonop is daar ʼn ook ʼn toenemende aantal jong volwassenes en tieners wat deur geestesgesondheidstoestande geraak word.

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) sê plaaslik het slegs een uit elke tien mense toegang tot gehalte geestesgesondheidsorg.

Met Oktober wat op geestesgesondheid fokus en 10 Oktober wat wêreldwyd as Geestesgesondheidsdag gevier word, is dit belangrik om te onthou dat talle troeteldiere hulle eienaars op die pad na beter geestesgesondheid en emosionele welstand ondersteun.

“Die emosionele ondersteuning wat troeteldiere kan bied is reeds goed nagevors en gedokumenteer,” sê Marycke Ackhurst, ʼn troeteldiergedragdeskundige van Hill’s Pet Nutrition.

“Angs, stres en depressie is emosies wat enige lid van jou gesin kan beïnvloed, ongeag hulle ouderdom. Daar is bewyse dat troeteldiere kan help om hierdie emosies te verminder sowel as om hul eienaar se selfbeeld te verhoog.”

(Foto verskaf)

Marycke het sommer ʼn hele paar voorbeelde verskaf van hoe ʼn troeteldier emosionele welstand en geestesgesondheid in ʼn huis kan help bevorder:

  • Jonger kinders vind dit dikwels moeilik om hul gevoelens uit te druk, en troeteldiere kan kinders verantwoordelikheid, altruïsme en deernis leer. Hulle kan help om kinders ’n gevoel van sekuriteit te gee. Troeteldiere bied ook onvoorwaardelike liefde en kameraadskap, wat kan help om ’n kind belangrik te laat voel en hulle help om ’n positiewe selfbeeld te ontwikkel.
  • Vir bejaardes bied ’n troeteldier nie net kameraadskap nie, maar ook ’n doel, aangesien hulle vir hul troeteldier moet sorg. Dit gee senior burgers se fisiese en emosionele welstand ’n hupstoot. Navorsing het getoon dat vir diegene wat alleen woon, die risiko van sterftes met 33% verminder as hulle ʼn troeteldier versorg.
  • Troeteldiere het die wonderlike vermoë om ons gemoed te lig deur net daar te wees terwyl hulle ons van geselskap voorsien. Hulle help ons om daaglikse spanning te ontsnap en laat ons lag, wat natuurlik hope van goedvoelhormone soos endorfiene vrystel.
  • Die onvoorwaardelike liefde en vertroosting wat honde kan bied wanneer hulle ons emosies eien sonder dat mense dit raaksien, maak hulle die perfekte emosionele ondersteuning en kan hulle ’n beduidende rol in ’n behandelingsproses speel.
  • Troeteldiere kan help om ’n roetine te skep en ’n kalmerende effek uit te oefen deur hulle net te streel of met hulle te speel.
  • Oefening is ’n belangrike aspek vir geestesgesondheid en welstand, en jou hond is net die regte oefenmaat wat jy nodig het om jou op en aan die gang te kry.

Ackhurst sê navorsing bewys keer-op-keer dat mense met troeteldiere gelukkiger is, en ’n beter selfbeeld en sosiale vaardighede het. Sy waarsku egter dat om ’n troeteldier te hê ’n groot langtermynverantwoordelikheid is, wat nooit ligtelik oorweeg moet word nie.

“Wanneer jy ’n troeteldier in ’n huis met kinders kies, onthou om die troeteldier se temperament in ag te neem en dat die algehele verantwoordelikheid vir die dier se versorging altyd op die ouer se skouers sal rus.”

Individue wat moontlik emosionele ondersteuning benodig, word aangemoedig om die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angshulplyn by 0800 567 567 te bel.

Vir meer inligting besoek Hill’s Pet Nutrition se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karoo ·

Ek is so baie dankbaar dat wetgewing aftree oorde/instansies nou dwing om oumense toe te laat om troeteldiere te he. Natuurlik maak hulle dit moeilik met ‘n rits reels, soms nie altyd bilik maar punt is, hulle kan jou nie meer keer nie, en dis wonderlik, veral vir die ouer mense.

Sonja ·

Ek bly nou al 6 jaar alleen, na my man se dood. En ek sou dit nie kon doen as ek nie my twee hondjies gehad het nie. Hulle onvoorwaardelike liefde en hul behoefte aan my vertroeteling is iets wat ek koester.

trotsNAMSA ·

Ek is gediagnoseer met PTSD/maniese depressie. As gevolg van my oorlede 4 honde en nou my kat, is die lewe pragtig en prettig. Diere is Engeltjies !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.