5 plaasaanvalle binne vier dae, name bekend

Monument_Plaasmoorde-320x165Die burgerregte-organisasie AfriForum sal volgende week ’n aksieplan ter opskerping van sy veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde bekendmaak. Die organisasie is bekommerd dat die toename in plaasmoorde en plaasaanvalle in 2013 blykbaar in 2014 gaan voortduur en vererger. Gedurende die afgelope vier dae het minstens vyf gewelddadige plaasaanvalle in die land plaasgevind.

Die jongste insident het gisteraand plaasgevind toe twee gewapende mans ’n boer en sy vrou op hulle plaas net buite Barkly-Oos aangeval het. Die boer, Sarel Pretorius (61) van die plaas Rooipoort, is doodgeskiet. Sy vrou, Annemarie, is tydens die aanval in die badkamer toegesluit. Die polisie het vinnig gereageer en vingerafdrukke is op die toneel gekry. AfriForum se buurt- en plaaswag is ook gemobiliseer om die verdagtes, wat in Elliot se rigting gevlug het, op te spoor. Die verdagtes het ’n wit Toyota Hilux-bakkie en ook vuurwapens gesteel.

Die Barkly-Oos gemeenskap is nog getraumatiseer deur die wrede plaasmoord op David (87) en Rallie de Villiers (86) wat in Oktober 2013 daar gepleeg is.

Die ander vier plaasaanvalle wat gedurende die afgelope vier dae voorgekom het, is soos volg:

  • 11 Januarie – Bloemspruit. Dr. Jacob Swart en sy vrou Elise is op hulle plaas deur twee mans met messe en staalpype aangeval. Aanvallers het met ’n .22 rewolwer, ’n geweer, twee selfone en ’n onbekende bedrag kontant gevlug.
  • 12 Januarie – Wallmansthal-omgewing. ‘n R5-aanvalsgeweer wat na bewering net aan die SAPD uitgereik word, is gebruik om die slagoffers, wat in hulle sestigerjare is, aan te val. Die boer is gewond en elektroniese toestelle is gesteel.
  • 14 Januarie – Waterval-omgewing buite Pretoria. Die boer is buitentoe gelok en met ‘n panga aangeval.
  • 14 Januarie – Wallmansthal. ‘n Boer is aangehou en aangerand.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat AfriForum se veldtog daarop gemik is om die SAPD sover te kry om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar en om spesialiseenhede vir landelike veiligheid te skep. “In hierdie krisis is daar nie meer ʼn draad om op te sit nie. Óf die polisie is deel van die oplossing, óf hulle is deel van die probleem.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het bygevoeg dat druk op die regering alleen nie die krisis gaan oplos nie. Gemeenskappe het die reg en die vermoë om hulself te beveilig. “Die regering se lakse houding jeens plaasmoorde het ʼn situasie geskep waar die publiek self verantwoordelikheid vir hul veiligheid moet neem. Ons doen ʼn beroep op elkeen om by gemeenskapsveiligheidsnetwerke betrokke te raak. In die gemeenskappe waar sulke netwerke tot stand gebring is, het misdaad beduidend gedaal.”

AfriForum se veldtog sal ’n verskeidenheid van bewusmakings- en protesaksies insluit, sowel as ’n strategie waarvolgens gemeenskapsveiligheidsnetwerke regoor Suid-Afrika op die been gebring sal word.

Lees ook:
Vyfde plaasaanval vir 2014: Boer sterf in Barkly-Oos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

grassie ·

Soms is daar `n reaksie na sulke barbaarse dade en word die gemeenskap waaruit die misdadigers kom getref deur `n onvoorsiene ramp of ellende. Dit word die blinde sambok genoem. Of dit werklik waar is weet ek nie en ek is ook nie eintlik bygelowig nie. Ons sal maar moet wag en kyk.

EyesEars ·

Indien Afriforum dit kan reg kry om plaasaanvalle as ‘n prioriteits misdaad te laat herken, sal ek sê, knap gedaan. In my eerlike opinie, glo ek nie dit sal gebeur nie.
1) Die regering en versekerings maatskappye maak te veel geld uit al hierdie “kriminele aktiwiteite” (wat volgens my moorde is).
2) Ek glo hierdie “misdadigers” word op ‘n manier befonds om hierdie “kriminele aktiwiteite” uit te voer. Dit word befonds deur privaat individuele of politieke groepe of individuele van politieke groepe of individuele met persoonlike agenda’s. In meeste gevalle word hierdie “misdadegers” nie aangekeer nie en die ondersoeke “hang”. So ook, in sommige gevalle word daar niks geneem nie. Net moord, verminking, gebroke huise en gebroke finansies wat agter bly. Hoekom?
3) Daar was reeds “gewaarsku” dat boere “die grond wat hulle gesteel het” moet afgee sonder vergoeding en dus sien ek dit as ‘n direkte bedreiging en dreigement om boere te intimideer om “grond af te gee”. Hoe kan die regering soveel moorde en aanvalle, op, in meeste gevalle, ‘n minderheidsgroep, in ‘n kwessie van ‘n paar dae werklik verduidelik en dit probeer reverdig met die verduideliking van “kriminele aktiwiteite”? Gaan hulle dit aanspreek, in my opinie, nee, hoekom? Hulle sit nogsteeds met die mentaliteit dat die grond aan hulle behoort. Meer as dit, wil dit voorkom, dat die regering wil he dat AL die grond aan die regering behoort. Dan sal die regering minder “probleme” he met boere om op enige stuk grond te gaan krap vir enige minerale of ander wat meer “geld” werd is. Op hierdie stadium gaan dit vir die regering oor dit wat binne in die grond is, instede van bo-op die grond. Dit is ook die rede waarom die regerende party, rassisme en haat bly aanwakker. Deur dit gedurig aan te wakker, probeer hulle die eintlike rede vir grond, verbloem.
Reg genoeg, meeste plase is in afgelee gebiede en dus in ‘n groter gevaar, maar selfs sommige van hierdie mensies het sekuriteits planne, meganismes, ens in plek. Nou hoe nou. Daar kan tog werklik nie van die boere verwag word, om vir ieder en elke moontlike gevaar, voorsiening te kan maak nie. Dit verbaas my regtig dat sekere mense die snert kwyt raak dat baie van die huise nie genoeg beveilig is nie. (Dus, nog ‘n manier vir versekering om nie uit te betaal nie)
4) Ook dit is die doel van “kriminele aktiwiteite” om boere te verarm, sodat die wat grond en implimente het wat werk, teen ‘n spot goedkoop prys kan verkoop, omdat die boer nie meer ‘n keuse (finansieel gewys) het nie, en of nie meer kans sien vir die aanhoudende bombadeering van “kriminele aktiwiteite” en verminking (wat mediese uitgawes behels)” nie.

Vraag nou – Indien ‘n mens na die statistieke “kriminele aktiwiteite” op plase gaan kyk oor die periode vanaf 1994 (wat ek weet meeste het al gedoen), wat sou julle slotsom dan tot gevolg he en moet daar dan nie dalk na ‘n ander manier gekyk word na hierdie hele situasie nie? Om met regering en die huidige wette te probeer saamwerk, werk nie juis vrugte af nie. Net meer geld, oor ‘n langer periode word gemors om hofsake en so meer. (Net nog meer geld wat die regering tap van die belasting betalers.) Hoeveel het die verskeie departemente vanaf 1994 vir enige sake uitbetaal teenoor individue vir sake wat die individue gewen het? ‘n Lys met saak nommers, die saak, die department, die eis en die datum van sake wat reeds afgehandel is en individue wat ten volle uitbetaal is, sal waardeer word. Ek is seker hierdie inligting kan as ‘n maatstaf gebruik word van hoe “goed” ons wette werklik is en of dit werklik die reenboognasie as ‘n geheel, in ag neem, sonder om enige ander wette te oorskry. Hiermee glo ek, sal n mens ook kan sien, wie het vir wie in die sak. Hoe kan dit moontlik die boere van hulp wees? Om die wet op ‘n ander manier te gebruik, net soos wat sekere magistrate, ens. die wette “omdraai” oor grys areas en mense wat ryp, kan laat vry loop. So vir hoeveel plaasaanvalle, was daar werklik mense voorgekeer en sit vandag in die tronk. Waar is daardie statistieke?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.