Agoa-beraad het min vermag vir SA – DA

Verlede week se beraad in Johannesburg, waar samesprekings gehou is oor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (bekend as Agoa) se toekoms in Suid-Afrika, het min vermag, meen dr. Dion George, DA-LP en die party se woordvoerder oor finansies.

Agoa hou ʼn jaarlikse waarde van sowat $4,5 miljard (sowat R80 miljard) vir Suid-Afrika in. Ingevolge die Agoa-ooreenkoms word aksynsvrye toegang aan verskeie Afrika-lande suid van die Sahara gegee, maar deelname aan dié ooreenkoms word gekoppel aan bepaalde demokratiese kriteria wat die VSA jaarliks hersien.

Die VSA het reeds vier Afrika-lande – die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Gaboen, Niger en Uganda – uit die Agoa-handelsooreenkoms geskop te midde van groeiende kommer oor staatsgrepe, demokrasie en menseregtevergrype in dié lande.

Aanvanklik was die ooreenkoms net tydelik wat ʼn handelsvoordeel daar gestel het vir die tydperk vanaf Oktober 2000 tot September 2008. Die ooreenkoms is hierna nog twee keer verleng, eers tot 2015 en daarna tot September 2025, wanneer dit verval.

Volgens George was dit vanselfsprekend dat Suid-Afrika sy jaarlikse hersiening sou slaag.

“Die Agoa-beraad het afgesluit met geen duidelikheid oor of die ooreenkoms verleng gaan word al dan nie, nog minder of die ontwerp daarvan aangepas sal word en of Suid-Afrika steeds voordeel daaruit sal kan trek,” sê George.

Volgens hom het die ANC se voortgesette steun aan Rusland en in besonder Iran ʼn klip in die pad geword wat die hernuwing van die ooreenkoms in die gedrang kan bring.

Juis om dié rede het die DA vóór die beraad ʼn afvaardiging na Washington DC gestuur om dit onder die aandag van die Amerikaanse-kongres te bring dat Suid-Afrika nie eenparig saamstem met die ANC se steun vir Rusland nie.

“Suid-Afrika het gevolglik ʼn tameletjie vermy en die ooreenkoms is hernu vir volgende jaar,” sê George.

Die huidige uitdaging is of die VSA weer die handelsooreenkoms gaan hernu en of Suid-Afrika dalk ook uitgeskop word.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy openingsrede by die Agoa-forum in Johannesburg. (Foto: GCIS)

George het verwys na pres. Cyril Ramaphosa se versoek tydens die beraad om die ooreenkoms met nog tien jaar te verleng. “Dié versoek draai duidelik ʼn blinde oog op wat gedoen moet word. In die huidige ingewikkelde omgewing sal die keuses wat Suid-Afrika maak bepaal of die land sy handelsvoordele behou of nie,” sê George.

“Die ANC moet nou die belange van Suid-Afrikaners bo dié van sy eie stel.”

George het ʼn beroep vir spoedige optrede gemaak. “Ons ekonomie trek nie voordeel uit die ANC se verbintenisse met Rusland en Iran nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien hulle die Wes-Kaap se saak gestel het is iets bereik. Veral ons landbou baat heelwat. uit Agoa. Wat die res betref is seker weinig bereik.

JohanR ·

President het seker bakhand by die deur gestaan toe hy totsiens se!

Andre ·

…die VSA behoort díe as ‘n geleentheid te sien om beter bestuur in SA af te dwing .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.