Bekende Franse modeontwerper sterf

Thierry Mugler (Foto: verskaf)

Thierry Mugler (Foto: Martin Ouellet-Diotte/AFP)

Thierry Mugler, die Franse modeontwerper, is Sondag in die ouderdom van 73 dood aan natuurlike oorsake. Dié befaamde ontwerper was een van die grootste modefigure van die 20ste eeu.

Mugler was bekend vir sy uitdagende uitkyk op die modebedryf. “Ek het nog altyd gedink dat mode op sig self nie genoeg is nie, en dat dit uitgebeeld moes word teen ’n musikale en flambojante agtergrond.”

Mugler was verantwoordelik vir skouspelagtige mode-geleenthede. Die modelle wat hy in sy vertonings gebruik het, was dikwels geklee in uitrustings wat die grense van normaal uitgedaag het. Hulle het soms soos katte, voëls en reptiele vir dié glansgeleenthede aangetrek.

Hy het veral ʼn hand in mode van die 1980’s gehad. Uitrustings met breë skouers en dun middels was aan die orde van die dag. Bekendes soos David Bowie en Grace Jones het hierdie styl veral ten toon gestel. Bowie en Mugler het ook gereeld saamgewerk om nuwe ontwerpe op die lappe te kry.

Mugler en George Michael het saamgewerk in Michael se 1992 musiekvideo, Too Funky. Dié video was gevul met wilde uitrustings en ʼn parade van topmodelle.

Hoewel Mugler se ontwerpe dikwels afgemaak is as seksisties en pronkerig, het bekendes soos Lady Gaga en Beyonce sy kreatiwiteit vir hul wêreldtoere ingespan.

Oor die neiging wat begin intree het in die 2000’s, was hy egter mismoedig. Hy het geglo dat bemarking en sakevernuf die bedryf oorgeneem het. Hy het ook in dié tyd sy voornaam, Manfred, weer nadergehark en begin gebruik.

Verandering was vir hom deurgaans van belang. Die grootste verandering wat hy in sy leeftyd ervaar het, was dalk ten opsigte van sy eie liggaam. Jare gelede was hy ’n skraal, aantreklike man. In latere jare het sy voorkoms drasties verander, en het hy spiertier van formaat geword.

“Ná jare as ’n maer, sjarmante danser wou ek ʼn vegter wees,” het hy in 2019 aan die tydskrif The Interview vertel. “Ek is ʼn held, dis normaal om die gesig van een te hê.”

Mugler is gebore op 21 Desember 1948 en het in Straatsburg, Frankryk, grootgeword. Sy belangstelling in mode het al in sy tienerjare kop uitgesteek, toe hy klere op vlooimarkte gekoop het en dit verwerk het totdat dit sy smaak gepas het.

Op die ouderdom van 20 het Mugler wortels geskiet in Parys toe hy ʼn geleentheid gekry het om daar deel te word van ʼn balletgeselskap. Die skuif het hom egter laat besef dat hy meer talent in ontwerp as in dans het.

Ná jare se vryskutwerk in Parys, Londen en Milaan, het Mugler sy eie modehuis, Café de Paris, begin. ʼn Jaar later het Thierry Mugler gevolg.

Hoewel sy dansloopbaan nie suksesvol was nie, het dit Mugler ʼn hele paar lewenslesse geleer. Die organisering van klere, die belangrikheid van skouers, die manier waarop jou kop gehou word, en die ritme van jou bene, was onder meer deel van hierdie lesse.

“Vandag se mode bou voort op dit wat Mugler geskep het,” het Didier Grumbach, voormalige hoof uitvoerende direkteur van Thierry Mugler, gesê.

Meer as 6 000 mense het die viering van Thierry Mugler se tiende bestaansjaar in Europa bygewoon. Dis egter nie eers vergelykbaar met die viering wat gehou is vir die 20ste bestaansjaar nie. Cate Moss, Jerry Hall en Naomi Campbell was van die bekende gesigte wat daar te siene was. Die glansgeleentheid is met ʼn optrede van die sanger James Brown afgesluit.

Nog een van Mugler se suksesverhale was die ontstaan van die parfuum Angel in 1992. Hierdie parfuum is vandag nog ʼn topverkoper.

In 1997 is Mugler se firma deur Clarins gekoop. Die deure van die mode-afdeling is egter tussen 2003 en 2010 weens swak wins gesluit.

Mugler het kort voor sy dood aan die Business of Fashion-tydskrif vertel dat hy steeds besig is met ontwerpe, en dat die volgende fase in sy loopbaan nóg meer radikaal sou wees. Hy het beklemtoon dat hy wil leef en veg vir skoonheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delene ·

Thierry Mugler se klassieke Angel Parfuum sal altyd een van my gunstelinge bly! R.I.P Thierry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.