Christine Barkhuizen-Le Roux sterf op verjaardag

Christine Barkhuizen-Le Roux (Foto: nb.co.za)

Die skrywer, digter en vertaler Christine Barkhuizen-Le Roux is Woensdag, op haar 61ste verjaardag, dood. Medelye stroom sedertdien in op sosiale media.

“Die Afrikaanse boekwêreld groet ʼn groot skrywer. Mag jou stories vir altyd voortleef. RIV,” het Phyllis Green, Sarie se boekeredakteur, op Facebook geskryf.

Jean Oosthuizen, aanbieder van Uit ʼn ander hoek wat Sondagaande op RSG uitgesaai word, bring hulde aan Barkhuizen-Le Roux se vermoë om met ander se leed op besondere wyse te kon simpatiseer. Hy skryf: “Die lewe is net ʼn asem lank. As ons dit maar besef. Gister het jy verjaar en vandag is jy weg. Hoeveel mense moet ons nóg groet in hierdie jaar!”

Cornelia Christina Barkhuizen is in 1959 op Vryburg gebore, maar die gesin het heelwat rondgetrek terwyl haar pa aan padbouprojekte gewerk het. Op Steynsburg het haar sub B-onderwyseres ʼn leesgierigheid in haar aangewakker.

Vir haar skryfwerk het Barkhuizen-Le Roux ook haar nooiensvan gebruik, sodat sy nie met Christine le Roux, die skrywersnaam wat Eleanor Baker vir haar populêre werk gebruik het, verwar kan word nie.

Barkhuizen-Le Roux het ʼn BA-graad met Bybelkunde, sielkunde en Engels as hoofvakke aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy het later ʼn hoër onderwysdiploma voltooi. In 2002 het sy haar honneursgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal en in 2005 ʼn MA-graad in Nederlandse poësie.

Barkhuizen-Le Roux het haar skryfdebuut in 2000 gemaak met die digbundel dimensie wat deur NB-Uitgewers uitgegee is. Nóg vyf van haar boeke het by dié uitgewer verskyn: Padmaker (2010), Wat die oog gesien het (2011), Getuie (2012), Drieklawerblaar (2016) en My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (2019). Haar werk is ook opgeneem in Die nuwe Afrikaanse prosaboek (2019) en Vers en vrou (2020).

“Sy was ’n dapper en deernisvolle skrywer, een van Afrikaans se veelsydigste,” sê Truïse Prinsloo, uitgewer by NB-uitgewers. “Van haar eerste digbundel, dimensie, tot haar jongste roman, My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, het Barkhuizen-Le Roux skreiend eerlik met haar stof te werk gegaan.”

Prinsloo sê verder dat Barkhuizen-Le Roux die gawe gehad het om met dieselfde intensiteit en diepgang waarmee sy die lewe aangepak en ervaar het, ook haar karakters se wêrelde oop te skryf.

Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers, groet Barkhuizen-Le Roux met dié woorde: “Die verlies van dié wonderlike, deernisvolle skrywer en lieflike mens is hartverskeurend. Ons sal vir Christine ontsettend baie mis.”

Barkhuizen-Le Roux is Woensdag in die Life Bayview-hospitaal in Mosselbaai dood. Die oorsaak van haar dood is nog nie bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Genis ·

RIV mag jou sterretjie vir altyd skyn, jy is verlos van die aarde se pyn..

Peetjie ·

Rus in Vrede Christine, sterkte vir jou gesin, familie en vriende…
Groot verlies vir ons

Regverdigheid ·

RIP dankie vir wat jy vir ons land beteken het, sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.