Dricus bring die titel huis toe!

Dricus du Plessis het gedoen wat hy beloof het – hy is die nuwe UFC-middelgewigkampioen! (Foto: Vaughn Ridley/Getty Images via AFP)

Daar was die Wêreldbeker-rugbyeindstryd in Parys. En nou is daar die UFC-middelgewigtitelgeveg in Toronto.

Ja-nee, Suid-Afrikaners het weer eens op die groot verhoog gewys dat ons net anders aanmekaargeslaan is.

Dricus “Stillknocks” du Plessis is die nuwe wêreldkampioen in sy gewigsklas nadat hy met Sean Strickland in die Kanadese stad afgereken het.

Die 30-jarige Suid-Afrikaner het gebloei, gesweet en hy het vir vyf rondes nie vir ʼn enkele oomblik teruggestaan nie – selfs toe Strickland se vinnige regtervuis ʼn paar houe geland het.

Du Plessis was takties ook goed en hy het gereeld sy teenstander grond toe gebring om hom van enige momentum te beroof. Tussendeur was hy ook in die kol met ʼn paar goedberekende skoppe en vuishoue.

Diegene wat gereeld oor sy fiksheid kla, kan maar gaan doppies blaas.

Du Plessis was sekerlik op sy beste in die vierde ronde van die geveg – die bloed het uit ʼn sny naby Strickland se oog gestroom en die Suid-Afrikaner het met mening onder hom ingeklim.

Du Plessis het vuur met vuur teen Sean Strickland beveg. (Foto: X/UFC)

Selfs in die vyfde ronde het dit nie gelyk of hy ʼn blaaskans nodig gehad het nie en die toeskouers, wat aanvanklik maar bra vyandig jeens hom was, het met ʼn paar “DDP”-krete losgetrek.

Al twee vegters het ná die tweestryd ʼn oorwinning gevier terwyl hulle staande toegejuig is. Maar toe die finale telling uitgelees is, het net een se hand in die lug gebly: Dricus “Stillknocks” du Plessis.

Die nuwe wêreldkampioen!

“Kan ek my vlag kry? Suid-Afrika, nou weet hulle wat ons weet!” het Du Plessis ná die geveg gesê terwyl sy ouers en afrigters toekyk.

Vandag het Suid-Afrika weer ʼn sportrede om fees te vier.

  • Hoe die gevegsbeamptes se punte gelyk het:

48 – 47 vir Strickland

48 – 47 vir Du Plessis

48 – 47 vir Du Plessis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Martie Smartie ·

Was eintlik gelykop. Strickland moes sy titel behou het. Maar so is sport maar, hulle hou dit aan die gang, groot geld daarin.

Elmarie ·

Geluk Dricus, vir al jou pyn en lyding bring jy (volgens MSN) ‘n koel R15 miljoen huis toe. Jy verdien dit!

Gaitsigubib ·

Dit is waar Leeu, ons het min aardse helde. Die man kan vir baie jong seuns n rolmodel kan word. Hy is n bewys dat mense se drome nog waar word in vandag se tyd!

SjN ·

Knap gedaan Ricus, jy is die enigste man wat die kroee laat oopmaak 5 uur op n Sondag oggend.

domheks ·

Baie geluk Drikus! Wonder of die prez jou al geluk gewens het, maar ek vergeet jou kleur is nie goed genoeg nie!

Danie ·

Baie geluk Drikus. Jy maak ons trots,maar waar is Ramaphosa om jou geluk te wens

Gaitsigubib ·

Dis vreemd hoeveel verskonings mense probeer maak, wanneer hulle eintlik net hoef te se dat, hul voorspellings verkeerd was.

Tish ·

‘n Punt is ‘n punt! Weereens vat dit net een persoon om die hele Suid-Afrika te her-enig. Jy kan voorwaar jou naam hoog dra! Trots op jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.