Gemeenskap staan saam om Bles se gedenksteen te herstel

DIe gemeenskap het hande gevat om Bles Bridges se gedenksteen te herstel. (Foto: verskaf)

Die Afrikaanse musieklegende Bles Bridges se lewe is opnuut gevier tydens die onthulling van ’n nuwe gedenksteen net buite Bloemhof in Noordwes.

Die oorspronklike gedenksteen, wat opgerig is nadat Bridges in Maart 2000 daar verongeluk het, is onlangs geskend. Die gemeenskap het egter nie geskroom om hande te vat om dié geskende steen te herstel en weer op te rig nie.

“Die gedenksteen lyk nie net weer pragtig nie, ons het sommer die geleentheid gebruik om behoorlik in die omgewing skoon te maak,” het Albert Nel, VF Plus-raadslid in die Lekwa-Teemane-munisipaliteit aan Maroela Media gesê.

“Ons het twee vragte vol vullis weggery, die plante mooi gesnoei en die gras weer netjies gemaak.”

Lede van die gemeenskap het ook ingespring om te help met die opknappingsproses, versnaperinge en koeldranke.

Mense het ook hulde aan Bridges en sy musiek tydens die geleentheid gebring.

Die nuwe steen, wat deur Omega Grafstene in Kroonstad opgerig is, het selfs aan die einde van die dag met ’n bos rooi rose, eie aan Bridges se verhoogstyl, gespog.

“Ons het heerlik na sy musiek geluister. Dit was lekker om hom te kon onthou en die kinders van vandag ’n smakie van hul kultuur en erfenis te gee.”

Die plaaslike Herotel-tak, ʼn  internetdiensverskaffer, het geld voorsien om die gedenksteen te vervoer en weer op te rig.

Wanneer en deur wie die oorspronklike gedenksteen geskend is, is steeds nie bekend nie.

“Sommige mense kom Bloemhof toe nét om die gedenksteen te besoek. Wanneer mense deur die dorp ry, kyk hulle uit daarvoor,” het Nel vroeër aan Maroela Media verduidelik.

Bridges se dogter, Sunette, wat tans in die VSA woon, was geskok toe sy uitgevind het van die skending van die gedenksteen.

“Ek is nie heeltemal seker wat die arme siel probeer bereik het nie, want so mooi en kosbaar as wat daardie gedenksteen vir ons is, bly dit ’n gedenksteen en al het jy, wie jy ook al is, dit nou loop verwoes, sal jy nooit, in alle ewigheid, my pa se nalatenskap kan uitwis nie. Hy leef in ons harte en sy musiek is steeds in ons ore en dit sal nooit verander nie,” het Sunette geskryf.

“Ek wil weer eens my opregte dank uitspreek teenoor Albert Nel van die VF+ in Bloemhof en aan Omega, wat die steen oorspronklik geskenk en opgerig het en reeds besig is om werk te maak van die herstelwerk,” het Sunette in ’n volgende plasing geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Piet 6 ·

Die gedenksteen is nou gemerk vir vandalisme. Daar is te ń groot ophef gemmak van die steen wat vanaf die voetstuk geval het.
Ek sal graag die werklike skade aan die steen wil sien, nie net 2 fotos wat uit verskilkende hoeke geneem is en aanmekaar gelas is nie.

Nommer 7 ·

Geen skade nie. Die steen het net op ‘n manier los gekom van die voetstuk.

Piet 6 ·

Nommer 7, ek stem saam met jou. Daar is nou soveel ophef gemaak daaroor dat iemand wat nie eers geweet het van die steen nie nou daarvan weet en dan moedswillig die steen sal beskadig. Ongelukkig is dit nou ń rasse ding gemaak sonder enige bewyse. Gaan kyk maar op Sunette se Facebook blad.
Ek het die Maandag na die ongeluk daar verdy gery en die bakkie in ń motorhawe gesien. Dit is nog altyd vir my tragies as ek daar verby ry en dink aan daardie Maandag. Ek geniet sy musiek nog steeds en het nog steeds die opname van sy Sun City konsert.

RC007 ·

Baie bly dis weer herstel en dat die omgewing nou weer mooi skoon is. Die foto se onderskrif het Bles se van verkeerd. Dis Bridges, nie Birdges nie Maroela ;)

Blikke ·

Knapgedaan!!!Hopelik word dit nie weer gevandaliseer nie!!!

Lillian ·

Dit gaan oral so in ons begrafplase. Geen respek vir niks nie!

My ouers se grafsteen in Meyerton was ook so verwoes, my vele oproepe en e-posse aan die bestuur van die munisipaliteit, die burgemeester en selfs die DA se leier het niks oplewer nie …

Nommer 7 ·

Daar is. Geen bewys. Dat die. Gedenksteen deur. Vandale gevandaliseer is. Nie.

koos ·

Gevanadaliseer of nie – dankie aan diegene wat die tyd en geld opgeoffer het om alles reg en netjies te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.