Gʼn spesiale behandeling (en geen foto’s) by Oscar se vrylating  

Oscar Pistorius. (Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool)

Foto’s van die eertydse Paralimpiese lemnaeler en veroordeelde moordenaar Oscar Pistorius sal Vrydag nie moontlik wees nie.

Só het die departement van korrektiewe dienste (DKD) Woensdag, twee dae voor Pistorius se lankverwagte vrylating, aangekondig.

“Suid-Afrika het ʼn regstelsel wat hom toespits op die slagoffer. Hiervolgens word gevangenes en diegene op parool nie in die media geparadeer nie. Dit is om hierdie rede dat die media, wat verkies om voor die tronk uit te kamp, nie verhoed kan word om hul werk te doen nie.

“Maar dit sal nie moontlik wees vir hulle om foto’s of beeldmateriaal van Pretorius te kry nie,” sê Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder.

Pistorius is sedert 2016 in aanhouding nadat hy skuldig bevind is aan die moord op sy vriendin, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag in 2013.

Pistorius sal soos enigiemand anders op parool behandel word, ondanks sy roem, sê Nxumalo.

“Pistorius se bekendheid maak hom nie anders as ander gevangenes nie en regverdig ook nie enige spesiale behandeling nie. Gevolglik sal die besonderhede van sy vervoerplanne en tyd van vrylating nie bekend gemaak word nie,” sê Nxumalo.

Volgens hom word dié reëlings privaat gehou vir Pistorius se veiligheid, asook dié van sy familie.

“Die DKD sal die [veiligheids-]risiko noukeurig bestuur.”

Die paroolraad het op 24 November besluit Pistorius kom in aanmerking vir vrylating op parool. Hy word dus na verwagting Vrydag uit die Atteridgeville-gevangenis buite Pretoria vrygelaat.

Oscar Pistorius, Reeva Steenkamp, moord, huis, parool

Oscar Pistorius sal in dié huis van sy oom Arnold Pistorius in Waterkloof tuisgaan na sy vrylating op parool. (Foto: AFP)

Dit was die tweede keer wat Pistorius om parool aansoek gedoen het nadat daar aanvanklik verwarring was oor hoeveel van sy vonnis hy reeds uitgedien het.

Die Konstitusionele Hof het in Oktober verlede jaar dié onduidelikheid uitgeklaar en beslis dat Pistorius vroeër al in aanmerking vir parool gekom het. Pistorius het hom tot die hoogste hof in die land gewend nadat sy eerste paroolaansoek in Maart afgekeur is.

Die DKD het aangevoer Pistorius het nog nie sy minimum tydperk van aanhouding uitgedien nie. Die verwarring het ontstaan nadat Pistorius se vonnisoplegging tot November 2017 terugdateer is en sy vonnis op die moordklag verleng is.

Ingevolge die jongste bevel van die Konstitusionele Hof is Pistorius se vonnis van 13 jaar en vyf maande tot 6 Julie 2016 teruggewerk. Dit was die datum waarop Pistorius die eerste keer op aanklag van moord vir Steenkamp se skietdood gevonnis is.

Nadat die DKD die hofbevel bestudeer het, is daar op 24 November bekend gemaak dat Pistorius op parool vrygelaat gaan word.

“Die beslissing van die paroolraad om Pistorius vry te laat bly van krag en sal uitgevoer word,” sê Nxumalo.

Volgens hom sal Pistorius soos enigiemand anders op parool sekere programme moet volg vir sy integrasie in die samelewing. As deel van sy paroolvoorwaardes sal hy byvoorbeeld nie die Waterkloof-gebied sonder toestemming mag verlaat nie.

Hy sal in dié Pretoriase woonbuurt by sy oom, Arnold, en sy vrou, Loïs, woon. Terwyl hy hier tuisgaan sal daar ook van Pistorius verwag word om woedebeheer-terapiesessies by te woon. Hy sal ook gemeenskapsdiens moet doen. Dié voorwaardes sal tot Desember 2029 geld, wanneer hy na verwagting sy parooltydperk voltooi het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Hier kom die “hou-die-moordenaar-in-die tronk-en-gooi-weg-die-sleutels”-tirades seker weer. George is seker voor in die koor. Oscar, sterkte vir jou. Ek dink jy gaan dit nodig hê, want die media gaan jou nou seker weer behoorlik jág agter stories van die lewe-in-die-tronk ens. ens.

Keelvol ·

Dis belagluk dat moordenaars parool kry. Laat hulle bly sit en hulle volle vonnis uitdien . Ons howe is n klug.

Keelvol ·

@ Bolandse Nooi , Dis die probleem in hierdie land. Julle huil oor die misdaad in die land en juig oor mense soos dié wat uitkom op parool.

JohanR ·

Nou hoe gaan hulle my sien as ek met ‘n lang telephoto lens iewers le?

Theuns ·

Wellom Oscar! Jy word yuteiindelik dieselfde as ander moordenaars op.parool vrygelaat!
Hoop jy bewys jy is ten vollecrehabiliteer en word ‘n aanwins vir die samelewing.
Moet asb nie soos ander oud misdadigers ‘n politieke party begin nie….

LiveAndLetLive ·

My innige meegevoel vir Reeva se familie en ouers. Dit skok mens tot in jou siel dat hier vrouens is wat sulke mooi boodskappies vir die man stuur. Rus in vrede Reeva. hy het haar nie net koelbloedig dood geskiet nie, hy het daaroor gelieg ook en die arrogansie gehad om aansoek te doen vir parool…..kom ons plaas eersder n mooi artikel oor Reeva en haar lewe, wat so kort genik is.

ES ·

Ons moet seker maar aanvaar dat hy sy wettige tyd in die tronk deurgebring het en in aanmerking gekom het vir parool. Sterkte boet.

Bolandse Nooi ·

@Keelvol … ek “moan” nie oor die hoë misdaadvlak in die land nie. Ek betreur (die meeste) gewelddadige moorde en veral geslagsgebaseerde geweld. Ek sê ook egter: as iemand sy straf uitgedien het, laat hom gaan. Dit is tog waarvoor “korrektiewe dienste” daar is – om oortreders te korrekteer en hulle weer in die samelewing vry te laat wanneer hulle gekorrekteer is.

Oscar Pistorius is een van 100’e 1000’e moordenaars in die land, in die wêreld. As ons hulle almal “lewenslank” moet toesluit – hoe gaan dit werk, waar gaan die geld en plek om hulle almal “lewenslank” toegesluit te hou, vandaan kom? Hoekom is ‘n her-oortredende geweldenaar soos Moeghydien Pangaker op parool vrygelaat nadat hy sy EIE kind vermoor het, talle ander gemolesteer het, in-en-uit-die-tronk was vir ETLIKE JARE, sodat hy nóg ‘n onskuldige KIND, Tazné van Wyk, kon vermoor het? Wat is die verskil tussen Oscar Pistorius en Moeghydien Pangaker? Beide is moordenaars. Die enigste verskil wat ek kan raaksien is dat Oscar Pistorius BEKEND is – hulle sê mos: “die hoogste bome vang die meeste wind”.

Al wat ek kan dink, is dat jy afgunstig moet wees op wat Oscar Pistorius in sy lewe bereik het, ten spyte van sy fisiese beperkings, tot voor die fatale moordnag. Die man se lewe is vir alle praktiese doeleindes oor-en-verby. Hy sal vir die res van sy lewe moet saamleef daarmee dat hy iemand se dood veroorsaak het. Hy sal nooit weer kompeterend kan deelneem aan sport nie. En jy, wat sondeloos is, staan gereed met die grootste klip, om dit eerste te kan gooi.

Bolandse Nooi ·

@LiveandLetLive … kom ons wees eerlik. Reeva Steenkamp was nie ‘n leliewit, skoon, rein mensie nie. Sy het Oscar Pistorius verneuk met “Loftus se Liefling”., as mens nou die bewerings van destyds kan glo. Die …eh… dame is nou oorlede, so kom ons los haar maar daar waar sy nou ookal mag wees, om in vrede te rus.

Daar word dikwels gesê: “If only we could turn back the hands of time”. Ek is seker Oscar Pistorius sal een van dié wees wat alles ongedaan sou wou maak. Maar gedane sake het geen keer nie. Ek sal nooit geslagsgebaseerde geweld goedpraat nie, maar ek dink nie die Oscar-Pistorius-Reeva-Steenkamp-sage was geslagsgebaseerde geweld nie. Dit was ‘n “crime of passion”.

Al wat ek sê is: die man het sy straf uitgedien. LOS HOM NOU IN VREDE!!!

Kabous ·

Welkom Oscar, jy verdien dit om weer vry te wees, wat gebeur het is die verlede, bou n mooi toekoms en geniet alles wat jy kan,

Ronél ·

Mag hy en sy familie nou aangaan met hulle lewe en die media ander waardige stories najaag.

hendrik ·

Bolandse se Nooi as jy praat van “jy wat sonde loos is staan gereed met die grootste klip om eerste te kan gooi” dit geld vir jou self ook. Maak nie saak wat Reeva Steenkamp in haar lewe gedoen het nie dit is nie vir ons om haar te oordeel nie. Wie gooi nou die grootste klip. As ons as mense Wil ophou om klippe te gooi vee eerste voor jou eie deur en dan voor die ander deur.Onthou ons is almal sondaars en ons moet almal regmaak met God deur Jesus.
Wat die oordeel oor Oscar aan betref ja ek stem Los die man uit sy oordeel kom my en jou nie toe nie ons het elkeen ons eie oordeel wat vir ons wag, maak eerder seker dat ons gereed is om daar die vrae en oordeel te beantwoord wanner die tyd aan breek om voor die Grootste Regter stoel te staan.
Aan al die ander kommentare stem ek saam Los die man nou uit. Groete

Bostoe ·

@Bolandse Nooi..wat is ‘n “crime of passion” dan anders as geslagsgebaseerde geweld?

Koen ·

En so word alle moordenaars na slegs 7 jaar met ope arms verwelkom. Hoop almal wat oscar aanhamgers is, voel net so teenoor alle moordenaars. Anders is julle bloot skynheilig.

Lettie ·

Oscar, bly jy uiteindelik soort van vry. Hoop jou sel is reeds vir iemand anders gereserveer. Geniet jou vryheid saam met jou ma, oom en tannie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.