Groot Trek word te perd na Bloedrivier gedenk

Majuba is in sig vir die ruiters. (Foto: Wilma Dorfling)

Deur Jandri Barnard

Vanjaar is die 185ste Groot Trek-herdenking ook met ʼn perderit vanaf Pretoria tot by die Bloedrivier-erfenisterrein naby Dundee in Kwa-Zulu Natal gevier, betyds vir die herdenking van die Geloftedag op 16 Desember.

Die Groot Trek, wat elke vyf jaar met ʼn perderit herdenk word, het destyds ʼn historiese mylpaal bereik met die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838. Dié historiese dag word vanjaar van 14 tot 16 Desember by die Bloedrivier-erfenisterrein gevier.

Die Bittereinder-kommando het die gedenkrit, onder leiding van kommandant Peet Dorfling, vir 1 tot 13 Desember gereël. Dit is die derde gedenkrit wat Peet meemaak.

Hierdie jaar se gedenkreis het met 15 ruiters in Pretoria begin. Halfpad deur die reis het dit vermeerder na 23 ruiters soos wat mense orals langs die pad by verskillende oornagpunte aangesluit het om deel van hierdie erfeniservaring te wees. Sekere plekke het die konvooi byna soos die Groot Trek van ouds gelyk met perderuiters en ʼn ondersteuningspan bestaande uit bakkies, perdewaens en sleepwaens. Verskeie groepe het van Pretoria, Cullinan, Hoedspruit en Memel af bymekaargekom en ruiters en voertuie van familie en vriende ingesluit.

Daar is reeds in September ʼn verkenningstog van die roete van byna 1 000 km per motor afgelê. Alhoewel die reis per motor vinniger behoort te geneem het, het dit amper ʼn week geneem soos wat verblyfplekke vir oornagstilhouplekke gereël moes word. Dit is ook hier waar die ware gasvryheid en goedgesindheid van boere en mense langs die reisroete aan elkeen se hartsnare geroer het, want die logistieke reëlings is omvangryk. Dit sluit voer en water vir die perde en kos vir die ruiters en die ondersteuningspan in, en oop hande en harte het gehelp om dit te verskaf.

Die geskiedkundige perderit is nie sonder uitdagings nie, en daar moet elke 8 km vir die perde by drinkpunte stilgehou word.

Dan is daar die bykans wisselvallige weersomstandighede: ruiters het al van versengende hitte tot deurdringende reën langs die pad ervaar.

“Dit is ʼn manier om die omstandighede te ervaar waardeur ons voorsate moes gaan om die evangelie in Afrika in te dra en as volk vir vryheid te veg,” het Peet gesê.

Die ruiters staan reeds om 02:50 in die donker op, en om 04:00 is die perde gevoer. Hierna saal die ruiters om 05:00, vóór sonop, op en val in die pad.

Die doel van hierdie gedenkreis, volgens die Bittereinder-kommando, is om deur ʼn luisterryke manier die geskiedenis aan die jeug oor te dra en die geskiedenis by ander Suid-Afrikaners aan te wakker. Sodoende word die kultuur en geskiedenis bewaar en bevorder vir die nageslagte.

“Die belangrikste is om die Gelofte te herdenk wat deur ons voorsate afgelê is. Die kenmerkendste van die reis is om die geskiedenis uit ʼn ander perspektief te sien, van ʼn perd se rug af.”

Daar word gemiddeld 50 km per dag afgelê langs stil roetes, grondpaaie en teerpaaie. Plek-plek is dit moeilik vir die ruiters om die gemors en glasstukke langs die hoofpaaie te sien wat die reis vir die perde bemoeilik.

Verder het die perde ook tydens die gedenkreis goeie blootstelling gekry, soos Gerhard le Roux vertel. Hy is ʼn Suid-Afrikaanse boerperdteler met vyf perde wat aan die rit deelgeneem het. Vier van die perde het al byna 400 km voltooi toe Maroela Media hulle op 9 Desember by hulle uitspanplek ontmoet het.

Gerhard het van dié rit gehoor by ʼn koper van een van sy perde, en gevolglik het hy by die Cullinan-groep aangesluit. Ná byna 200 km op die roete, het sy merrie Lente geboorte gegee aan ʼn vulletjie, wat hulle gepas Gelofte genoem het. Sy skouhond, Liefie, so genoem omdat sy hom altyd na perdeskoue vergesel, wou nie in Cullinan agterbly nie en het geweier om uit die kar te klim. Nou vergesel sy die ruiters tot by die eindpunt en is deel van die ondersteuningspan.

Die ruiters sou volgens beplanning op 13 Desember by die Bloedrivier-erfenisterrein aankom en die groep van Wasbank wat met ossewaens deurkom, op 14 Desember daar inwag.

Hier is die roete wat die perderuiters gevolg het:

  • 30 November: vertrek vanaf Kleinfontein
  • 1 Desember: Bapsfontein (37 km)
  • 4 Desember: Van Kolderskop (voor Greylingstad)
  • 5 Desember: Greylingstad in die rigting van die Vaalrivier (50 km)
  • 6 Desember: Vaalrivier tot voor Vrede (56 km)
  • 7 Desember: Vrede (27 km)
  • 8 Desember: Majuba (58 km)
  • 9 Desember: Ingogo (40 km)
  • 11 Desember: Utrecht-omgewing (20 km)
  • 12 Desember: Utrecht (50 km)
  • 13 Desember: Bloedrivierterrein (46 km)

Lees die Geloftefeesprogram by www.bloedrivier.org.za, en vind meer uit oor verskeie ander Geloftefeeste wat reg oor die land gehou word.

Padlangs vir die ruiters op die grondpad. (Foto: Wilma Dorfling)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Ai, hoe bevoorreg is hierdie mense nie, om só deel te kan wees van ‘n gedenktog ter viering van die Gelofte wat afgelê is in 1838!!!

Papsak ·

Darem nog iets groot en mooi vir SA wat n voorreg om dit te kan doen bou voort dankie vir julle almal vir SA

Jeanette ·

Dit moet ‘n belewenis en ‘n half wees en hoe bevooreg is die mense nie, ons ander wat ook graag sou wou deelneem moet maar elke dag werk toe. Maar dankie vir ieder en elk julle maak ons trots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.