Die A tot Z van sonkrag by jou huis

Argieffoto (Foto: German Solar Power/Pixabay)

Twee kenners, Louis Claasen, operasionele bestuurder van ExcoalSolar, en Corneels Schabort, senior lektor in Chemiese en Mineraal-ingenieurswese by die Noordwes-Universiteit (NWU), het Maroela Media se vrae oor sonkragstelsels vir huishoudelike gebruik beantwoord.

Die kort en die lank is dat Claasen en Schabort Suid-Afrikaners aanmoedig om alle moontlikhede vir alternatiewe kragvoorsiening te ondersoek. Almal het dalk nie die kapitaal om R200 000 vir ʼn volledige sonkragstelsel te betaal nie, maar daar is verskeie opsies wat oorweeg kan word.

Waar begin jy?

Nog voor verbruikers wegspring met ʼn ondersoek na al die komponente en uitgawes van ʼn sonkragstelsel, of begin om verskaffers te kontak vir kwotasies, is dit belangrik om eers die behoefte te verstaan.

Claasen en Schabort sê daar is twee vrae wat verbruikers hulself moet afvra:

  1. Watter toestelle moet aanbly wanneer daar beurtkrag of ʼn kragonderbreking is?
  2. Wat is jou verwagting van die sonkragstelsel?

Die eerste vraag help met ʼn bepaling van jou behoeftes en prioriteite in terme van kragverbruik. Dit is so eenvoudig soos om ʼn lys op te stel en te onderskei tussen noodsaaklikhede en dit waarsonder jy vir ʼn paar uur kan klaarkom.

(Argieffoto: Pixabay)

Party mense sal tevrede wees met basiese toestelle soos ligte wat aanbly, saam met muurproppe sodat die televisie of Wi-Fi ook kan werk, terwyl warm water en ʼn stoof vir ander verbruikers dalk ʼn prioriteit is.

Claasen sê dat mense ook moet weet dat elektriese toestelle wat hitte genereer, soos ʼn geiser en stoof, te veel krag gebruik om aan so ʼn stelsel gekoppel te word en dat hulle alternatiewe opsies sal moet oorweeg.

Die tweede vraag het te doen met jou uiteindelike oogmerk met ʼn sonkragstelsel. Wil jy net bestand wees teen beurtkrag of is die behoefte om heeltemal onafhanklik van Eskom se elektrisiteitsnetwerk te funksioneer?

As jy net beurtkrag wil oorleef, stel Schabort voor dat verbruikers Eskom se beurtkragskedule as riglyn gebruik om te bepaal wat hulle nodig het.

“In die ergste geval wanneer fase 8-beurtkrag ingestel word, beteken dit jy moet ʼn stelsel hê wat jou minstens 5 uur op ʼn slag van krag kan voorsien; of dan 48 uur binne ʼn 96 uur-tydperk,” verduidelik hy.

Dit is belangrik om in ag te neem dat hierdie toestel se batterye tussendeur moet herlaai vir die volgende kragonderbreking. In die geval van fase 8-beurtkrag kan dit gebeur dat sommige toestelle moontlik nie die beste oplossing is nie.

Verminder eers kragverbruik voor jy opwek

Die wenke wat Schabort deel is veral nuttig vir verbruikers wat nie nou die finansies het om ʼn sonkragstelsel te installeer of ʼn wisselrigtoestel (“inverter”) aan te skaf nie.

Schabort se eerste voorstel is om jou elektriese geiser met ʼn gas- of sonkraggeiser te vervang. “Een van die grootste items wat krag gebruik is jou geiser wanneer dit water warm maak.”

Kort op die geiser se hakke is elektriese stowe, wat met gasstowe of induksieplate vervang kan word, en gloeilampe, waarvoor daar nou LED-gloeilampe op die mark is.

“Vra jouself waar jy kan begin om jou huishouding se kragverbruik te verminder. Dit mag dalk na ʼn simpel oefening klink, maar elke klein verandering, soos om gloeilamp te vervang, maak aan die einde van die maand ʼn aansienlike verskil aan jou elektrisiteitsrekening,” sê Schabort.

Hy voeg by dat dit uiteindelik ook ʼn invloed op jou behoefte vir ʼn sonkragstelsel sal hê. “Onthou soos wat jou kragverbruik minder raak, het jy minder sonpanele en batterye nodig.”

Wat behels ʼn sonkragstelsel?

ʼn Volledige sonkragstelsel bestaan uit drie komponente: sonpanele, ʼn omsetter en batterye.

So lyk die omkeerder en battery van die sonkragstelsel wat by jou huis geïnstalleer word. (Foto: ExcoalSolar/Verskaf)

Die sonpanele wek krag op terwyl die wisselrigtoestel (inverter) sonkrag na bruikbare krag vir huishoudelike gebruik omskakel, en die battery se doel in hierdie proses is om daardie krag vir latere gebruik te stoor.

So ʼn stelsel bied bystandkrag en dit beskik oor opwekkingsvermoë wat verbruikers dus in staat stel om onafhanklik van die kragnetwerk te funksioneer.

Watter faktore moet ek in ag neem?

Wanneer jy besluit om ʼn sonkragstelsel by jou huis te laat installeer, is daar ʼn paar faktore wat in ag geneem moet word.

Die eerste een is die ligging van jou huis en rigting van die son.

“Enige sonpaneel se opwekking word deur die ligging van jou huis bepaal, en dan moet ʼn mens nie vergeet dat weersomstandighede ook ʼn invloed hierop kan hê nie,” verduidelik Claasen.

Claasen stel dus voor dat, indien moontlik, sonpanele verdeel word sodat sommige panele aan die een kant van die dak geposisioneer word om oggendson te kry en dat die ander helfte aan die teenoorgestelde kant geplaas word om in die middag son te kry. Op daardie manier word opwekkingsperiode vir sonkrag met ʼn paar uur verleng.

Hoeveel kos ʼn sonkragstelsel?

Daar is nie ʼn eenvoudige antwoord hierop nie, want soos wat ʼn verbruiker se behoeftes die bron van kragvoorsiening bepaal (buiten vir die elektrisiteit wat deur Eskom voorsien word), bepaal dit ook die uitgawe.

Verbruikers kan enigiets tussen R50 000 en R200 000 vir ʼn geïntegreerde stelsel opdok. Die R50 000-opsie is ʼn basiese stelsel met ʼn vyf kW-omkeerder en -battery wat bystandkrag bied, maar dit sluit nie sonpanele in nie.

Wat ook in ag geneem moet word wanneer rand en sent ter sprake is, is dat die gehalte van ʼn sonkragstelsel se komponente die prys beïnvloed.

“Goedkoop koop kan duurder koop wees,” waarsku Claasen. Hy moedig verbruikers aan om vooraf hulle huiswerk te doen en seker te maak dat dit wat hulle aanskaf die beste waarde vir geld is.

Schabort sê hoewel sonkragstelsels ʼn astronomiese uitgawe is, wil hy verbruikers tog aanmoedig om eers alle moontlikhede te ondersoek voordat hulle sommer net die idee afskiet.

“Of jy die geld het of nie, jy moet self gaan sit en somme maak. Ongeag die benarde kragsituasie waarin Eskom is en beurtkrag wat verbruikers lamlê, bly so stelsel ʼn belegging vir enige suid-Afrikaner.”

Waarvan baie mense ook dalk nie bewus is nie, is die versteekte koste weens kragstuwings (“power spikes”) hef, voeg Schabort by.

Verlies of skade wat deur kragstuwings veroorsaak word, het versekeraars genoodsaak om hul korttermynversekeringspolisse uit te brei en voorsiening te maak vir die voortdurende wisseling in kragtoevoer.

“Sekere toestelle in ons huise is nie gemaak om aan en afgesit te word nie. Met ʼn sonkragstelsel word jy as verbruiker teen hierdie kragstuwings beskerm met moontlike besparings op verhoogde versekeringspremies en dit help jou op die lang termyn om koste te bespaar.”

Watter waarborge moet ek in ag neem?

“Die ding van enige waarborg wat ʼn mens nie moet vergeet nie, is die manier hoe jy die toestel hanteer,” sê Claasen.

Sonpanpanele wat op ‘n huis se dak gemonteer is. (Foto: ExcoalSolar/Verskaf)

Hy verwys hier weer na die battery en verduidelik dat die las wat jy gedurende kragonderbrekings daarop sit, ʼn enorme uitwerking op die leeftyd van die toestel het. “Jy kan byvoorbeeld nie ʼn elektriese sweismasjien, ʼn ketel, elektriese menger en haardroër gelyktydig daaraan koppel en aanskakel nie.”

Verbruikers moet ook onthou dat hoewel ʼn diensverskaffer die toestelle installeer, word die waarborg daarvan deur die vervaardiger onderskryf.

“Die installeerder verrig die taak om ʼn stelsel te installeer, maar daardie persoon is nie verantwoordelik vir die gehalte en waarborg van komponente nie. ʼn Installeerder lewer wel ʼn diens en verskaf bystand waar nodig.

“Die risiko dat iets verkeerd gaan loop met die stelsel word beperk deur hoe goed en hoe korrek dit geïnstalleer word. Daarom is dit noodsaaklik dat verbruikers hulle huiswerk doen en ʼn betroubare diensverskaffers kry.”

Wat kan ek van diensverskaffers verwag?

Voordat ons by verbruikers se verwagting kom van ʼn diensverskaffer wat sonkragstelsels installeer, is dit eers nodig om te onderskei wie almal by hierdie proses betrokke is.

In die eerste plek is dit die vervaardigers wat sonkragtoestelle verskaf, dan is daar installeerders wat hierdie toestelle as ʼn stelsel in jou huis aanbring en elektrisiëns wat ook betrokke raak en derdens finansiële diensteverskaffers.

Verbruikers kan hulleself verskans deur te sorg dat installeerders die nodige akkreditasie het om hierdie werk te verrig. Claasen sê deel van hulle diens aan verbruikers is om dan self ʼn elektrisiën te kies wat hulle vertrou en wat aan die nodige regulasie voldoen om saam met hulle te werk en dit word dan by die kwotasie ingesluit.

Finansiële diensteverskaffers is slegs betrokke wanneer verbruikers kies om die stelsel met behulp van hulle huisverband of ʼn lening te finansier. Hierdie finansierders het streng vereistes waaraan diensverskaffers wat sonkragstelsels installeer moet voldoen.

Wanneer daar oor verbruikers se verwagting van installeerders gepraat word, sê Claasen dat die diens wat hulle lewer wanneer ʼn sonkragstelsel geïnstalleer word, die volgende behels:

  1. ʼn Konsultasie saam met kliënte waar behoeftebepaling plaasvind en ʼn voorlopige kwotasie verskaf word.

“Ons het standaardvrae wat ons vir almal stuur wat ʼn kwotasie aanvra,” sê Claasen. “Dit help ons om te weet wat die persoon se adres, maandelikse kragverbruik en gebruik in terme van kragtoestelle is. Daarna gaan kyk ons eers op Google Earth na die huis se ligging, want dit gee ons ʼn aanduiding van hoe die son op die huis skyn,” verduidelik Claasen.

Op grond daarvan word ʼn voorlopige kwotasie uitgewerk.

  1. Besoek aan die kliënt se huis sodra die kwotasie aanvaar is en dan word die werklike koste bereken.

Claasen sê tydens ʼn besoek aan die kliënt se huis word perseelinspeksie gedoen en die verspreiding van toestelle in die huis word ook bepaal. Al hierdie faktore het uiteindelik ʼn invloed op die manier hoe ʼn stelsel geïnstalleer word.

  1. Installering van die sonkragstelsel.
  2. Oorhandigingsproses waartydens hulle aan die kliënt verduidelik hoe die stelsel werk.
  3. Ondersteuning nadat die stelsel geïnstalleer is, amper soos ʼn naverkopediens.
  4. ʼn Bewys van elektrisiteitsvoldoening word deur die elektrisiën uitgereik.
  5. Betrokkenheid van finansieringsvennote (waar iemand besluit om ʼn verband op hul huis of ʼn lening uit te neem).

Is daar alternatiewe opsies vir ʼn sonkragstelsel?

ʼn Volledige sonkragstelsel het die vermoë om bystandkrag te bied en krag op te wek, wat deur middel van sonpanele en batterye gegenereer word.

So lyk die omkeerder en battery van die sonkragstelsel wat by jou huis geïnstalleer word. (Foto: ExcoalSolar/Verskaf)

Dan is daar ook alternatiewe opsies wat verbruikers kan oorweeg, en dit behels toestelle wat net bystandkrag bied en wat nie noodwendig met jou huis se kragnetwerk geïntegreer is nie, soos ʼn omkeerder (“inverter”).

Wisselrigtoestelle, oftewel omkeerders, stoor bloot krag wat van die elektrisiteitsnetwerk of sonpanele ontvang word. Dit kan nie self krag opwek nie.

Wanneer die toestel by ʼn muurprop ingedruk word, ontvang en stoor dit elektrisiteit wat deur Eskom verskaf word. As jy ʼn sonpaneel daaraan koppel, word sonkrag gebruik om die batterye te laai.

Een voorbeeld van so wisselrigtoestel is ʼn draagbare kragtrollie of -stasie (“portable power trolley/station”).

Claasen sê dit is veral geskik vir mense wat nie nou die kapitaal vir ʼn sonkragstelsel het nie, of wat bloot nie die behoefte daaraan het nie. Dit bied ʼn goeie wegspringplek, omdat so wisselrigtoestel mettertyd uitgebrei kan word deur sonpanele en groter batterye daaraan te koppel.

Die geskatte bedrag van ʼn 1 kW-omkeerder soos die draagbare kragtrollie wat reeds beskryf is, is sowat R8 000 en Claasen meen dit behoort in die behoeftes van ʼn enkelpersoon of paar te voorsien. Hy voeg by dat 3 tot 5 kW-omkeerders voldoende vir kleiner huishoudings behoort te wees en dit kos sowat R15 000.

Dit werk goed vir iemand wat van die huis af werk en net die nodigste toestelle soos kragproppe (vir ligte, die televisie, Wi-Fi en rekenaars), yskaste en vrieskaste wil koppel.

ʼn Nadeel, wat sommige verbruikers dalk twee keer sal laat dink, is egter die beslommernis van kragkabels wat hieraan gekoppel word en dan die hele huis vol lê.

Vermy hierdie slaggate

Schabort en Claasen is dit eens dat verbruikers doodeenvoudig die tyd moet neem om navorsing oor produkte en diensverskaffers te doen voordat hulle vir iets betaal wat nie die geld werd is nie.

“Moenie onbekende komponente koop nie. Dit moet deur bekende verspreiders gerugsteun word,” is Claasen se raad. “Wanneer jy ʼn kwotasie van ʼn diensverskaffer ontvang het, gaan ondersoek eers al die items waarvoor gekwoteer is en maak seker dat dit gehalte is.”

Dieselfde raad geld vir diensverskaffers. “Daar is nie ʼn beter advertensie as ʼn gelukkige kliënt nie,” sê Claasen.

Die internet het dit deesdae so maklik vir gebruikers gemaak om vooraf te gaan kyk wat ander kliënte van die produk of diens dink. “Praat met mense en doen moeite met die proses. Vra vir iemand wat ʼn sonkragstelsel by sy huis laat installeer het of jy kan gaan kyk hoe dit lyk en werk,” is Schabort se raad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Baie interessant, ek dink dit is die weg vorentoe as ons net meer inligting oor solar en die werking daarvan kan kry.

Miena ·

Vraag – is die sonpanele wat op jou huis se dak kom bestand teen hael-skade i.g.v mildelike tot erge hael storms? Wat is die moontlikheid dat daar wel n kraak kan kom op die paneel en hoe gaan dit die res van die sisteem beiinvloed? Indien iemand kan antwoord wat weet asb. Sal dit waardeer. Dankie byvoorbaat.

Haan ·

Miena dit hang af van die gehalte van die paneel. Indien dit “Tier 1” panele is, dan sal dit maklik so iets kan hanteer. Indien net een paneel gekraak is vervang mens net daardie paneel.

Haan ·

Meer soos die A tot D van sonkrag…
1) installer hulle “tier 1″panele (die laer gehaltes breek na 10 jaar)
2) is daar fuses tussen jou panele en jou” charge controller”
3) IS DAAR KOMMUNIKASIE TUSSEN JOU INVERTER EN JOU LITHIUM BATTERY
4) Het die battery fuses geïnstalleer
5) gebruik hulle gelykstroom brekers vir gelykstroom toerusting. Wisselstroom brekers brand as dit in DC gebruik word
6) is dit n “transformer based” inverter soos n Victron. Die res (soos die een in die foto) is hoë-frekwensie omsetters, wat vinniger breek agv die harmonieke op ons sukkelende netwerk.
7) is daar weerlig en stuwings (surge) beskerming geïnstalleer? Ten minste tipe 2 beskerming
8)is die panele ge-aard met n aardpen
9) is daar terugvoer beheer geïnstalleer sodat jy nie terug in Eskom se netwerk in voer nie en beboet word daarvoor.
10) voldoen die installasie aan SANS10142-1-2 wette. Bv geen oop battery kabels (soos in die foto)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.