Sensus: Klein jakkalsies knou geloofwaardigheid

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: StatsSA/Facebook)

ʼn Reuse-ondertelling in verlede jaar se sensus laat kenners twyfel oor die geloofwaardigheid van syfers waarop belangrike besluite nou gegrond word.

Bevindings soos die afname van die getal Afrikaanssprekendes in die land het die afgelope week die wenkbroue laat lig en kenners meen daar is net té veel klein jakkalsies om die data op sigwaarde te aanvaar.

Die sensus is belangrik, aangesien begrotings en infrastruktuurprojekte op grond van dié bevindings beplan word.

‘Ten min mense getel’

Die reuse-ondertelling in verlede jaar se sensus wek veral vrae oor die geloofwaardigheid van die bevindings.

ʼn Ondertelling in ʼn sensus is die verskil tussen wat getel moes word (die ware bevolking) en wat uiteindelik getel is (die sensusbevolking). Die ondertelling vir die 2022-sensus is 31%, wat beteken een uit drie mense is nie in die sensus getel nie. Dit in vergelyking met die ondertelling in 1996 (10%),  2001 (17%) en 2011 (14,7%). Laasgenoemde het destyds reeds kommer gewek.

“Met ʼn ondertelling soos hierdie sit ʼn mens nie regtig met ʼn sensus in die ware sin van die woord nie, maar eerder ʼn baie groot meningsopname,” meen Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

BevolkingsgroepOndertelling vir persone (%)
Swart36,74
Bruin44,93
Indiër/Asiaties72,30
Wit61,64
Ander65,05

Met die post-telling-opname het dit boonop duidelik geword dat ʼn groot gros mense nooit getel is nie, ten spyte van veldwerkers se 98% penetrasiekoers.

Dit beteken veldwerkers het teoreties aan 98% van die land se deure geklop, met net 69% het uiteindelik geantwoord en ʼn vraelys ingevul.

Volgens Mulder lyk die prentjie vir minderhede veel slegter, met ses uit tien wit mense en sewe uit tien Indiërs wat nie getel is nie.

“Dit is absurd in sensusterme.”

In die huidige sensus verskil ondertellings baie oor provinsies en bevolkingsgroepe heen, in teenstelling met ʼn redelik eweredige verspreiding in 2011.

Dr. Phali Lehohla, voormalige statistikus-generaal, het egter aan Maroela Media gesê hy dink dié sensus is betroubaar en geslaagd.

“Hoewel die ondertelling te groot is, het ek vertroue in die statistiese gereedskap wat aangewend is om daarvoor te kompenseer.”

Dr. Pali Lehohla, voormalige statistikus-generaal, meen hierdie was ‘n geslaagde sensus (Foto: Facebook/ 22 ON SLOANE)

Stats SA het ook aan Maroela Media gesê daar is geen internasionale standaard wat die drempels vir die ondertellingskoers voorskryf nie, selfs in VN-riglyne.

“Die gehalte van ʼn sensusopname moet nie net deur die vlakke van die ondertelling gesien word nie, maar eerder deur ʼn meer omvattende siening wat die verskillende kontrole en teenwigte wat in die prosesse ingebed is, sowel as die uitkomste van die onafhanklike hersiening deur kundiges.”

In die 2011-na-telling-opname (post enumeration survey of PES) het Stats SA egter in een van sy eie dokumente beklemtoon “die ondertelling vorm die enkele belangrikste aanwyser van die gehalte van die sensusdekking”.

ProvinsieOndertelling vir persone (%)
Gauteng30,79
Wes-Kaap35,58
Oos-Kaap32,40
Noord-Kaap33,41
Vrystaat20,95
KwaZulu-Natal34,67
Noordwes23,33
Mpumalanga35,26
Limpopo23,53
Suid-Afrika31,06

ʼn Kenner met insigte in die sensusgoedkeuringsproses, wat gekies het om anoniem te bly, meen ook gevaarligte moet aangaan met ʼn ondertelling van meer as 20%.

“Hoewel geen maatstaf internasionaal vasgelê is oor wat ʼn aanvaarbare ondertelling is nie, raak Amerikaners en ander Westerse lande ongelukkig as hulle ondertelling naby 5% is.”

Halwe prentjie voor Statistiekeraad?

Voor die sensus aan die president oorhandig en gepubliseer kan word, moet dit eers deur die Statistiekeraad van Suid-Afrika, gevul met onafhanklike statistiekkenners, dien en goedgekeur word.

Mulder meen die vraag moet gevra word of die raad werklik al die data en ondertellings voor hulle gehad het toe hulle die sensus goedgekeur het.

Prof. David Everatt, voorsitter van die raad, het ook benadruk die statistiekeraad sien nooit die data self nie. Volgens die Statistieke Wet werk internasionale en onafhanklike kenners deur die rou data wat ná dié verwerking verslag aan die raad doen oor die aanvaarbaarheid al dan nie van die sensus.

Die raad se besluit berus uiteindelik op ʼn nagesiene, kleiner deel van die geheelbeeld.

Prof. David Everrat tydens die bekendstelling van die 2022-sensus (Foto: GCIS/ Siyabulela Duda)

Verskeie struikelblokke

Hoewel R3 miljard aanvanklik vir die sensus begroot is, het die portefeuljekomitee vir openbare dienste en administrasie reeds in Maart 2021 ʼn beroep op die tesourie gedoen om meer geld vir die reuse-onderneming te bewillig.

Weens begrotingsbesnoeiings deur die regering die afgelope jare, is Stats SA se fondse ook gesnoei, wat deeglike veldwerk kniehalter.

Everatt spreek ook reeds sedert 2021 kommer uit oor die legio uitdagings wat die afgelope drie jaar oorkom moes word vir die sensus om die lig te sien. Faktore soos die Covid-19-pandemie, oorstromings in KwaZulu-Natal en die 2021-onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal het sensuswerkers se werk bemoeilik.

Stats SA skryf die reuse-ondertellings onder veral minderheidsgroepe toe aan dié uitdagings. Volgens Stats SA ervaar veldwerkers ook groot uitdagings in omheinde en sekuriteitsgemeenskappe wat dit nog moeiliker maak om vraelyste ingevul te kry.

Volgens die anonieme kenner moet die vraag beslis gevra word of sensusse vorentoe steeds op hierdie manier gedoen moet word gegewe die uitdagings om mense te bereik.

 

Die kenner stel ʼn goed ontwerpte steekproefopname voor, tesame met goeie opgedateerde GIS-inligting van alle residensiële strukture, om bevolkingsinligting statisties te beraam.

“Dit gaan opnames goedkoper maak en resultate kan ook baie vinniger bekendgemaak word.”

Pres. Cyril Ramaphosa ontvang die 2022-sensusverslag (Foto: Khumbudzo Ntshavheni/Twitter)

Statistiese kompensasie

Daar waar te min mense getel is, gebruik Stats SA statistiese gereedskap soos skattings, projeksies en wegings om uit beskikbare data ʼn akkurate prentjie te probeer skets.

Mulder meen hoewel hierdie gereedskap betroubaar is, kan die absolute getalle op laer vlakke nie daardeur akkuraat gemaak word nie.

“Waar breë tendense en persentasieverhoudings op nasionale vlak nog betroubaar is, sou ek nie die absolute getalle op laer vlakke vertrou nie.”

Lehohla meen weer die data is tot op wyksvlak betroubaar, enige iets daaronder raak glibberig.

Moontlike oplossings

Volgens Mulder sou statistiese aanpassings om te kompenseer vir groot ondertellings altyd die eerste opsie wees.

“Dan moet daar egter ʼn reuse klomp voetnotas onderaan die data wees wat dit verklaar.”

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (Foto: Solidariteit, Twitter)

Indien hulle die sensus herhaal het in areas waar daar groot ondertellings was, sou probleme van konsekwentheid moontlik intree, verduidelik Mulder.

“Die oomblik wat Stats SA besef het hulle gaan die pad van projeksie en weging moet stap, moes hulle groot moeite gedoen het om te verseker die data waarvan hulle werk is wel verteenwoordigend.”

Dit kon gedoen word deur byvoorbeeld nog ʼn peiling soortgelyk aan die PES in te span in areas waar ʼn reuse ondertelling was om die verteenwoordiging van data te bevestig.

“Die beste opsie is waarskynlik om die volgende sensus na 2026 te vervroeg, en dan terug te keer na die tienjaarsiklus.”

Beskikbare alternatiewe

“Die sensus, met alle onakkuraathede op laer vlak, is nou egter die amptelik aanvaarde basisdata vir die voorsienbare toekoms,” sê Mulder.

“Min privaatmaatskappye het die befondsing om ʼn nasionale sensus self te doen, maar daar gaan alternatiewe gesoek moet word om meer akkurate data te kry as die basis vir toekomstige navorsing.”

Mulder meen ook dit sal moontlik wees vir privaatgroepe om ʼn akkurate sensus van subgroepe in die land te doen, soos Solidariteit se eie sensus onder Afrikaners.

Mulder sê juis omdat hulle verwag het die gehalte van die sensus gaan swak wees, het Solidariteit reeds in 2022 sy eie “mini-sensus” onder Afrikaners onderneem. Dit sal nou gebruik word as “lens waardeur die sensus se skeeftrekkings reggetrek word”.

Hierdie data sal bekendgestel word as deel van die derde weergawe van Solidariteit se demografieprojek wat ná volgende jaar se nasionale verkiesing gepubliseer sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Elmarie ·

Op ons estate was sensus mense by slegs twee huise en, 90% mense hier is Afrikaanssprekend!!

James ·

Min mense is in Witbank dorp getel. Die Sensus mense het net op die straat hoeke rond gestaan

Petra ·

Dr Pali, ek het met dosyne swart, wit en kleurlinge gepraat, nie hulle of ek is getel nie. Die mense is weereens betaal vir werk wat hulle nie gedoen het nie

DieKriek ·

Niemand was in ons landelike gebied nie so ons klomp naby Moloto is beslis nie getel nie

Linq ·

Dis ‘n klug. Omdat ek nie my minderjarige kinders se e-pos adresse wou verskaf nie, was hulle nie op die sensus lys gesit nie. Dieselfde met my skoonma wat nie eers toegang het tot ‘n epos adres nie.

Suzette ·

Dit is maar net weereens ‘n bewys – daar is nie veel wat suksesvol hanteer word nie – belaglik!

Fontein Tannie ·

Ons is ook nie getel nie, nie my huis of my seun se huis of my dogter se huis nie. Ons het nie eens sensus mense sien rondstaan nie.

melaney ·

Ek lees gister vir die eerste keer dat daar ‘n sensus plaasgevind het.

Rooi rissie ·

Hulle vul net in wat vir hulle toepaslik is om op daardie vorm te sit en nie wat jy hulle antwoord nie. Soos ek wat Afrikaans sprekend is hulle het die kruisie langs die engelse blokkie gemaak. Dia n klug die hulle doen nie hulle werk reg nie. Begin maar om bekwame mense aan te stel wat die werk reg KAN doen hoor.

Andrew ·

Hoe kan hulle beweer dat daar by 98% van huisdeure geklop was? Plus hulle aan-lyn vorm ome self jou sensus besonderhede in te sleutel het nie gewerk nie! Ek moes vier keer probeer om ons inligting in te sleutel voordat dit uiteindelik gewerk het!
Koppe moet rol, die persone in beheer van die sensus was totaal en al onbevoegd!

Mieke ·

Hulle was ook nie by ons gewees nie. Ons bly in ‘n kompleks en daar was niemand getel nie.

Boatsie ·

Ek dink baie min wit Afrikaanssprekende mense het besoek gehad van die sensus mense. Hulle was nie eers in ons buurt nie. Daar kan nie staat gemaak word op die getalle nie.

Kaptein ·

Ek wil net noem dat tydens die senses opnames in die WesKaap in ons woongebied, het die persone wat die opnames moes doen,straat op en straat af geloop, met die een en Musick geluister wat hulle op hulle selfoon gehad het. Die een met die 1 oorfoon in haar oor en die ander 1 met die ander helfte, sonder om by een huis in die strate in te gaan of aandag te probeer trek . So het dit gegaan in meer as 1 straat in die area wat hulle moes dek. In ons straat alleen is ten minste 30 huishoudings nie getel nie. Lekker.. jy word betaal om niks te doen nie. Hulle was teenwoordigend van die grootste bevolkingsgroep in ons land.

kommentaar ·

Daar waar hulle vandaan kom word jy anyway betaal om niks te doen nie….

Johann ·

Wat het ons verwag? Daars letterlik niks wat NIE deur die onbevoegde onbekwame ANC kaders verwoes is nie.

annie ·

Dit was die fout van my lewe om op internet die sensusvorm in te vul om ‘n besoek te vermy en sodoende gou klaar te wees, want daarna is ek drie keer gebel om te verduidelik waar en woon en weer en weer die straataanwysings te gee omdat hulle dit nie kan vind nie… oor en oor…. want hulle volg glo die deelnemers op ‘n Google-kaart…. om seker te maak hul jok nie.

Jeanette ·

Genade maar hierdie regering kan ons ‘n vieslike rat voor die oe draai. As hulle nie eers die sensus kan baas raak nie wat laat jou dink die tel van volgende jaar se stemme sal vlot verloop. Ek se weer hulle moet op almal se fone dit aanlyn plaas sodat elke ou op sy foon kan stem. Buitelanders mag nie stem nie, mense in tronke mag nie stem nie. Daar is mos baie slim koppe wat so program kan ontwerp, so iets soos ‘n survey jy click net heeltyd, sit jou id in en siedaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.