Mafe ongeskik om verhoor te word

Zandile Mafe in die hof. (Foto: Facebook/ Zandile Mafe)

Zandile Mafe, die man wat daarvan beskuldig word dat hy verlede jaar se verwoestende brand by die parlementêre kompleks in Kaapstad gestig het, is nie geskik om verhoor te word nie.

Regter Nathan Erasmus het Maandag dié bevinding in die hooggeregshof in Kaapstad gemaak.

“Ek is van die mening dat mnr. Mafe nie in staat is om die verrigtinge te volg wat deel sal wees van ʼn behoorlike verdediging nie. Daarom stem ek saam met die kenners se getuienis en bevind ek – soos dit bekend staan in die algemene taal – dat hy nie geskik is om verhoor te word nie,” sê Erasmus.

Hy het verder gesê dokters het psigotiese spektrumversteuring, waarskynlik skisofrenie, by Mafe gediagnoseer.

Die regter het voorts terugverwys na Mafe se eie getuienis toe daar ʼn ondersoek gedoen is om sy verhoorgeskiktheid te bepaal.

“Ek het probeer om aandagtig te luister wat mnr. Mafe gesê het. Soms was ek nie seker wat hy bedoel het nie, ander kere was dit kristalhelder, maar ek gaan nie enige afleidings daaruit maak nie.”

Mafe het vroeër vanjaar twee verslae betwis waarin aanbeveel word dat hy nie ʼn geskikte kandidaat vir ʼn strafregtelike verhoor sal wees nie.

Hy is ná sy inhegtenisneming na ʼn distriksgeneesheer geneem om te bevestig dat hy nie aangerand of beseer is nie toe hy op die punt was om ʼn bekentenis te doen. Dr. Zelda van Tonder het toe paranoïese skisofrenie by Mafe gediagnoseer.

Op grond van haar aanbeveling het die staat aansoek gedoen dat Mafe in die Valkenberg- psigiatriese hospitaal opgeneem word. Dié bevel is later deur die destydse regterpresident, John Hlophe, onwettig verklaar.

Mafe se regspan het later weer gevra dat hy vir waarneming gestuur word, waarop hy vir 30 dae na die Fort England-psigiatriese hospitaal in die Oos-Kaap verwys is.

Erasmus het ook bevind dat Mafe nie in staat sal wees om hofverrigtinge te volg nie.

Mafe het in Julie vanjaar tydens ʼn uitbarsting in die hof erken dat hy die parlementsgebou aan die brand gesteek het en dat “hy dit weer sal afbrand tensy dit na Bloemfontein of Pretoria verskuif word”.

Sy advokaat het om uitstel gevra sodat ʼn psigiater van die verdediging se keuse met Mafe en die paneel van deskundiges kan konsulteer en ʼn verslag saamstel.

Albei verslae het tot dieselfde gevolgtrekking gekom, naamlik dat Mafe ongeskik is om verhoor te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Suzette ·

Geweet hy gaan niks oorkom nie.
Waarskynlik ‘n pion vir iemand met die groter plan (brand) gewees.

Johann ·

Ongelooflik!!!!!! So dis waarnatoe ons regs en vervolgings gesag oppad is. Jy verwoes onvervangbare historiese skatte…maar jys temal om te weet wat jy doen? En te MAL om vervolg te word???????? Hy speel PRESIES die handpop rol wat hy voorgesê word om te doen. KLUG!!!!!!

Seef ·

Daar is darem baie mal….. , ekskuus, versteurdes daar buite. Is dit nog veilig om jou huis te verlaat?

Debbie ·

Te mal om verhoor te word maar was slim genoeg om die daad te pleeg. Ons bly in lekker land

annie ·

Dié ou het darem maar ‘n groot klomp skade so op sy eie beplan en uitgerig. Alles klink nie so kosher nie. Hy was dalk net ‘n skerm en hulp vir ander se aksies.

Jaco ·

Interessante saak dié: as ek nou die ANC se denkpatroon volg, sou ek nou dink die brandstigter by die parlement was ‘n wit rassistiese man vol apartheid en wat reaksionêr en teen transformasie is.
En daar is die brandstigter toe sowaar een van die ANC se eie rasgenote…

Papsak ·

Ag hou jou net mal en jy word oor gesien vir alles wat jy verkeerd gedoen het hy was nie mal toe hy die plek gaan brand het nie toe was hy by sy volle verstand nou dat hy moet antw gee en moet boet nou is ons mal en siel siek shame hoe per toeval ne lekker land die !!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.